Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Sendeling oor dogter se maagkanker: ‘God sal deur haar getuienis verheerlik word’

“Ek het net gehuil en gehuil,” vertel die sendeling en skrywer Michele Potgieter oor die bitter nuus wat hulle in Desember 2024 gekry het: Haar pragtige 23-jarige dogter Mari-Alena se maagwand was so oortrek met kankerselle dat die dokters gesê het sy het nie meer lank om te leef nie.

Michele lei ’n gemeente in Reni, ’n hawestad in Oekraïne. Sy noem dié plek huis, sedert sy en haar man Ockert byna 30 jaar gelede as sendelinge daarheen gegaan het. Ockert is in 2021 aan komplikasies ná Covid-19 oorlede, terwyl hy en Michele in Suid-Afrika was. Destyds was daar reeds sprake van oorlog tussen Oekraïne en Rusland, maar Michele het teruggegaan. Sy glo vas dit is waar die Here haar wil hê.

Michele was in Suid-Afrika om haar visum te hernu toe Mari-Alena ernstig siek geword en hulle die nuus gekry het dat sy Burkitt se limfoon het. Dis ’n seldsame maar aggressiewe soort kanker, wat in haar maag begin het. Die dokter het hulle ingelig dat die kanker reeds so ver gevorder is (fase 4) dat daar slegs ’n vyf persent-kans is dat sy dit sal oorleef. 

Die CT-skandering het uitgewys dat haar hele maagwand met kankerselle oortrek was, en sy het geweldige pyn verduur. Michele sê dit was vir haar báie erg om haar dogter so te sien ly. “Ek het regtig gedink ek gaan haar verloor, en ek kon nie verstaan hoe dit kon gebeur nie.”

Michele Potgieter saam met haar dogter Mari-Alena in die hospitaal waar sy chemoterapie ontvang. Michele, ’n sendeling in Oekraïne, het in 2024 haar getuienis met LiG gedeel nadat haar man gesterf het. Foto verskaf

Die aand ná die diagnose het sy niks geslaap nie; sy het die hele nag omgehuil. Michele vertel sy kon nie verstaan hoekom haar dogter dit alles moes deurmaak nie. Maar die volgende oggend kom dié woorde na haar toe aan: “If not for my glory.”

Sy hou vas aan die Here se belofte, en vertel: “Die Here het net vir my gesê sy sal nie hierdeur gaan as Hy nie deur haar genesing verheerlik word nie. Deur haar getuienis.”

LEES OOK: ‘Die Here het my van vrees vrygemaak,’ vertel vrou wat voortgaan met werk in Oekraïne ná haar man se dood

Michele sê van daardie oomblik af het sy geweet die Here sal Mari-Alena genees. Trouens, sy glo haar dogter is reeds genees. “Ek glo dat Jesus reeds vir al die lyding en siekte aan die kruis gesterf het, dat dit volbring is.”

Hulle kan reeds sien dat die gewas om haar maag begin krimp, dermate dat sy kon huis toe gaan en kos inneem.

Mari-Alena se hele maagwand was oortrek met kankerselle en sy het geweldige pyn verduur. Hier ontvang sy chemo. Foto verskaf

Tydens hierdie moeilike tyd was haar dogter se geloof vir Michele wonderlik. Sy vertel hoe Mari-Alena, ’n kleuterskoolonderwyseres op Stellenbosch, voor sy siek geword het met ’n waterverfskildery begin het. Dis van ’n vrou wat haar haar hande na die soom van Jesus se kleed uitsteek.

En terwyl Mari-Alena in die hospitaal was, het sy verder daaraan gewerk. Sy het vir haar ma gesê: “Mamma, ek hou net aan Jesus vas. Ek is nie bang nie, dit is Hy wat al daai kankerselle laat doodgaan.” 

Dit is vir Michele asof God vooraf reeds alles in hul plek geplaas het, soos die stukkies in ’n legkaart. Die regte mense was op die regte plek, nog voordat hulle daarvoor gevra het. 

So was sy betyds terug uit Oekraïne om haar dogter te kon ondersteun. Hulle het nie ’n mediese fonds óf die geld vir ’n private hospitaal nie, maar God het só voorsien dat Mari-Alena na een kon gaan toe sy so siek geword het. 

Mari-Alena is ’n kleuterskoolonderwyseres op Stellenbosch.

Tans ontvang Mari-Alena ’n tweede ronde chemoterapie by ’n staatshospitaal. Hieroor ervaar Michele slegs vrede. “Ek kan maar net sê die Here is getrou. Hy is altyd goed, ongeag wat ons deurmaak. Al gaan ons deur diep waters, weet ek dat Hy alles vir ons ten goede sal laat meewerk. Dat Hy daardeur verheerlik sal word.

“En dit is al wat ek vra: dat Hy in alles en deur alles verheerlik word.”

Dié getuienis verskyn ook op ons susterpublikasie Kerkbode se webwerf.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►