Dit was ’n Woensdagmiddag toe Ramona van die Cullinan-kantoor twee dogtertjies gered het.
Die twee dogtertjies was verskriklik vuil. Hulle sou dikwels kleuterskool toe gaan met dieselfde klere, wat hulle die vorige dag aangehad het, en was koud en honger. Die kliniek en kleuterskool het die ouers gerapporteer.
Die jongste dogertjie van 22 maande is te vroeg gebore. Sy kon nie loop of kruip nie en sou omval as sy probeer sit. Dié kind was die vorige dag só siek dat die kliniek haar na die hospitaal toe gestuur het. Die baba was heeltemal ontwater en moes twee binneaarse drups ontvang.
Nadat Ramona en Secret die kinders verwyder het, het hulle hul na ’n plek van veiligheid geneem. Die meisies het gewillig ingeklim en soos muise in die motor gesit. Die jongste het aan die slaap geraak. Die vierjarige het vuil en verwese langs haar gesit.
Die ma was ’n bietjie hartseer. Die pa het min gesê. Mamma het positief vir die dwelm tik (crystal meth) getoets en het ook genoem dat hulle sukkel om dié verslawing te oorwin. Daar was min kos en die huis was verskriklik vuil. Klere het die hele wêreld vol gelê. Dit was al laatmiddag en die ma het steeds met die kinders gelê en slaap. Hul haartjies kliphard soos die van varkies, só vuil was dit.
Hulle het nie bad geken nie
Daardie aand het Linda en Tannie Ruby van Huis Benjamin die kinders versorg. Die sussies het hulle longetjies skoon geskreeu in die bad – hulle het nie bad en harewas geken nie. Die badwater was swart so vuil was hulle. Hulle het die kos wat Ouma Linda vir hulle gegee het verorber. Die oudste sussie het dadelik met maatjies begin speel en sou selfs op haar skopfiets ’n motorfietsryer van die Hells Angels ore aansit.
Die jongste het egter steeds die hele tyd snaakse kermgeluidjies gebly maak. ’n Mens kon haar nie vashou of liefkoos nie. Jy mag nie eens eers oor haar koppie gevryf het. Ons het gewonder of sy dalk iewers seer het.
Later toe Linda haar in die stootkarretjie sit was dit asof sy rustiger raak. Maar die kermgeluidjies wou nie ophou nie. Dalk sou die voorgeskrewe medisyne van die hospitaal haar dalk beter maak? Maar nee.
Linda het nie meer geweet watter kant toe nie. Almal was bekommerd. Bang sy gaan dood. Daar was fout met haar ogies, die een kon definitief nie sien nie.
Ons het kinders gered
Laat die aand laat Linda my weet: sy het vir die dogtertjie ’n pakkie kitspoeding aangemaak. Sy het die hele bakkie opgeëet. Sy het vir haar ’n bottel met melk aangemaak. Sy het die hele bottel opgedrink! Daarna het sy saggies op Linda se bors gelê en aan die slaap geraak. Was hierdie kind dalk nogsteeds net so vreeslik honger?
Donderdag by die kinderhof in Cullinan moes die ouers verskyn. Die voorsittende beampte moes die hofverrrigtinge staak en die ouers uit die hof stuur. Hulle het só gestink dat hy dit nie kon uitstaan nie. Later is die verrigtinge wel afgehandel.
Vrydagoggend vroeg terug by Huis Benjamin het die kleinste sussie gesit. Pragtig skoon en warm aangetrek. Een ogie definitief blind. Haar haartjies stomp teen haar kop afgesny deur haar ouers. (Daar was blykbaar verf op toe besluit hulle om alles af te skeer.) Die kindjie het geglimlag waar sy in die stootkarretjie en met die hond se stert gesit en speel het. Sy het uit haar magie gelag en praat-geluidjies gemaak. Gelukkig en skoon. ’n Mens was verslae dat dit dieselfde ou kindjie van twee dae te vore was. Sy het gereageer op alles rondom haar. Ouma Linda het vertel sy het die nag deur geslaap.
Ons wonder altyd of ons ’n verskil maak? Ek het hierna weer besef dat ons ’n verskil maak: Hierdie kind sou gesterf het as sy een dag langer in haar siektestoestand aan hongerte en verwaarlosing blootgestel moes word. Sulke haglike omstandighede maak kinders dood. Ons huisma Linda kry bitter min erkenning. Linda het hierdie kind se lewe gered deur al haar aandag aan die kindjie te gee. Daar lê nog baie baie uitdagings vir die dogtertjie voor, maar ten minste is sy skoon, gesond, warm en gevoed. Hierdie kind het baie mediese uitdagings wat ons van volgende week af sal aanvat. Julle, ons het kinders gered.
- Dina Bosch is die waarnemende direkteur vir die Christelike Maatskaplike Raad (CMR). Dié skryfstuk het oorspronklik in CMR se nuusbrief en op sosiale media verskyn.
- Klik hier om ’n donasie te vir die jonger sussie se MRI-skandering te maak. Sy het reeds ’n CT-skandering ontvang om te probeer bepaal wat met haar ogie fout is.