Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Tweelingsussies en hul pa stap saam ’n kanker-pad: ‘Ons het sonder ophou gebid en nooit gaan lê nie’

Bernita Horn vertel hier hoe sy en haar tweelingsussie en hul pa vanjaar ’n kanker-pad moes stap. Terwyl hul ma tussen drie provinsies moes reis om hulle almal te ondersteun, het Bernita die waarde van geloof en gebed leer ken.

Ek is nie eintlik ’n mens wat nuwejaarsvoornemens maak nie, maar in Januarie vanjaar het ek wel een gehad: 2025 sal mý jaar wees. Ek het soveel planne vir 2025 gehad. Daar was selfs ’n naaldwerkkursus by ’n modeontwerper op my horison.

My eenvoudige nuwejaarsvoorneme het toe inderdaad waar geword – maar op ’n heel ander manier as wat ek verwag het …

In Februarie het dit wat ek die heel meeste gevrees het gebeur: Ek het ’n knop in my bors gevoel. My huisdokter het vermoed dis bloot ’n sist en het my vir ’n mammogram gestuur.

Meer as een keer het ek dié gerusstellende woorde by die dokters en personeellede gehoor: “Dis nie kanker nie, want kanker het tentakels.” Daar is wel aanbeveel dat ek later ’n biopsie moes laat doen. Ek wou nie, want ek het opgesien teen die alewige gestoei met die mediese fonds. Gelukkig het my aanvoeling my gesê ek moet gaan.

Later het die dokters aan my gesê dat ek, indien ek die biopsie uitgestel het, slegs nog ’n jaar lank sou leef.

Tydens die biopsie was nie een van die drie personeellede aan diens bekommerd nie. Ek is daar weg met dié troos in my ore: “Moenie slapelose nagte hê nie; dis dalk net ’n nie-kwaadaardige gewas.”

Die skoknuus

Drie dae later het die dokter my gebel en gesê: “Dis driedubbele-negatiewe borskanker. Dis baie aggressief.”

LEES OOK: Boervrou getuig te midde van droogte, kanker: ‘Jy leer kinderlik glo wanneer die uitsigloosheid jou baasraak’

Hoe naïef was ek nie! Almal het dan gesê dis nie kanker nie. En ek het nie eens geweet ’n mens kry verskillende soorte borskanker nie. Nou is dit wat ek het boonop aggressief …
My wêreld het gaan staan. Ek moes die skoknuus verwerk. Tegelykertyd moes ek besluite neem, en gou ook.

Wat hierna sou volg, wens ek nie my grootste vyand toe nie. Die voorbereidingsproses, waartydens skanderings en bloedtoetse die kanker se ware aard en verspreiding in my liggaam bepaal, was regtig rof. Daar was ’n CT-skandering en later ’n volledige MRI-skandering. Daar was etlike X-strale en bloedtoetse en tumormerker-toetse. Daar was 12 chemoterapie-sessies, insluitende vier sogenaamde “rooiduiwel”-toedienings.Ek het al die hare op my lyf verloor.

My kombuisvloer

Nadat ek die verbysterende diagnose moes aanhoor, het daar ’n skamele tien km-rit huis toe voorgelê waartydens ek die nuus moes verwerk. Toe moes ek een van die ergste dinge denkbaar doen: Ek moes my ouers, wat in Gauteng woon, van die diagnose vertel.

Daar was toe maar enkele minute oor wat ek op die kombuisvloer kon gaan sit en my uithuil voordat my man JJ en ons dogters sou tuiskom. Ek wou nie dat hulle my só sien nie. Later sou ek my menige kere op die kombuisvloer bevind, onder meer wanneer nóg ’n skandering se uitslag my bereik, en die kere tussen die 12 chemoterapie-sessies deur. Dan huil ek my uit, ruk my reg, en gaan weer aan.

Die aanvang van die hele skandering-terapie-proses was die ergste, want dit het soos ’n doodsvonnis gevoel. Daarna het die “ek sal oukei wees”-gewaarwording ingetree.

Die vier “rooiduiwel”-toedienings was regtig erg. Die ander agt chemoterapie-sessies was wel ligter, maar daar was newe-effekte – senuweeskade (neuropatie) en ’n bloeiende neus.

