Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Tienjarige met alopecia: ‘God het vir my ’n gesonde lyf gegee – hare is nie alles nie’

HOOFFOTO: LAUGE SORENSEN

Die tienjarige Sage Burger was maar agt toe die eerste tekens van haarverlies by haar verskyn het. Sy het ook met gereelde hoofpyne gesukkel, met naarheid en uitputting. Ná vele doktersbesoeke is sy met alopecia areata gediagnoseer. Dis ’n toestand wat ontwikkel wanneer die liggaam se immuunstelsel foutiewelik die betrokke persoon se haarwortels aanval.

Die soort alopecia wat by Sage gediagnoseer is, het nie onmiddellike en totale haarverlies tot gevolg nie; haar hare val kol-kol uit. Die kaal kolle het egter mettertyd so groot geword dat sy dit nie meer kon wegsteek nie.

Die diagnose het Sage se ma Nicky (35) diep geskok. Sy vertel: “Sage het my op ’n dag vertel dat sy besig is om bles te word. My eerste reaksie was dat sy haar hare uit haar kop trek.”

Toe die toestand voortduur, is hulle dokter toe. Ná verskeie toetse is bevestig dat Sage se skildklier erg onderaktief is. Die dokter het gereken dat dit die oorsaak van Sage se haarverlies is.

“Ek was egter nie gerus nie en het besluit om Sage na ’n endokrinoloog te neem. Hier is sy met Hashimoto se siekte gediagnoseer. Dis ’n outo-immuuntoestand wat ’n onderaktiewe skildklier tot gevolg het. Maar, het die spesialis bygevoeg, dié siekte het nie haarverlies tot gevolg nie.”

Sage is na ’n dermatoloog verwys. Nicky vertel: “Hierdie dokter het gesê dat Sage se senuweestelsel die haarfollikels aanval en ook inflammasie op die kopvel veroorsaak. Daarom val die hare nie alles tegelyk uit nie. Trouens, daar is kolle waar die hare uitval en dan weer teruggroei. Dit kan egter, sonder waarskuwing, tot ’n meer radikale weergawe van die siekte aanleiding gee wat die pasiënt onmiddellik alle hare laat verloor. Die dermatoloog het kortisooninspuitings voorgestel ten einde die inflammasie onder beheer te kry. Dit was egter onsuksesvol.

LEES OOK: ‘Daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan as met jou,’ sê dapper kankerlyer (11) met skapie-projek

“Daar was ook ’n voorstel dat Sage hoë dosisse kortisoon gebruik. Ek en my man het dié voorstel van die hand gewys vanweë die risiko’s wat daaraan verbonde is.”

Moontlike oorsake

Toe Sage in 2024 die eerste keer van die probleem bewus geword het, was daar bloot ’n paar kaal kolle op haar kop, met die hare wat later teruggegroei het. Sy het ’n kopband gedra om die kaal kolle te verbloem. In 2026 het die haarverlies egter weer begin. Dié keer was dit so erg dat Sage self besluit het om al haar hare te laat afskeer.

Almal het gewonder waar dié toestand vandaan kom. Nicky het ’n moontlike verklaring: “Ek en my ma en my ouma het almal rumatoïede artritis. Die dokter het verduidelik dat so ’n outo-immuunsiekte geneties oorgedra kan word. Maar soms slaan so iets ’n heel ander rigting in en skep ’n nuwe toestand, soos alopecia.

“Dit kan ook, sê die dokter, die gevolg van stres of trauma wees. En ek het onthou van die keer toe ons op ’n hoofpad ’n gewapende roof voor ons oë sien afspeel het. Dit het Sage geweldig getraumatiseer. Nie lank daarna nie het haar hare begin uitval.”

‘Hare is nie alles nie’

Nicky vertel hoe moeilik dit vir haar was toe Sage haar hare laat afskeer het. “Ek was baie emosioneel. Maar gelukkig het Sage se kop ’n mooi vorm, sonder enige merke of vergroeisels.”

Oor daardie dag vertel Sage: “Ek het besluit om dit te doen want ek was moeg vir hare in my kos. Daar was aanhoudend hare, oral. Ek het toe besluit dat my hare my nie maak wat ek is nie. My hart, en my liefde vir ander en vir Jesus, dit is wie ek is – met of sonder hare.

“Ek het ’n wonderlike vriendekring wat my onvoorwaardelik aanvaar. Ek word wel soms by die skool geboelie. Iemand het my al ‘Ou Alopecia’ genoem. Daar is ook kinders wat my oor my pruik spot.”

Nicky sê dat die hele situasie aanvanklik vir haar erger was as vir Sage. Toe hulle egter na pruike begin soek het, het dit beter geword. Nicky het ook pruike gedra om dit vir Sage makliker te maak. Hulle het begin om ander bekendes met alopecia op sosiale media te volg, onder andere Jada Pinkett Smith, Emmy Combs en Chloe Bean. Sage vind hierdie vroue se vermoë om te blom inspirerend.

Sy vertel verder: “In Aprilmaand het ek besluit om nie meer die pruike te dra nie; dit was ongemaklik en het my gekrap. Ek het net gevoel dat ander mense my nie hoef te aanvaar nie; ek is gelukkig soos ek is. Al wat belangrik is, is hoe Jesus my sien.

“Ek was van altyd af lief vir Jesus. Ek praat baie met Hom, sommer so in my gedagtes. God is so magtig, ons moet dit nie vergeet nie. Hy gee ons suurstof. Vir my het Hy ’n gesonde lyf gegee. Hare is nie alles nie.”

’n Wyse, dapper dogter

Nicky vertel: “Sage se naam beteken ’wyse een’. En ja, sy is wel ’n wyse siel, maar sy bevind haar ook in ’n sensitiewe stadium van haar lewe. Daarom is ’n positiewe ondersteuningsnetwerk baie belangrik.”

Volgens Nicky berei hulle Sage so goed moontlik voor vir konflik wat dalk op haar wag. “Sy is baie volwasse en baie bewus van haar eie emosies. Sy verstaan nou dat maatjies wel met mekaar mag baklei, maar dan nie op ’n lelike en afbrekende manier nie.

“Sage is ’n baie dapper dogter. Sy dans by die Jozi Youth Dance Company, en sy was onlangs op die verhoog – sonder hare. Sy inspireer my elke dag.”

Sage inspireer ook ander mense. Sy vertel self: “Ek en my ma het eendag oor die radio gehoor hoe dokters oor haarverlies praat, en ek het gewonder hoekom hulle nie ook oor alopecia gesels nie. Toe het ons RSG gekontak, en ek het die voorreg gehad om my storie oor die radio te vertel.”

Sy sê sy wil ander alopecia-lyers, veral kinders, inspireer om hul drome na te jaag. Sy leer graag wetenskap op skool, vertel sy, omdat sy eendag ’n dermatoloog wil word. Sy droom ook van ’n loopbaan in die kunste.

* Sage en haar gesin het The Brave Crown Foundation gestig om kinders met alopecia by te staan. Hulle fokus op emosionele ondersteuning en bied ook praktiese riglyne. Dis Sage se wens dat almal besef alopecia bepaal nie jou identiteit nie.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF