Tienerselfdood is ’n hartseerwerklikheid wat wêreldwyd, én in Suid-Afrika, aan die toeneem is. “Jong mense sukkel regtig met hul geestesgesondheid. Die jongste navorsing wys uit hoeveel jonger kinders deesdae depressie ontwikkel.”
Só sê Johan Laten (63) van die Strand in die Wes-Kaap, wat sy lewe daaraan wy om tieners te wys daar is altyd hoop.
Volgens die jongste statistiek sterf gemiddeld 23 tieners per dag in Suid-Afrika aan selfdood.
Juis daarom het Johan die afgelope paar jaar begin om sy eie pad met depressie te gebruik om tieners met hul psigiese gesondheid te help. Hy probeer om tieners (en volwassenes) landwyd bewus te maak van die kwessies rakende depressie en selfdood.
LEES OOK: Ná vier selfdoodpogings het Celri ’n nuwe roeping in haar lewe
Die onkundige generasie
Nadat Johan as jong mens met depressie gediagnoseer is, het hy hierdie diagnose ’n geheim gehou. “In my diensplig- en studentedae, en selfs later as onderwyser, sou ek nooit oor my swaarkry praat nie. Ek wou nie ’n las wees vir my vriende, ouers en familie nie. Ek was deel van die onkundige 1980’s-generasie, toe psigiese gesondheid min aandag gekry het.
“Vanweë hierdie onkunde was ek jare lank alleen in my gedagte-kraaines van ernstige worstelinge. Ek sou elke gesprek óór-analiseer en sukkel met gevoelens van “nie goed genoeg nie”, en die gevolglike swak selfbeeld.
“En watter gesig wys ek dan vir die wêreld? Johan die hoofnar, die kamtig-vrolike mens wat altyd lekker lag.
“Ek weet nie hoe lank ek hiermee sou kon voortgaan nie …
“Maar op ’n dag het my vrou Annette gesê dat my stiltes haar teen die mure uitdryf. Ek het ernstig daaroor nagedink en besef ek moet my depressie in die oë kyk en dit begin bestuur.”
Uiteindelik het Johan ’n sielkundige besoek, terapie ondergaan en só die Goliat in sy lewe getakel.
Hy moes, onder meer, sy weersin in depressiemedikasie oorwin.
Hieroor vertel hy: “In my dienspligjare het ek die verkeerde medikasie gekry, van daar my teenkanting. Dit was ’n tree-vir-tree-pad, voordat die kombinasie van terapie en medikasie begin werk het.
“’n Mens moet aanvaar depressie is ’n siekte en daarom vereis dit medikasie, net soos hoë bloeddruk of cholesterol. Ek het gelukkig ’n goeie ondersteuningstelsel, mense wat saam met my bid en wat my help wanneer ek swaar trek.”
’n Nuwe roete na sy lewensdoel
In 2015 het Johan uit die onderwys bedank en ’n nuwe pad begin volg: eenmanvertonings by skole en sakeondernemings, met die doel om mense in te lig, onder meer oor hoe om iemand met depressie te ondersteun, en hoe om selfdood te voorkom.
Só kon hy sy eie pad met depressie kombineer met sy omgeehart en sy liefde vir toneelkuns. En hy kon ’n lewensdoel formuleer: beter psigiese gesondheid vir almal.
“Die Here het my met ’n lang pad gelei voordat ek uit die onderwys kon bedank en hierdie organisasie sonder winsoogmerk kon stig.”
Deesdae neem Johan se #crazysocks-vertonings hom regoor die land en Namibië, waar hy die groot hartseer in mense se lewe raaksien en probeer aanspreek.
“Jong mense sukkel regtig met hul psigiese gesondheid, en #crazysocks-optredes se hoofboodskap is: Daar is altyd hulp, daar is altyd hoop, maar jy moet daaroor praat.”
“In 2024 moet elkeen weet dat ’n mens wat hulp vra nié ’n mislukking of ruggraatloos is nie. Dis net jy wat dink die wêreld sal jou kruisig omdat jy behandeling vir depressie benodig.”
Wees op die uitkyk vir die leidrade!
“Dis hartseer om te sien hoeveel jong kinders aan selfdood dink. Dat dit, na hul oordeel en waarneming, die enigste uitweg vir swaarkry en pyn is.”
