Die afgelope paar maande sien ek hoeveel gelowiges van hulle laat hoor, ook op sosiale media. Daar is uiteenlopende menings, etlike selfs radikaal verskillend van mekaar. Sake soos die wederkoms, die wegraping, en ander mense se lewenskeuses kom aan die orde. Ook die politiek, veral die Amerikaanse politiek. Almal het iets (of báie) te sê.
Ek het ’n toenemende persoonlike ongemak hieroor begin waarneem. Sonder om my vinger heeltemal daarop te kan lê, klink dit my asof mense, medegelowiges, húl waarheid op my probeer afdwing. Ons almal weet dat ’n mens Jesus in ander mense kan ontmoet. Hy het dit immers self gesê. Maar hoe weet jy dis regtig Hy wat met jou praat? Kom die stem nie maar van ’n vals profeet nie?
In dié tyd lees ek weer die verhaal oor die pad na Emmaus. Ek het dit al dikwels gelees, maar dié keer het iets nuuts my getref. Gewoonlik fokus ek op die raaisel waarom die twee Jesusvolgelinge Hom nie herken het nie; dié keer het ek gewonder: Hoe het hulle uiteindelik besef dit is Hy?
Ons ken die verhaal: Twee dissipels was te voet op pad na die dorpie Emmaus. ’n Onbekende man het by hulle aangesluit. Hulle vertel die vreemdeling van hul slegte ondervinding in Jerusalem, en toe begin die medereisiger om die Skrif vir hulle uit te lê.
LEES OOK: Gebede wat verhoor word, maak ons bang
Eers later, toe die twee Jesusvolgelinge saam met die vreemdeling brood breek, herken hulle Hom. Maar toe is Hy reeds weg. En hulle onthou wat Hy alles vir hulle gesê het toe hulle so saamgestap het, en hulle sê vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk 24:32).
Daardie een frase in die Lukasverhaal het my diep getref, daardie “ons hart het warm geword”. In sommige vertalings lui dit: “Ons hart was brandend.” Dit is wat gebeur wanneer Jesus self die Skrif vir ons uitlê. En dié Lukaswoorde verbeeld veel meer as bloot ’n emosie; dis eerder ’n heilige warmte. Dis ’n geestelike gewaarwording: Dit ís Hy.
Ek het besef wat die waarde van hierdie warmte in ons hart is. Dis Jesus wat dit bewerkstellig wanneer ons agterkom dat sy woorde en sy verklarings nooit koud en hooghartig is nie, nooit veroordelend en straffend nie. Selfs die enkele vermanings wat ons by Hom hoor, het herstel op die oog. Hy het vir die vrou wat owerspel gepleeg het, gesê: “Gaan, en moet van nou af nie meer sonde doen nie”(Joh 8:11). Dit was nie ’n vonnis nie, maar ’n uitnodiging tot nuwe lewe.
Van daar my ongemak oor medegelowiges se baie en kwaai woorde. Dit lyk en klink asof hulle graag die Woord as ’n slaanding gebruik. En ek kom toenemend agter dit sorg vir meer as ongemak of irritasie in my binneste; dis dalk eerder die Gees wat my waarsku dat sulke stemme nie van die Goeie Herder af kom nie.
Ek onthou hoe die WSJD-bandjies destyds oral gedra is. Ek wonder hoe ’n armbandjie sou lyk met dié vraag daarop: “Hoe sou Jesus ander mense laat voel het?” Dalk is dit ’n onpraktiese moontlikheid. Dis in elk geval ’n onnodige vraag, want die antwoord spreek vanself. Jesus het mense welkom laat voel, Hy het hulle hart warm gemaak. Alle mense, juis ook die sondaars en die eenvoudiges, die kragteloses en die moedeloses, die buitestanders, die uitgeworpenes en uitgestotenes, die mense wat hulle op die rand van die samelewing bevind.
Hierdie besef laat my ook anders dink oor hoe ek met mense omgaan. Iemand het gesê: “Mense onthou nie presies wat jy gedoen of gesê het nie, maar hoe jy hulle laat voel het.”
Mag ook ons, die bevoorregtes, elke dag leer om Jesus se stem te herken, nie net in die woorde wat gesê word nie, maar in die warmte van ’n hart wat deur liefde aangeraak is. En mag ons só leef dat ander mense minder deur ons woorde getref word as deur die warmte van Hom wat in ons woon.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















