Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons gaan nie wag vir ‘eendag’ … en dan is dit te laat nie,’ vertel gesin wat ’n jaar lank kamp

DEUR CONETTE LE ROUX

“Ons weet nie hoeveel tyd die Here ons nog op hierdie aarde gun nie. En ons gaan nie wag vir ‘eendag’ … en dan is dit te laat nie.

“Nee, dit pas dalk nie in almal se raamwerk nie, maar ons weet in ons hart ons doen wat reg is vir óns. Ons weet ons voornemens vir die jaar is reg. Dit gaan dalk nie altyd maklik wees nie, maar ons vier kan saam enige iets doen. God het groter planne vir ons.”

‘Ons wil nóú ons droom leef’

Martie Prins sit in haar kampstoel op Hartenbos en vertel waarom sy en haar gesin die dapper stap geneem het om die hele jaar lank rond te reis en uit te kamp.

Op 11 Januarie vanjaar het Marius (34), Martie (36) en hul kinders Bertus (7) en Cara (5) in hul Prado geklim, hul kampwa op sleeptou, en hul huis op Struisbaai vir huurders agtergelaat. So het hulle, soos hulle dit stel, “op die avontuur van ’n leeftyd” vertrek.

\’n Fotosessie net voor die Prinse op “die avontuur van \’n leeftyd” vertrek het. Foto verskaf

Dit was aanvanklik bloot ’n droom vir die toekoms, maar veral twee dinge het die Prinse laat besluit om nie langer te wag nie. “Ons groot droom was nog altyd om, wanneer die kinders klaar is met skool, deur Afrika te toer. Maar die Covid-19-pandemie het ons siening oor die lewe verander.

“En verlede jaar Junie het ons drie weke lank in Namibië getoer. Dit het ons lewe só verander! Ons het teruggekom en besef ons is moeg vir die gejaag na geld, en na ‘eendag’. Ons wil nóú ons droom leef.

‘Moenie vir kanker wag om God te leer ken nie,’ sê man ná kankerstryd

“Ons het ook gehoor van so baie mense wat wag om af te tree – en dan word hulle siek, of ’n lewensmaat sterf.”

Al die baie voorbereidings

Martie is ’n skoonheidsterapeut wat haar essensiële olies-onderneming so toer-toer bedryf. Sy vertel die voorbereiding vir hul huidige avontuur het vyf maande geduur. “Dit het báie geverg. Marius het sy restourasie-onderneming ná twee jaar se gesukkel verkoop gekry. Ons het my kar verkoop. Ons het alles verkoop wat onnodig was.

“Ek het nooit gedink ek en my man sal saam skoollesse beplan nie,” lag Martie. Vanjaar is Bertus in Graad 2 en Cara in Graad R. Foto verskaf

“Ons het ’n stoorkamer by die huis, en het besluit dat dit wat nie dáár kan inpas nie verkoop moet word. Ons wil nie betaal vir bêreplek nie. Ons het huurders vir die huis gekry. Ons het ons DSTV-intekening gekanselleer en ’n meer bekostigbare mediese fonds gesoek.

“Marius het die voertuig vir die jaar se rondry ingerig. Hy het byvoorbeeld laaie ingebou waar die tuisonderrigboeke gebêre word. Hy het ook ’n daktent vir die kar gebou.

“Ons moes ’n klompie ekstra dinge aankoop, omdat ons ’n hele woning in ’n kampwa moes indruk – ’n skootrekenaar, ’n wasmasjien, ekstra tafels, ’n GPS, ons Tracks 4 Africa-boek, ’n 12v/220-kragstelsel wat die internet kan hanteer.”

Nie goedkoop nie

Om die finansies te laat klop, was ’n uitdaging: “Ons het minstens drie keer byna moed opgegee. Maar toe het ons eenvoudig nuwe planne gemaak.”

Martie vertel hoe vasbeslote Marius was om hul plan te laat slaag. “Hy was moeg vir die spanning by die werk, en vir die elkedagse roetine. Hy het ’n rustiger jaar báie nodig gehad.”

Die huurinkomste sowel as die verkoop van Marius se onderneming gaan hulle help om die pot aan die kook te hou. Hulle werk streng volgens hul begroting, vertel Martie, en hulle wil skuld ten alle koste vermy.

“Ons moet ons so af en toe daaraan herinner dat daar geen haas is nie, dat ons maar ’n bietjie kan wag,” vertel Martie. Foto verskaf

Om kampeerplek te huur, is egter nie goedkoop nie. “Daar is nie juis afslag vir ’n gesin wat lank vertoef nie. Jy moet ’n pensioenaris wees, of slegs twee persone. Ons betaal tussen R330 en R600 per dag. Dis natuurlik perfek vir ’n naweek; 30 dae is ’n ánder storie. Maak maar die som – dis tussen R9 900 en R18 000 per maand. En dit om te kamp!

“Gelukkig het ons ook ’n paar wonderlike plekke gekry wat wel afslag bied vir ’n gesin. Daaroor is ons baie dankbaar.”

‘Ons moet ons daaraan herinner dat tyd nie ’n faktor is nie’

Nog ’n uitdaging is om hul kinders daarvan te oortuig dat dié nuwe lewe nie ’n vakansie is nie. “Hulle is in vakansie-modus: Hulle wil elke dag roomys eet, speelgoed koop en na die een of ander park of lekker plek gaan!”

Maar dis seker verstaanbaar dat Bertus en Cara dink hulle is met vakansie, want hulle het nou die voorreg om elke middag, ná die dag se tuisonderrig, saam met hul ouers te swem of in die natuur te ontspan. “En elke aand luister ons musiek, en dan dans die kinders om die braaivleisvuur,” vertel Martie.

Vir Martie en Marius is die heel lekkerste van hul avontuur dat tyd nie ’n faktor is nie. “Ons moet ons so af en toe daaraan herinner dat daar geen haas is nie, dat ons maar ’n bietjie kan wag. En Marius se selfoon wat minder lui, is heerlik, want dit beteken daar is nie meer spanning nie.

“Dis ook opwindend om te weet dat ons volgende week op ’n nuwe plek gaan wees, en dat daar nog sóveel plekke is wat wag om verken te word.”

‘Ons wil ons leefwyse in ’n nuwe rigting stuur’

Met ons gesprek was Victoriabaai die Prinse se volgende bestemming. Daarna is hulle op pad na die Wildekus, en dan weer terug na Baviaanskloof.

“En in Mei pak ons ’n roete deur die Karoo aan, saam met my broer en ouers. Dan wag Namibië en Botswana. Ons beplan nie te ver vooruit nie. As ons van nuwe plekke hoor, wil ons gaan kyk. En as ons nie van ’n plek hou nie, wil ons verder gaan.”

Martie en Marius het die woord “reroute” gekies om hul koers te bepaal vir die jaar wat voorlê. “Ons wil nuwe roetes verken. Ons wil ons leefwyse in ’n nuwe rigting stuur. Ons wil meer fokus op wat vir ons belangrik is: familie, vriende en ervarings. Ons verkies minimalisties. Ons wil meer tyd in die natuur deurbring, ons wil beter eet, ons wil oefen.

“En, laaste maar nie die minste nie, ons wil ’n nuwe plekkie vind waar ons weer ons wortels kan begrawe.”

  • Deel jou getuienis met LiG. Stuur jou storie van hoop in sowat 800 woorde na lig@tydskrifte.co.za en onthou om foto’s by te voeg.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF