FOTO’S KYKNET
Die bekroonde skrywer en joernalis Dana Snyman reis met sy jongste TV-reeks Grondpad geloof dwarsoor die land om antwoorde op talle geloofsvrae te vind. Hy vind toe veel meer uit as wat hy gedink het hy sou.
Almal wat Dana Snyman se skryfwerk ken, weet dat hy ’n diep denker is. Dat hy die wêreld en die mense om hom met ’n skerp maar simpatieke oog bekyk. Dana beskik nie net oor ’n fyn aarnemingsvermoë nie; hy is ook ’n uitmuntende storieverteller. Maar reeds op skool het sy onderwysers hom laat besef dat skryfwerk nie bloot woorde op papier is nie, maar ook ’n gestoei met lewensvrae.
’n Geloofsreis word nodig
Dana woon deesdae op Kaapsehoop, ’n klein dorpie in Mpumalanga. Meer as dertig jaar lank lê hy kilometer ná kilometer af, oor die lengte en breedte van ons land, en maak stories bymekaar.
Hy het onlangs 60 geword en besluit om, vir ’n verandering, sy eie “binneland” te leer ken. Daarvoor was ’n geloofsreis nodig.
LEES OOK: Dana Snyman: Nissan 1400 is soos ’n Bybelse donkie
Van die vrae waarop hy antwoorde wou vind, sluit in: “Wat is geloof?” En: “Wie is God vir my?” Ook: “Wie is Hy vir ander mense?”
Dit was nie eintlik ’n bewustelike besluit nie; “dit het so half-en-half net gebeur,” vertel hy. “’n Jaar of drie gelede het Kerkbode se redakteur Le Roux Schoeman my gevra of ek ’n gereelde rubriek vir Kerkbode wil skryf. Ek het ingestem.
“En ek geniet dit nogal. Dit dwing my om woorde vir my eie geloofspad te vind. Vroeër vanjaar het ek en Waldimar Pelser saam geëet, en ’n bietjie gesels. Hy is M-Net-direkteur: Premium-kanale. En eensklaps bevind ek my, saam met ’n TVspan, op die langpad. Grondpad geloof is gebore.
’n Pastoriekind, destyds
Dana is die enigste kind van wyle ds Coenraad Snyman en sy vrou Sarie.
Hy vertel van sy lewe as pastoriekind: “In daardie dae is ’n dominee se kind beslis anders behandel deur die onderwysers en die ander kinders. My ma was ‘mevroudominee’ en ek was ‘die dominee se kind’.
“Dalk is dit die rede waarom sommige predikantkinders nogal rebels was. Ek was nooit so nie. My ‘rebellie’ was om afsydig te wees, om my aan mense te onttrek. Ek was ’n buitestander, ’n dophouer. Toe ek so elf, twaalf jaar oud was – dit was op Daniëlskuil in die Noord-Kaap – het ek onder die konsistorie se venster gesit en my pa-hulle se kerkraadsvergaderings afgeluister.
“My pa het my op ’n keer betrap terwyl ek agter die bank in sy studeerkamer lê en luister hoe gee hy berading vir ’n oom en tannie met huweliksprobleme.”
Met verloop van tyd het hy kerklos geword, sê hy.
Waarom? wil ek weet.
“Op ’n manier is dit juis dít wat ek in Grondpad geloof probeer uitvind. Ek dink baie mense van my tyd, ons wat in die apartheidsjare ons verstand gekry het, het kerklos geword. Die kerk se ondersteuning van apartheid het daartoe bygedra.
“Maar nou word ons ouer, en ons beleef ’n soort geestelike ‘gemis’. Die sosiale media het die lewe ál vinniger gemaak, en ons verlang weer na die rituele van ’n kerkdiens, die waardige klanke van ’n pyporrel …
“’n Mens kan baie daaroor sê. Daar is natuurlik vele ander wat hul geloof afgesweer het, wat beweer hulle is nou daarvan bevry. En tog, ironies genoeg, dié wat beweer hulle is nou vry van geloof in God is soms diegene wat, op Facebook en ander plekke, die meeste bly karring oor geloof.”
Op ou voetspore
In die eerste episode van Grondpad geloof besoek Dana die NG kerk in Mookghopong, voorheen Naboomspruit, waar sy pa eens predikant was. Dana vertel: “Ek het baie emosioneel geraak toe ek ná soveel jare weer by daardie kerkgebou instap. ’n Mens besef dan jy sal nooit weer jou onskuld kan terugkry nie. Nooit weer sal jy soos ’n kind in God kan glo nie.”
Met die maak van die program het Dana en die span van kerk tot kerk en dorp tot dorp gereis, en onder andere met predikante en rolspelers soos dr Danie Langner, prof Christina Landman en ds Nelis Janse van Rensburg gesels.
“Ek wou egter juis nie met te veel bekende kerklike figure gesels nie. Een van die gaafste gesprekke was met ds Danie du Toit en sy kleinseun, ook Danie du Toit, van die rockgroep Spoegwolf.