My tweelingsussie Jean Steele het my in daardie tyd gedra. Sy woon in Mpumalanga en sy het van daar af gesorg dat daar vir my ’n nommerpas pruik in die Kaap was én sy het gereël dat ek my wenkbroue laat tattoeëer.

Toe my pa, en toe ook Jean

Ek het wonderlike ouers, Derek en Joan Korff. My ma is seker een van die sterkste mense wat ek ken. Sy het my kom ondersteun tydens die eerste sarsie behandeling.

Maar toe is my pa met prostaatkanker gediagnoseer en hy moes geopereer word. My ma is terug Gauteng toe.

So tussendeur het Jean haar laat toets vir die sogenaamde Angelina Jolie-geen. Hierdie BRCA1- of BRCA2-geen word dikwels verbind met driedubbele-negatiewe kanker. Dit is aggressief en moeilik behandelbaar.
Terwyl ’n mediese span my behandeling in Kaapstad saamgestel het, het Jean my laat weet dat haar toets vir daardie geen ’n positiewe uitslag opgelewer het.

Ons is ’n identiese tweeling – en sowaar: Die daaropvolgende genetiese toetse het bevestig dat sowel ek as Jean die BRCA1- of BRCA2-geen dra.

Jean het gekies vir ’n voorkomende dubbele mastektomie, en ons liewe ma het haar in Mpumalanga gaan ondersteun.

Ondersteuning sonder weerga

Intussen het ek grootoog beleef hoe sóveel mense ons ondersteun. Die meeste chemoterapie-susters is engele, het ek geleer. En die grootste ondersteuning denkbaar het gekom van die ouers en leerkragte by ons dogters se skool: Daar was geskenkbewyse, kinderkosblikke, en ’n ware “ete-netwerk” van gekookte kos. Daar was speelmiddae vir ons dogters, asook talle en talle boodskappe wat ons sterkte toewens.

Drie kollegas wat voorheen ’n kanker-pad gestap het se hulp en raad was goud werd.

JJ moes eensklaps pa én ma wees sodat ek kon rus én steeds voltyds werk. Hy het tydens elke chemoterapie-sessie by my kom sit en werk. Al het die vrese soms gedreig om ons te oorweldig het ons saam-saam alles so normaal moontlik gehou, ook ter wille van ons dogters, onderskeidelik agt en tien jaar oud.

Die geveg in jou kop

Vandag kyk ons vol dankbaarheid terug en sien hoe ons gesin en familie staande gebly het. Almal se operasies is nou agter die rug. Ek het ook ’n dubbele mastektomie ondergaan, en het pas die blye nuus ontvang dat ek kankervry is.

Later vanjaar wag daar verdere rekonstruktiewe chirurgie, maar ten minste kan ons nou asemhaal.

Ek reken die grootste geveg met ’n kankerdiagnose speel in jou kop af. Dit was wel ses maande lank ook ’n liggaamlike uitdaging. Maar tot vandag toe “mors” my kop met my, want elke pyn of bloukol laat my opnuut stres. Dit verg baie gebed en deurlopende positiewe selfspraak om te voorkom dat die vrese my oorweldig.

Ek het die hele tyd geglo dit help nie om te gaan lê nie. Ek moes nie toelaat dat die siekte my onderkry nie. In die dae wat ek kon, het ek my mooi aangetrek, my pruik reggeskuif, my gegrimeer en gaan werk.


As 2025 ons almal een ding kan leer, is dit om sonder ophou te bid. Al die aande wat ek behoorlik omgebid het was toe die moeite werd. My verhouding met God het in dié tyd verdiep. Hy het my deurgaans gedra.

My raad aan ander vroue is: Vertrou jou sesde sintuig en maak ’n afspraak vir daardie roetine-ondersoek. ’n Mens dink altyd sulke dinge gebeur met ander mense, maar kanker diskrimineer nie. En as jy jou oë uitvee, is dit dalk jy. Om kanker vroeg op te spoor maak ’n lewensbelangrike verskil.

*Bernita (39) en haar man JJ Horn het 12 jaar gelede uit Gauteng na Somerset-Wes verhuis. Sy is ’n skoonheidsterapeut. Ter wille van hul gesinslewe werk sy nou in die rekeninge-afdeling van ’n groep sielkundiges en psigiaters.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►