Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Smaakmaker Denétjie oor haar stryd met angs en depressie: ‘Almal is nie so perfek soos wat dit lyk of klink nie’

Die sprankelende Dené Lindeque-Fouché is veral bekend vir haar kort, komiese video’s op sosiale media. Sy het egter onlangs by ’n donker plek gaan draai. Hier praat sy openhartig oor haar stryd met angs, slapeloosheid en depressie, en sy waarsku teen die invloed van sosiale media.

“Op 12 November het ek my eerste angsaanval beleef. Dit het onverwags gebeur; ek was reeds in die bed toe ek gevoel het ek kan nie asemhaal nie. My hart het baie vinnig geklop. En hoe meer ek probeer het om te ontspan en aan die slaap te raak, hoe erger het dit geword.”

Hoe erg dit was, blyk uit die res van haar vertelling: “In hierdie tyd het my ouers my vir ’n wegbreekkansie Knysna toe genooi. Ek wou graag gaan. Maar toe ek eers daar was, was ek nie aangename geselskap nie. Ek was dikwels ‘afwesig’.

“Die ander se vrolikheid het my intens geïrriteer. Ek het toe reeds besef dat daar iets met my verkeerd is. Ek het myself immers as ’n vrolike en sosiale mens beskou, veral waar my familie teenwoordig is.”

Knaend hartseer

Terug by die huis het sy haar behoefte aan alleenwees met haar gesin bespreek. Sy wou ook met haar ma oor haar gemoedstoestand praat, sê sy, maar sy kon nie regtig verwoord hoe sy voel nie. Sy het net geweet sy is knaend hartseer.

“Ek het baie gehuil,” vertel sy. “Ek het my afgesonder van almal wat my liefhet. Wanneer ek wel oor my angsaanvalle gepraat het, was daar sommiges wat gesê het ek moet net ontspan. Dié ‘raad’ het dinge vererger.

“Angsaanvalle is traumaties, en dis ’n teken dat iets op ’n psigiese vlak verkeerd is. Ek het self ook nie die erns daarvan besef nie. Maar ná so ’n stuk trauma het ek telkens lank gesukkel om soos vroeër te funksioneer.

“Die eerste tekens van my probleme was die algehele isolasie: Ek het ure lank in my kamer deurgebring, alleen. My kêrel het ook deurgeloop. Ek het hom weggestoot omdat ek gevoel het ek is nie goed genoeg nie.

LEES OOK: Depressie en selfdood by tieners: ‘Daar is altyd hulp, daar is altyd hoop – maar jy móét daaroor praat’

“Hy het my nooit verwyt nie. Hy het my nooit ongelukkig gemaak nie; ek was in myself ongelukkig. Ek reken hy het ook swaargekry.”

Die res van haar gesin het, volgens haar, onder haar uitbarstings gely. Sy vertel dat dit die mense is wat nog altyd die spil was waarom haar lewe gedraai het. Eensklaps het sy net niks gevoel nie. Al wat sy intens beleef het, was die gevoel dat sy nie daar wou wees nie.

“In hierdie tyd het my kêrel my ’n boek van Joyce Meyer gegee, The battlefield of the mind. Dit het my baie gehelp, veral dié kere wanneer ek dit reggekry het om te konsentreer.

“Elke dag het egter uitdagings meegebring. Ek het my telkens dieselfde dinge afgevra: ‘Sal ek vandag weer gelukkig voel? Wat het van Dené geword? Waar het my binneste weggeraak?’”

‘Daar was net ’n dop oor’

“Op skool het ek altyd volgens my volle potensiaal presteer. Ek was onderhoofmeisie op laerskool en op hoërskool. My vlerke was wyd gesprei. Ek het aan alles deelgeneem en my lewe in overdrive geleef. Ek kon altyd maklik lag.

“En toe was dit weg. Daar was net ’n dop oor van wie ek eens was. Dit was ’n alleenpad …

“Die insomnia was fisiek gesproke uitmergelend. Ek sou soms dae aaneen nie slaap nie – en dan ’n week lank aanhoudend slaap. Ná so ’n episode het ek gewoonlik beter gevoel.