“En ek wóú die reis op Naboomspruit begin. Toe dink ons: Hoekom eindig ons nie in die Kaap nie? Ek moet net hier melding maak van die span saam met wie ek op pad was: Karien Zulch, Dewet van Rooyen, Linton Loots, Christiaan Kritzinger, Anya Joubert en Simon de Waal. Ons was almal saam in die ding.
“Ek dink die reis het, op ’n manier, elkeen van ons ’n bietjie verander, ’n bietjie nader aan ons ware self gebring. In die TV-reeks raak-raak ons eintlik net aan wat besig is om in die breë kerk te gebeur.
Daar is nog báie stories om te vertel.”
’n Plek van genade
Tydens die reis het sekere dinge hom opgeval. Soos dat die kerkbywoning in kleiner dorpe verskil van dié in stede.
“Sommige gemeentes op die platteland sukkel. Die redes daarvoor is ingewikkeld, maar die vernaamste is dat die platteland ontvolk. Dis nou as jy na die voormalige ‘wit’ gemeentes kyk.
“Maar ’n baie positiewe ding gebeur ook op die platteland: Gemeentes begin om saam te werk – oor allerhande grense en denominasies heen. Afrikaans en Engels. Swart, bruin, wit.”
Nog ’n waarneming: Suid-Afrikaners besef toenemend die dae van ’n “Sondaggeloof” is verby. “Dit was die dae toe mense op ’n Sondag kerk toe gegaan het om hul gewete te sus, en die res van die week geleef het soos hulle maar nog altyd geleef het. Dis iets van die verlede.
“Mense besef toenemend dat geloof en die kerk ’n belangrike rol het in die saambind van gemeenskappe. Die kerk is oral weer besig om kérk te word: ’n plek van genade, waar na die armes en sukkelendes omgesien word.”
Dana sê hy dink nie baie gelowiges het hul rug op die kerk gedraai vanweë die susterskerke se leerstellings nie. “Die statistiek wys beslis dat die oorgrote meerderheid mense in die land gelowig is. Ek dink nie dis deesdae nog geldig om te sê jy gaan nie meer na een van die susterskerke toe vanweë daardie kerk se verlede nie. En nou praat ek veral van die NG Kerk, my kerk.
“Baie mense gaan doodeenvoudig nie meer kerk toe nie omdat dit te goed met hulle gaan, veral materieel, al kla hulle ook hóé. Hulle leef ’n gemaksugtige, sekulêre lewe.”
’n Gemeenskap van onheilige heiliges
In die eerste episode van Grondpad geloof praat Dana onder meer oor wonderwerke. Hieroor sê hy: “Ek dink ’n mens moet ophou om te dink ’n wonderwerk moet iets skouspelagtigs wees. Soos iemand wat ná ’n gebed van kanker genees is.
“Nie dat ek dink dit het nie gebeur nie. Maar ek bly sinies daaroor. ’n Wonderwerk kan egter ook wees waar mense oor allerhande grense heen met mekaar versoen word. Wanneer hulle mekaar se menslikheid raaksien en eer.
“Daar waar mense mekaar in moeilike omstandighede bystaan, is vir my ’n wonderwerk. Vergifnis en berou in bepaalde omstandighede kan ook ’n wonderwerk wees.”
Het hy gevind dat die kerk baie meer “kerk” vir Suid-Afrikaners in hierdie uitdagende tye word? Dat mense ál meer na bakens van hoop gryp?
“Ek dink dis ingewikkelder as dit. Dis sekerlik so dat iemand in nood, iemand wat onsekerheid beleef, meer geneig sal wees om kerk toe te wil gaan en te bid. Maar daar is baie mense wat toenemend besef geloof en die kerk kan help om mense positief saam te weef. Dat jy ’n gemeenskap van onheilige heiliges nodig het om werklik betekenisvol mens te kan wees.”
Genadiglik, sê hy, het sy pa nooit enige druk op hom geplaas om ’n predikant te word nie. “Hoewel ek deesdae ’n bietjie na ’n amateur-dominee voel. Dit pla my so effe. Ek moet meer stories vertel.”
Die maak van Grondpad geloof was vir Dana baie persoonlik. “En as dit vir iemand anders iets beteken, sal ek dankbaar wees.
“Ek sal graag wil hê die kykers moet saam in die bakkie klim en met ’n oop gemoed saam met my ry. Elke reis bring sy eie ontdekkings en gewaarwordings. Vir my was dit so.”
Geloof is deesdae vir Dana belangriker as ooit. “Dalk omdat ek ouer geword het. Maar, nee, ek het tot nou toe té selfsugtig geleef, té ekkerig. Dis ’n hengse stryd, die stryd teen jou ego. Daardie stryd het, wat my betref, alles met geloof te doen.”
• Grondpad geloof begin op Sondag 3 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).