Onlangs hoor ek oor die radio hoe ’n inbeller vertel dat sy besig was om haar dogtertjie se tas te pak toe dié kind kom ondersoek instel. Terwyl die mamma die klere inpak, verduidelik sy dat sy ekstra stelle klere inpak “vir ingeval”…
Toe hardloop die kind na haar pa toe, hewig ontsteld. Huil-huil sê sy: “Ek wil nie meer met vakansie gaan nie! Ek wil nie my goed vir ingeval gee nie! Ek hou van my goed!”
LEES OOK: Die vrae wat ons in krisistye vra
Wat ’n mooi storie – snaaks, vol kinderlike onskuld en vol waarheid. Want dit het my laat dink aan hoeveel dinge ons “vir ingeval” doen. Ons gryp baadjies vir ons en vir die kinders, ingeval dit koud word. Ons pak allerlei eetgoedjies in, ingeval ons honger word. Ons sorg dat ons ’n klomp kontant in ons beursie dra, ingeval ons dit dalk nodig kry. Ons handel takies af, ingeval ons môre nie tyd daarvoor kry nie. Ons koop onnodige kruideniersware, ingeval daar daarvan dalk nie meer by die huis is nie. Ons klou vas aan ’n werk en ’n dorp, ingeval daar niks beters vir ons is of ooit sal wees nie.
Ja, ons is onophoudelik besig om voorsorg te tref.
En dit is slim om so te wees en sulke dinge te doen. Maar die gevaar bestaan dat ons ons op dié manier oorlaai, dat ons gans te veel dinge met ons saamdra, bloot ingeval ons dit dalk nodig kry. Daar is ’n fyn balans tussen voorbereid wees en sonder ophou bekommerd wees. En dalk is ons so besig om voorsorg te tref dat ons nie regtig teenwoordig is in die huidige oomblik nie.
Jesus se opvattings hieroor moet ons twee keer laat dink. Wanneer Hy met sy volgelinge oor die lewe se sorge praat, sê Hy: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet of drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die voëls van die hemel: Hulle saai nie, hulle maai nie en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer een el by sy lewe voeg?” (Matt 6:25-27).
Die lewe, sê Jesus, is belangriker as ons bekommernisse daaroor.
Jesus weet dat ons vergeet om te lewe wanneer ons deurentyd besig is om te beplan, ingeval iets lelik skeefloop. Ons lewe in die toekoms en dit maak ons angstig en bekommerd. Ons tasse is vol gelaai met al die dinge wat ons saam met ons sleep, ingeval die noodlot ons tref.
En die meeste van die dinge waaraan ons so swaar dra, kry ons nooit nodig nie. Jesus sê dat dit ongelowiges is wat tot so ’n mate met toekomsbeplanning besig is dat hulle regtig nie kans sien om te glo in ’n hemelse Vader wat voorsien, wat weet wat hulle nodig het nie.
Dit laat ’n gelowige oor ’n paar dinge wonder, onder meer wat dit beteken om te lewe. En oor die toekoms wat dikwels die vreugde van hiérdie oomblik steel. Want dit is so: Al wat ons regtig het, is nou. Elke teugie asem wat ons in- en uit blaas, is ’n geskenk. Môre is nie gewaarborg nie en ons kan nie die toekoms voorspel nie.
Dalk is daar heeltemal te veel dinge wat ons met ons saamdra, ingeval die toekoms ons onaangenaam verras. Dalk mis ons op dié manier die vrede en vreugde wat vandag meebring. Soms moet ons doodeenvoudig léwe, en wanneer môre se probleme opduik, dit dan hanteer. Want dikwels is ons grootste uitdaging iets wat ons glad nie sien kom het nie, iets wat ons nooit sou kon voorspel nie. Inderdaad, die groot probleme wat eensklaps opduik, betrap ons meestal onkant. Ons sal nooit daarop voorbereid kan wees nie. En al ons bekommernisse sal ons heeltemal niks daarmee help nie.
Wanneer jy op ’n staptoer vertrek, pak jy lig, want jy weet dat jy alles wat jy inpak self sal moet dra. Ons weeg bepaalde items teen mekaar op om doodseker te maak ons kry die beste moontlike waarde per gram.
In ’n wêreld vol onsekerhede, met die media en sosiale media wat voortdurend vrese aanwakker en mense aanmoedig om hulle vir elke denkbare en ondenkbare onheil voor te berei, volg gelowiges ’n ander weg: die pad agter Jesus aan op ’n reis van geloof en vertroue.
En bêre tog dié Jesuswoorde diep in jou hart: “Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (Matt 6:34).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.






















