Kersliedere en Kersversierings, kuier om ’n mooigedekte tafel wat kreun onder die kos. En geskenke in blink papier. Vir so lank ek kan onthou, was ek dol oor Kersfees.
Maar die afgelope klompie jaar word ek meer en meer bewus van die negatiewe impak wat ons Kersvieringe op ons planeet het.
Byvoorbeeld: Na raming verdubbel die hoeveelheid vullis wat ons tydens die Kersseisoen genereer en weggooi in vergelyking met dié in die res van die jaar.
Ek dink deesdae baie oor hoe ek my liefde vir Kersfees kan versoen met my liefde vir Moeder Aarde. Hieronder is ’n klompie van my voornemens. Kyk of jy daarby wil inskakel:
Idees vir ’n planeetvriendelike Kersfees
1. Maak jou eie geskenke
Kom vooraf met familie en vriende ooreen dat julle tuisgemaakte geskenke gaan gee. Tuisgemaakte geskenke is nie net goed vir die planeet nie; dit het soms groter betekenis as ’n geskenk wat inderhaas gekoop is.
Kook konfyt, of laat die kleinspan koekies bak. Tuisgemaakte lekkergoed is altyd ’n treffer. Daar is báie idees op die internet beskikbaar.
2. Gee eerder ’n “ervaring”
Koop ’n teaterkaartjie of ’n toegangsbewys vir ’n werksessie. Eerder as daardie geskenk wat die ontvanger dalk nie regtig wil hê of gaan gebruik nie.
3. Maak ’n skenking
Oorweeg dit om namens die ontvanger van jou geskenk ’n skenking aan ’n organisasie sonder winsbejag te maak. Jy kan altyd vooraf vra watter organisasies haar of hom na aan die hart lê.
4. Kwaliteit bo kwantiteit vir ’n planeetvriendeliker Kersfees
Indien jy kies om geskenke te koop, koop dan minder wat langer gaan hou. Dit geld veral wanneer jy vir kinders geskenke koop. Vermy goedkoop plastiekspeelgoed wat gou-gou gaan breek en onvermydelik weggegooi gaan word.
Oorweeg eerder speelgoed wat van hout of lap gemaak is. Baie speelgoed, onder meer blokkies en selfs fietse, kan tweedehands aangeskaf word.
5. Geskenkpapier en linte
Die blink geskenkpapier en die kleefband en plastieklinte wat ons gebruik om geskenke toe te draai, is nie herwinbaar nie. Dit beteken dat dit op stortingsterreine beland, waar dit jare duur om afgebreek te word.
Ons gesin het gevind dat geskenksakkies of stukke lap (wat opgevou en weer vir volgende jaar gebêre kan word) wonderlike alternatiewe is vir die bondels en bondels papier wat ons elke jaar weggooi.
Vervang daardie kleefband met lap-linte. Nie net laat dit enige pakkie mooi lyk nie, dit kan ook oor en oor gebruik word.
Glasbottels sorg vir oulike houers vir tuisgemaakte koekies en lekkergoed. Asook kartonboksies soos dié waarin jy byvoorbeeld klein tamaties koop.
Indien jy graag jou geskenke in papier wíl toedraai, oorweeg koerantpapier. Of bruinpapier, sonder die plastieklagie.
6. Versierings en verpakking
Oorweeg dit om Kersversierings te koop wat jaar ná jaar gebruik kan word. Of maak jou eie. Sê “nee, dankie” vir plastiekverpakking deur jou Kersfees-kruideniersware by weeg-en-betaal-winkels te koop. Oorweeg gerus aanlyn winkels soos The Refillery en The Unwrapped Co.
7. Minder is meer
Ek dink die bekende argitek Ludwig Mies van der Rohe se spreuk “minder is meer” is nie net ’n goeie lewensleuse nie, maar ook ’n goeie riglyn wat ons Kerstafel betref.
Hierdie jaar gaan daar nie net minder kos op my Kerstafel wees nie (het ’n mens regtig drie soorte vleis nodig?); daar gaan ook eenvoudiger gedek word. Lapservette, ’n klompie inheemse blomme en tuisgemaakte Kersklappers sal vir ’n eenvoudige dog feestelike tafel sorg.
13 Planeetvriendelike Kersfees geskenke:
#1 Die Bella-handsakkie is die perfekte geskenk vir enige handsakliefhebber. Nie net is dié handsakkie van die WWF modieus nie, dit word uit herwinde PET-bottels gemaak. Loer gerus by hul aanlyn winkel.