“Dit was in dié tyd dat ek op sosiale media vertel het dat dit nou beter gaan en dat ek tans ’n aanslag van die duiwel beleef. Dit was ’n positiewe boodskap, ook oor my geloof wat sterk is. En dat ek nog nooit so na aan die Here was nie.

“Die aand ná hierdie vertelling het ek ’n terugslag beleef: Ek kon ’n volle vyf dae lank nie slaap nie. Dit het aan my bevestig dat dit ’n aanslag op my geloof was.”

‘Kom haal my, Here!’

In die tyd wat sy so lank sonder slaap moes klaarkom, moes sy eksamen skryf. Sy het ook haar debuut as seremoniemeester by ’n groot funksie gemaak. En daardie einste naweek was sy betrokke by ’n ATKV-opname vir ’n sosiale media-reeks.

Twee dae voor haar seremoniemeester-debuut het sy in haar joernaal geskryf dat die Here haar moet kom haal. Sy was fisiek, geestelik en emosioneel uitgeput. “Maar al het ek na God geroep om my te kom haal, sou ek myself nooit seermaak nie.

“Wat depressie en angs so uitdagend maak, is dat niemand daaroor praat nie. Almal lyk altyd so gelukkig op sosiale media … En geestesgesondheid kom nooit ter sprake nie. Maar ek het van buite af op myself en my lewe ingekyk en ‘anders’ gevoel, ver verwyder van alles en almal.

“In hierdie moeilike tyd het ek ’n beurs losgeslaan – deur die Here se genade en ten spyte van die skynbaar nimmereindigende insomnia.

“Uiteindelik het ek besef ek het mediese hulp nodig. Ek is met ’n akute angsstoornis en slapeloosheid gediagnoseer. Dit het tot depressie aanleiding gegee.”

Al die druk …

“Daar is soveel druk op jong meisies en op hoe hulle lyk. Juis dit kan jou emosionele welstand nadelig raak. Ek was aan hierdie soort druk blootgestel.  Ek het geglo dat ek die perfekte lyf moet hê om aanvaar te word. Rietskraal meisies was toe my rolmodelle.

“Vandag wil ek graag ’n smaakmaker wees met ’n gesonde liggaamsbeeld. Gesondheid is vir my baie belangriker as my gewig. Daar is inderdaad estetiese uitdagings, maar mense knak dikwels onder angs en depressie.

“Niemand is perfek nie. Allermins ek. Ek het besluit om voortaan goed te kies wie ek in my kring wil toelaat, asook wat ek lees en waarna ek kyk. Ek beskerm myself teen negatiewe invloede. En dit help my baie.

“Ja, waak teen die invloed van sosiale media. Almal is nie so perfek soos wat dit lyk of klink nie. Ek fokus op wat in my aangaan; voorkoms is tydelik.”

‘Praat!’

“Moenie skaam wees om hulp te vra nie. Praat met jou familie. En my raad aan die naasbestaandes is om die betrokkene te ondersteun, maar sonder om te veel en te maklik te praat. Moenie ongevraagde raad gee nie. Want as jy nog nie so iets beleef het nie, kan jy nie sê jy weet hoe daardie mens voel nie.

“Geestesongesteldheid is nie my identiteit nie; dis wel deel van die reis waarop die Here my wil gebruik. Vir almal wat hierdeur gaan, het ek een boodskap: Moenie opgee nie! Jesus het swaargekry in sy tyd hier op aarde, maar Hy het dit ter wille van sy mense gedoen. Dit is ook ons plig, ons wat al met ons emosionele welstand gesukkel het, om ander te ondersteun.

“’n Meisie wat my video oor my stryd met depressie gesien het, het my op ’n dag voorgekeer. Sy was in trane. Dit het geblyk dat sy presies dieselfde simptome as ek het. En ons het lekker gesels. Dit het weer aan my gewys dat God ’n plan met my reis gehad het.

“Vandag voel ek baie beter. Ek reken ons moet ophou om weg te kyk van emosionele gesondheid. Ek gebruik steeds medikasie. Maar bloot deur te praat kan jy jouself én ander help.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►