Ek lees vir my kinders voor uit die storie van die Israeliete by die Rietsee. Hulle ken reeds die breë trekke van dié verhaal: Die Here red die Israeliete uit Egipte en van die farao, maar kort daarna verander die Egiptiese vors van plan en sy soldate sit die Israeliete agterna.
Die Israeliete word teen die see vasgekeer: die water voor hulle; ses honderd strydwaens met goeie vegters agter hulle. Hulle begin twyfel aan hul besluit om Egipte te verlaat, en hulle begin twyfel aan die Here. Hulle vra hulle af: Was dit regtig Hý wat ons tot hier gebring het? En waarom het Hy dit gedoen?
Die Israeliete het angstig gewag op ’n woord van hul leier, en oplaas het Moses gesê: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eks 14:13-14).
Dit wat voor die Israeliete gelê het, het vir hulle onoorkomelik gelyk. Maar toe het die Here die onmoontlike gedoen, ’n wonderbaarlike plan gemaak.
Die uiteinde? Die enorme probleem wat voor hulle gelê het, is letterlik eenkant toe geveeg. En die probleem agter hulle is verswelg.
LEES OOK: God bevry ons van ons vrese vir dit wat ons kan sien
Die versoeking is groot …
Ek het ook al angstig gevoel wanneer die Here my in ’n nuwe rigting probeer lei. En wanneer ek probeer vorentoe gaan en dit lyk asof ek begin vordering maak, is dit asof my verlede op my afjaag, tot die tande toe bewapen. Dit voel asof ek nooit sal ontsnap nie. Die verlede is skrikwekkend; die toekoms vreesaanjaend.
Die versoeking is groot om, ten spyte van al die vordering wat ek reeds gemaak het, terug te draai na dit wat was. Is dit nie maar die maklikste uitweg nie? Dis my gemaksone. Dis voorspelbaar. Ek weet immers wat om te verwag, ek was reeds daar …
Ja, ek betrap my dikwels dat ek die verlede romantiseer, dat ek alles vergeet wat sleg was. Soms wil ek die Here vra waarom Hy my nou juis hiérheen gebring het, op hiérdie nuwe pad met al die nuwe uitdagings. En ek kom agter dat my vrees vir die onbekende dit oorskadu waarvan ek ontsnap het.
Dit bly fassinerend dat die Here nie vir die Israeliete ’n ompad gewys of gemaak het nie, dat hulle déúr hul probleem moes gaan. Daar was net een uitweg, daar was net die een manier waarop hulle, die bevreesde woestyntrekkers, die Here se mag kon begryp.
Die Israeliete moes leer dat die Here by jou is wanneer jy ’n pad deur jou probleme probeer vind. Dat Hy saam met jou gaan, dat Hy jou pad gelyk maak. Jy moet weet dat terugdraai nie ’n opsie is nie; jy moet eenvoudig vorentoe beur – treetjie vir treetjie deur jou see vol probleme. As jy aanhou en volhou, kan jy weet dat Hy intussen met die verlede se moeilikheid afreken. En jy bly behoue, veilig aan die oorkant.
Dis nie eenvoudig nie, maar wees rustig
Om ’n nuwe rigting in te slaan is selde eenvoudig. Jy staar dalk werkloosheid in die gesig, of ernstige siekte, of verhoudingsprobleme, of ’n finansiële krisis. Die pad vorentoe kan oorweldigend lyk, vreesaanjaend, terwyl die verlede se skaduwees steeds dreigend oor jou hang.
Maar jy kan rustig wees in die wete dat die Here jou lei. Selfs in die moeilikste tye en ellendigste situasies kan jy op Hom vertrou. Hy bly getrou. Hy is die Voorsiener. Hy is nie slegs by jou eindpunt nie; Hy is by jou terwyl jy reis, wanneer jy sukkel, as jy twyfel, en wanneer ’n oormag van alle kante af jou bedreig.
Die afloop van dié stukkie Mosesgeskiedenis is bekend. En troostend, en bevrydend. Hoor dan: “Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: ‘Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is die Here!’” (Eks 15:1-3).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.