Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Tatjana Schoenmaker: ‘Ek moes eers leer dit gaan nie oor myself nie, maar oor my Skepper’

 HOOFFOTO deur Anton Geyser/SASI; ander foto’s SA Sport Images

Sy het na die uitslagbord gekyk en skielik besef sy het die wêreld­rekord in die 200-meter borsslag oortref. Die modelmooi Tatjana Schoenmaker se ekstatiese gesigsuitdrukking het boekdele gespreek.
Derduisende Suid-Afrikaners en sportliefhebbers dwarsoor die wêreld het in haar groot vreugde gedeel, en later weer en weer na daardie triomfantelike oomblikke op YouTube gekyk.
Maar wat het deur Tatjana se gedagtes gegaan?
Sy vertel: “Ek was ’n ruk lank bloot sprakeloos. Ek was só dankbaar ek kon my beste lewer en weet dat die Here die res gedoen het. Tydens die 100-meter borsslag, wat ek enkele dae tevore geswem het, was ek so ’n bietjie uit my baan. Maar met die 200-meter borsslag het ek deurentyd afgekyk en geweet my resies is nou in die Here se hande.
“Ek het hoegenaamd nie ’n wêreldrekordtyd verwag nie. Ek was net baie dankbaar dat al die opofferings iets opgelewer het. Dat die Here my geseën het met ’n talent om te swem en dat ek elke dag die geleentheid het om daardie talent te slyp.”

Tatjana en haar kêrel en medeswemmer Ruan Ras (Foto deur Anton Geyser/SASI).

Alle eer aan die Here
Net voor die Olimpiese Spele in Tokio het Tatjana die woorde “Soli Deo Gloria” op haar wit swempet laat druk. Sy dra dié pet onder haar groen Suid-Afrika-swempet, en met dié “aan God alleen die eer” wys sy aan die hele wêreld haar Christenskap wanneer sy die groen pet afhaal.“Ek wou hiermee ook die boodskap uitdra dat dit nie oor óns planne gaan nie, maar oor die Here s’n. Dis sý planne wat altyd sal seëvier.”

Is daar iets spesifieks, dalk ’n ritueel, wat sy in die kleedkamer volg voor sy by ’n groot byeenkoms in die swembad duik?
“Ek luister ‘worship’-musiek om my te kalmeer. En ek herinner myself daaraan dat ek hier is om met elke slag van my arms sy Naam te verheerlik.”
Tatjana en haar spanmaat Kayleen Corbett het in Tokio geskiedenis gemaak toe hulle die eerste twee Suid-Afrikaanse vroueswemmers geword het wat saam vir ’n eindronde in ’n Olimpiese Spele kwalifiseer. Kayleen het die vyfde plek in die 200-meter borsslag behaal.
Daar bestaan ’n baie spesiale band tussen hierdie twee. Nie net is hulle hegte vriendinne nie, hulle noem hulleself ook “Sisters in Christ”.
“Ons is spanmaats by Tukkies se swemskool,” vertel Tatjana, “en ons deel graag ons spesiale oomblikke met mekaar. En dan nie net tydens groot byeenkomste nie, maar ook met ons oefensessies en ander voorbereiding.”
Tatjana vertel van die wonderlike spangees wat tussen al die vroue-atlete in Tokio geheers het. “Ons het saam na Christelike musiek geluister, en ons het geweet ons is almal daar vir mekaar, ongeag wat gebeur.
“Ons het ook geweet om net ons beste te gee, en dat die Here die res sal doen. Soos my afrigter Rocco Meiring ook altyd sê: ‘Let go, let God.’
“Dit was wonderlik om die Here se teenwoordigheid voor elke byeenkoms te beleef en om só kalmte te kon vind.”

“Ek het gedink ek weet alles”

Dis moeilik om dit nou te glo, maar Tatjana wou op ’n keer, letterlik en figuurlik, die handdoek ingooi. Sy het destyds nie die span vir die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gehaal nie. Sy vertel dat sy die kwalifiserende tyd met ’n skrale 0,01 sekonde misgeloop het.
“Ek was uiteraard baie ongelukkig,” vertel sy nou, vyf jaar later, “maar ek het geweet die Here het ’n plan. Alles in die lewe gebeur om ’n spesifieke rede. Rocco het my aangemoedig om weer te begin swem, omdat dit my groot passie in die lewe is. “Hy het gesorg dat ek my liefde vir die sport weer terugkry.”