#2 ’n Reisbeker is ’n wonderlike geskenk vir die koffiedrinker in jou lewe. Ecoffee Cups se herbruikbare wegneembekers word van die wêreld se vinnigsgroeiende, mees volhoubare plant gemaak – bamboesvesel.
Dié bekers is in ’n verskeidenheid helder kleure en prettige, eietydse patrone beskikbaar. Daar is ook ’n baie oulike reeks vir kinders.
Dis beskikbaar vanaf R180 by ecoffeecup.co.za.
#3 Jy kan my geen beter geskenk as ’n praktiese een gee nie. Lapdeksels is ’n wonderlike alternatief vir kleefplastiek en dis die ideale geskenk vir die onthaler in jou lewe. Dié deksels werk uitstekend om slaaie en bakke oorskietkos mee toe te maak.
Hulle is in verskeie groottes, vorms en ontwerpe beskikbaar en kan by halodishcovers.co.za gekry word. Laasgenoemde se produkte word met die hand gemaak en dit verskaf werk aan baie mense in en om Kaapstad.
Pryse wissel tussen R125 vir een, tot R459 vir ’n stel.
#4 Bederf iemand deur namens haar of hom in te teken op die e-publikasie van ’n gunstelingtydskrif of koerant. ’n Oudioboek is ook altyd ’n treffer. Teken op die digitale LiG in by www.magzter.com
# 5 Knock-a-block is die ideale geskenk vir kinders wat 18 maande en ouer is. Dié stel houtblokkies bevorder nie net belangrike tas-vaardighede nie, maar moedig ook verbeeldingryke spel aan. Die stel bestaan uit 9 houtblokkies, 30 houtstokkies en ’n houthamer.
Dis beskikbaar by stumped.co.za teen R335.
#6 ’n Doen-dit-self-pakkie is ’n lekker geskenk, veral vir kinders. The Refillery het ’n verskeidenheid doen-dit-self-koekiemengsels in glasbottels beskikbaar.
#7 Om ’n tuisgemaakte geskenk te ontvang, is ’n groot bederf – of dit nou tuisgebakte beskuit of koekies is, of tuisgemaakte konfyt. Wanneer 16 Desember aanbreek en alles begin rustiger word, is dit vir my lekker om lekkergoed vir almal se Kerskous te maak.
#8 Ek gee graag vir die kosmakers in my lewe ’n resepboks as geskenk. Ek soek ’n interessante resep en pak van die resep se bestanddele saam in ’n mooi houer of ’n boks. Dis altyd ’n groot treffer!
#9 Kursusse en werksessies is ’n wonderlike “groen” alternatief vir tradisionele Kersgeskenke.
Daar is verskeie moontlikhede: Kosliefhebbers sal Babette se broodkursus (babettesbread.co.za) of Grootplaas se kaasmaakkursus (grootplaascheeseacademy.com) geniet. En Tessa’s bakery (Tessasbakery.co.za) en Julie cake studio (Juliecakestudio.co.za) se bak-werksessies sal vir groot pret sorg.
Die kunssinniges se Kerskous kan ’n geskenkbewys vir vosenink.co.za se waterverfwerksessie kry. Soek gerus na soortgelyke geskenke in jou omgewing.
#10 Plante sorg vir fantastiese geskenke. As jy die plantjie self uit saad of van ’n steggie gekweek het, is dit nóg beter.
Jy kan ook kreatief raak met die houers waarin jy die plante gee – verf of modge podge ’n pot, of maak gaatjies in ’n ou koek- of koffieblik en plant kruie daarin.
Kruieplantjies in ’n ou koekblik sorg vir ’n spesiale geskenk.
#11 Pak jou gesin se geskenke in ’n herbruikbare inkopiesak en gee dit as deel van die geskenk. Ek is gaande oor die inkopiesakke van herwinde advertensieborde.
Dis beskikbaar by upcycle.co.za
#12 As jy op soek is na ekovriendelike geskenke vir die kleinspan, loer gerus by myecosprout.com. My Eco Sprout het baie oulike produkte wat kinders van kleins af leer tuinmaak. Ek is gek na hul Strawberry popcorn-stelletjie wat voornemende boere en tuiniers help om hul eie rooi mielies te plant en uiteindelik springmielies daarvan te maak.
Dit kos R88.
#13 Die WWF het onlangs ’n reeks T-hemde vir volwassenes en kinders bekendgestel. Al die hemde word van herwinde plastiekbottels gemaak.
* Ds Fay van Eeden is ’n vryskutskrywer en ’n blogger wat oor volhoubaarheid skryf. Volg haar op Facebook en Instagram by @enroutefoodie vir meer eko-wenke en resepte.
Lees gerus ook ons artikel oor gesonde gesinsrituele.