Johan is besorg oor mense se psigiese gesondheid, juis ook dié wat nie oor ’n mediese fonds beskik nie. “Dié siekte bied groot uitdagings, en daarom moedig ek mense aan om oor hul depressie te praat. En as hulle nie ’n sielkundige of geregistreerde terapeut kan bekostig nie, moet hulle iemand anders nader – ’n geestelike leier, ’n lekeprediker, een of ander mentor. Klop aan by ’n staatshospitaal of -kliniek. Maar práát net met iemand! Moenie hierdie pad alleen probeer stap nie.
“Daar is áltyd hulp beskikbaar. Kontak die skool, jou familielede, julle huisdokter. Of skakel die tolvrye SADAC-nommer – 0800 567 567.”
Johan rig ’n ernstige pleidooi aan almal wat agterkom dat iemand in hul omgewing moontlike selfdoodgedagtes koester. “Jy mag nooit sulke tekens ignoreer nie. Reageer daarop, meld dit aan; moet dit net nie verswyg nie.
“Soms bied sulke mense leidrade, soos wanneer hulle kosbare besittings, of iets wat van sentimentele waarde is, begin uitdeel. Of wanneer hulle dinge sê soos ‘dis my laaste verjaardag’, of ‘dis die laaste Kersfees’.
“Benader so ’n mens op ’n sensitiewe manier, maar vra reguit vrae. Soos: ‘Het jy al op ’n plek/datum/manier besluit?’
“Dis nie asof jy sulke gedagtes nou by hulle ‘plant’ nie; wanneer mense sulke dinge doen of sê, is die proses in hul gedagtes reeds ver gevorder.”
Johan moedig ouers aan om hulle te vergewis van die tipiese depressie-simptome. “Sorg dat jou kinders ook hieroor ingelig is. En hulle moet weet dat ’n mens nie ’n swakkeling is as jy vir hierdie siekte behandel word nie.
“Soms wil kinders hul ouer(s) beskerm, want ‘hulle kry reeds so swaar’. Of die kinders voel hulle is die oorsaak van onmin in die huis, of struwelinge tussen die ouers. Die ideaal is dat elke kind, elke mens, iemand sal hê om, sonder huiwering, op te soek om mee te gesels. ’n Vertroueling, met ander woorde, wat geredelik beskikbaar is.
“Luister ook na daardie dinge wat die kind nié sê nie. Werk aan ’n goeie verhouding met jou kind. Moenie bloot op die depressie fokus nie, maar geniet ook spesiale tye saam.”
‘Dié dinge werk vir mý’
Johan vertel graag van die dinge wat vir hom werk. Hy sê: “My depressie definieer my nie. Ek is ’n hondeliefhebber. Buiten hul onvoorwaardelike liefde, speel honde beslis ’n rol in die bestuur van my siekte. Hulle vra nie vrae nie, hul lojaliteit is ’n gegewe.
“Verder is humor vir my belangrik om balans te behou. Soms help ’n bietjie lawwigheid om die ergste donker te verdryf.”
Sport is sy ander uitlaatklep. “As toeskouer! Topatlete se vermoë om onder druk te presteer, en om van amper verloor na ’n oorwinning te vorder, fassineer my.
“Verder is die skryf van toneelstukke, en die speel daarin, die grootste uitlaatklep om my uitdagings die hoof te bied.”
* Johan het ’n boek oor depressie geskryf, met die titel: Práát oor Depressie: ’n selfhelpgids vir ouers en onderwysers + selfdoenboek vir depressievegters.
** Johan hou van vernuwing, en daarom is sy organisasie sonder winsoogmerk depressie101, wat eenmanvertonings insluit en nuusbriewe versprei, pas herdoop na Reboot your Resilience. Stuur ’n e-pos na johan@rebootyourresilience.co.za vir meer inligting.
*** Mense wat ’n depressie-diagnose moes aanhoor, is depressievegters en nie depressielyers nie. Lizette Rabe, emeritusprofessor in joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch, het dié onderskeid gemaak en dit help vestig. Sy en haar familie is persoonlik hierdeur geraak, en sy het betrokke geraak by die bewusmaking van die kwessies rakende selfdood.
**** Besoek gerus die onderskeie webwerwe van Verywell Mind en Mayo Clinic vir meer inligting.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.