Sy was stukkend ná haar man Ockert se dood. Hy was haar beste vriend.
Michele Potgieter se eerste gedagte was dat sy nie sonder hom na Reni kon terugkeer nie, die hawedorpie in Oekraïne waar hulle ’n gesin begin het. Waar hulle in die loop van 27 jaar ’n gemeente, ’n kleuterskool en ’n huis vir swanger vroue opgebou het.
Ockert is in Oktober 2021 aan Covid-19 dood terwyl hulle met vakansie in Suid-Afrika was. Terwyl sy die oggend ná sy dood voel asof sy in ’n diep put is, hoor sy in haar binneste hoe die Here aan haar sê: “Michele, Ek is naby dié wat gebroke van hart is. Ek tel jou op en maak jou heel en sterk. Ek stuur jou terug na Oekraïne om die werk wat daar begin is klaar te maak. Ek sal by jou wees …”
Só skryf Michele in haar boek Sonneblomme & Sneeu in Oekraïne oor daardie oggend toe sy besluit het om terug te keer, al het sy geweet die Russe is op die punt om Oekraïne in te val.
LEES OOK: My weduwee-reis: Van Godverlate tot dankbaar en dansend
Dis meer as 500 dae later, die oorlog woed onverpoos voort – maar dis waar sy wil bly. “Ek wil in Reni en die oorlog bly solank as wat die Here my hier wil hê,” skryf die 51-jarige vrou, wat eens ’n semi-finalis in die Mej Suid-Afrika-kompetisie was. Sy vertel in haar boek hoe haar sukses met modelwerk en skoonheidskompetisies op ’n dag nie meer vir haar belangrik was nie. Sy het oor sendingwerk begin droom, en ’n paar maande later vir Ockert ontmoet. Die lang, aantreklike donkerkop wat sy hart op die mense van Reni verloor het.
Uitdagings was daar baie. Michele vertel in die boek hoe ysig koud die winters is, tot minus 24 grade Celsius. En baie huise het nog puttoilette buite en is sonder badkamers.
Die KGB en mafia
Hulle moes boonop vinnig leer Russies praat en skryf. Die KGB was agterdogtig en het gedink hulle is spioene. Hulle is een aand selfs deur vyf mans van die plaaslike mafia aangehou en met die dood gedreig.
Michele en Ockert se storie gryp mense aan. Michele het onlangs in Suid-Afrika aangekom om die boek bekend te stel, en haar program is vol. Die dag ná ons gesprek sou sy Pretoria toe vlieg, waarna verdere boekbekendstellings sou volg by gemeentes regoor die land wat haar ondersteun.
Sy het ook reeds op verskeie nuusprogramme verskyn om regstreeks te vertel hoe die oorlog haar en die mense van Reni raak.
Op die vraag of sy nie bang was toe die oorlog uitbreek nie, vertel sy dat toe die nuus kom dat die eerste bomme val, sy saam met die mense van hul kerk gebid het. Toe het sy begin om al die kos in haar huis bymekaar te maak en warm sop te kook om aan die vlugtelinge by die grens uit te deel. Dié was meestal vroue en kinders, want die Oekraïense mans moes gaan veg.
“My jongste seun het gesê: ‘Mamma deel al ons kos uit!’ Maar ek het net gesê die Here sal voorsien; ek weet nie hoe nie, maar Hy sál sorg. En Hy het, tot vandag toe.”
Ons gesels in ’n besige restaurant. By haar is hul enigste dogter, Mari-Alena, wat graag volgende jaar in onderwys wil studeer. Die vier seuns bly die wêreld vol.
Ure in ’n ry vir een brood
Michele en lidmate van hul gemeente maak elke dag kos vir mense wat uit gebiede vlug wat gebombardeer word. Daar is nou reeds duisende vlugtelinge in Reni. Die inwonertal het feitlik verdubbel.
Baie van hierdie vlugtelinge word na hul kerk verwys om ’n warm ete te kry, maar hulle help ook met klere en blyplek as dit moontlik is. Michele ontvang skenkings van vriende in Roemenië en sy kan ook aankope doen met donasies uit Suid-Afrika.
In Reni self is daar egter min kos te koop. Mense wag ure in ’n ry vir ’n brood of ’n sakkie meel.
Die meeste van die mense wat by hulle aankom, het alles verloor – familielede, besittings, hul huis. Sommige is kwaad vir God. Michele vertel hoe sy en die kerk se mense ’n warm bord kos aan die vreemdelinge voorsit. Hoe hulle dan by dié mense gaan sit. Met hulle gesels. Na hulle luister. Saam met hulle bid.
Sy vertel van die sigbare verskil wat hierdie belewenis van warmte en medemenslikheid maak. Vir die vlugtelinge, maar ook vir haar.
Soms is die gemis na Ockert so groot dat sy haar saans aan die slaap huil, vertel sy. “Maar soggens voel ek die Here se teenwoordigheid so sag by my, het ek hierdie stil wete dat Hy met my is. Sy Woord sê Hy is naby die gebrokenes van hart – en ek kan regtig getuig dat Hy naby is.”
Daarom het sy die vrymoedigheid om vir die mense wat alles verloor het te vertel sy weet hoe dit voel asof jy in ’n donker put is, asof jy nie krag het vir môre nie. Sy vertel hulle daar is hoop. Soms duur dit maande om hulle te oortuig – maar dan sien sy die verskil op die gesigte: Hulle het weer in ’n toekoms begin glo.
Is sy nie bang Reni word aangeval nie?
Michele vertel sy en Mari-Alena het gesien die eerste lugaanval het plaasgevind terwyl hulle op die vliegtuig op pad na Suid-Afrika was. Dit maak haar egter nie bang nie; sy wil teruggaan, as dit die Here se wil vir haar is. Die Here het haar reeds jare gelede van vrees vrygemaak.
- Michele beplan om in Oktober terug te gaan. Sonneblomme & Sneeu in Oekraïne word deur Lux Verbi uitgegee. Dit kan ook by Bybel-Media se aanlyn boekwinkel bestel word.