Wanneer die 24-jarige Tatjana haar lewe in oënskou neem, sien sy telkens die Here se hand daarin. “Wanneer ek nou terugkyk, kan ek ook verstaan waarom ek nie vir die Spele in Rio gekwalifiseer het nie. Ek was toe 19 jaar oud, en ek het gedink ek weet alles. Ek het sóveel planne gehad!
“Maar die Here het presies geweet waar ek is en hoeveel ek nog moes groei. En ek hét sedert 2016 baie gegroei – persoonlik, geestelik en fisiek. Ek het intussen soveel vrede in my lewe gevind en ook besef dit gaan nie oor myself nie, maar oor my Skepper.”

Tatjana saam met haar grootouers, Hester en Jan Schoenmaker tydens die “Tatjana Foundation” bekendstelling by Usambara op 22 Okt 2021 in Krugersdorp (Foto deur Anton Geyser/SASI).

“Ek besef hoe geseënd ek is”

Tatjana volg ’n strawwe oefenprogram, maar sy probeer ook ’n gebalanseerde lewe leef.
”Ek oefen gemiddeld vier ure per dag,” vertel sy. “Dinsdae en Donderdae wissel ek my oefensessie in die gimnasium met swem af, en Saterdae oefen ek net een sessie. Sondae rus ek.”
Sy herlaai haar batterye op ’n Sondag. “Ek gaan kerk toe. En ek ontspan deur gewoonlik saam met vriende en familie te braai.”
Die liefde in haar lewe, Ruan Ras, is ook ’n swemmer. “Ek en Ruan ken mekaar al agt jaar lank. Ons was aanvanklik net goeie vriende, maar die afgelope jaar en agt maande gaan ons vas uit.

“Ruan is ‘amazing’. Hy motiveer en ondersteun my baie. Ons deel nie net ’n passie vir swem nie; die een weet ook presies waardeur die ander gaan. As ons byvoorbeeld albei moeg is ná ’n oefensessie of ’n kompetisie, kan ons net op die bank lê en ontspan.”
Tatjana het verlede jaar haar graad in finansiële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria verwerf. “Dis ’n uitdaging om sport en studies te koördineer, maar die studies het wel op ’n positiewe manier my aandag van die swemmery afgetrek en sodoende my lewe meer gebalanseerd gemaak.”

LEES OOK: Gouemedaljewenner Anruné: ‘Ek eer God vir wat Hy in my en my pa se lewe gedoen het’

WAT IS TATJANA SE RAAD AAN JONG SPORTMANNE EN -VROUE?
“Fokus op jouself. Moet jou tog nie met ander vergelyk nie.”
En dan: “Sport definieer nie wie jy is nie, maar wat jy doen. As jy in die Here geanker is, sal alles hul regte plek inneem. En dan sal jy jou sport met soveel meer vreugde beoefen. Stap die pad saam met die Here en eer sy Naam deur alles wat jy doen.”
Dis duidelik dat Tatjana se geloof ’n oorheersende rol in haar sukses speel. “Ek gee alles aan die Here oor,” sê sy. “Ek streef daarna om soveel as wat menslik moontlik is soos Hy te wees. Om my sukses as platform te gebruik om sy Naam te verheerlik.
“Ek is nie perfek nie; ek kan net my bes doen. En as ek iewers tekort skiet, dan is dit ook oukei.”
Te midde van haar besige program is Tatjana ook nou betrokke by die liefdadigheidsorganisasie Precious Blessings. “Dis wonderlik om ’n verskil in kinders se lewe te help maak,” sê sy.
“Maar eintlik kry ek soveel meer daaruit as wat ek gee, want ek besef hoe geseënd ek is om in ’n standvastige huis te kon grootword. Om nie soos baie kinders alleen gelaat te word nie.”

Tatjana se ouers, René en Renske, het haar nog altyd heelhartig ondersteun in alles wat sy aangepak het. Sy was maar vyf jaar oud toe sy begin swem het, en op agt het sy begin meeding.

“Ek het op 14 professioneel begin swem, en my ouers het gereël dat ek in graad 9 by Tukkies se swemskool onder leiding van Rocco Meiring begin swem.”
Haar ouers het haar deurentyd aangemoedig om haar beste te lewer. “My pa het gesê: ‘Dit maak nie saak of jy wen of verloor nie. Solank jy jou beste lewer, is ons trots op jou.’”
René en Renske is van Nederlandse afkoms en het vroeër vanjaar na Nederland verhuis. Hul dogter vertel: “Ek mis hulle baie, veral oor naweke wanneer ons altyd saam gekuier het.”

Tatjana het dié gebed op Instagram geplaas, net voor haar deelname in Tokio:
“Father God, may Your will be done, may Your peace fill us up, may we praise You no matter what the outcome, may we be empowered by Your strength to give our all and may we forever be in awe of Your goodness! Thank You for bringing us to this very moment.”

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF