Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Van ’n intensiewesorgeenheid na die Comrades – vrou vertel van haar wonderbaarlike herstel ná ’n motorongeluk

Marga Pienaar was vanjaar die 41ste vrou wat die Comrades-eindstreep oorgesteek het. Dit was ’n buitengewone prestasie. Sy was immers jare gelede ses weke lank in ’n koma, in ’n kritieke toestand, verbete aan ’t veg om haar lewe. En nadat sy wonderbaarlik herstel het, het die dokters gesê sy sou nooit weer hardloop nie. Marga het nie saamgestem nie.

’n Motorongeluk in 2012 het Marga Pienaar van Bloemfontein by die dood laat omdraai.

Wat gevolg het, was ’n stryd om oorlewing. Maar vandag, veertien jaar later, staan sy nie net bekend as ’n Comrades-silwermedaljewenner nie, maar ook as iemand wat eerstehands beleef het dat God se plan veel groter is as enige menslike voorspelling.

Die destydse ongeluk het lewensgevaarlike beserings tot gevolg gehad: Haar femur was gebreek, haar milt het gebars en haar lewer was ernstig beskadig. Haar toestand was kritiek, en die dokters het geen ander keuse gehad as om haar in ’n geïnduseerde koma te plaas nie. In die daaropvolgende ses weke het haar familie nie geweet of sy dit sou oorleef nie.

‘My ouers moes kom afskeid neem’

Marga vertel: “Die dokters het my ouers reeds die aand van die ongeluk laat kom om afskeid te neem. My bloeddruk het gevaarlik laag gedaal en hulle het nie gedink ek sou die nag oorleef nie.”

LEES OOK: ‘Ek hardloop vir almal wat moeg geveg is’ – Bloem-vrou pak uithouwedloop in Antarktika aan

En indien sy dit wel sou oorleef, was die vooruitsigte onseker. “Hulle het gesê ek kan moontlik my sig verloor. Niemand kon vir my familie sê hoe my lewe daarna sou lyk nie.”

Maar terwyl mense net beperkings gesien het, het God ’n ander storie geskryf. “Hy het reeds die laaste woord gehad,” sê Marga vandag.

Ná ses weke in die koma het sy wakker geword. Die dokters het gereken sy sou ’n trageostomie nodig hê om haar asemhaling te ondersteun. “Ek was ontsettend bang daarvoor. Ek het gevoel my selfbeeld sou dit nie kon hanteer nie.”

Toe gebeur iets wat die mediese personeel nie kon verklaar nie. Marga vertel: “Ek het eenvoudig die suurstofpype uitgeruk en self begin asemhaal.”

Die medici het later gesê dat dié optrede waarskynlik haar lewe gered het. Daar was in daardie tyd ’n slegte kiem in die intensiewesorgeenheid (ISE). Terwyl sy daar gelê het, het sy gesien hoe ander pasiënte hul stryd verloor. “Een vir een het hulle weggegaan. Uiteindelik was dit net ek en nog ’n vrou, wat in ’n kamer langs myne gelê het, wat die ISE lewendig verlaat het.”

Toe sy begin herstel, het die dokters haar wel meegedeel dat sy dalk nooit weer sou hardloop nie.

‘Ons het marathons in ons gedagtes gehardloop’

“Ek het gehoor wat hulle sê, maar ek het geweet God het nog nie my storie klaar geskryf nie.” Daar was een Bybelvers wat haar elke dag gedra het: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13).

“Daardie vers het my deur die donkerste dae van my lewe gedra. Ek het elke dag daaraan vasgehou.”

Terwyl sy nog in die hospitaal was, het sy en haar verpleegster, suster Woutri Mouglestone, elke aand iets besonders gedoen: “Ons het marathons gehardloop – nie met ons voete nie, maar in ons gedagtes.”

Hulle het saam gedroom, saam gebid en saam geglo. “Ons het gepraat oor die dag wanneer ek weer sou hardloop. Daardie gesprekke het my hoop gegee.”

Die wonderlike ironie is dat Marga se herstel ook haar versorger geïnspireer het. Marga vertel: “Vandag is Woutri ’n uitsonderlike marathonatleet, wat selfs ’n marathon in Antarktika voltooi het. Ons het mekaar geïnspireer sonder dat ons dit destyds besef het.”

Woutri het ook haar getuienis onlangs met LiG gedeel.

‘Dis waar ek God ontmoet’

Uiteindelik kon Marga wel hardloop. En dié keer het sy ontdek dit gaan oor veel meer as slegs fiksheid. Wanneer die lewe haar gedruk het, het sy haar hardloopskoene aangetrek. “En daar, op die pad, het ek my kop skoon gekry. Daar het ek gebid, het ek vrede gevind.”

So het hardloop een van die belangrikste maniere geword waarop sy God ontmoet. “Ek sê altyd hardloop is die beste medisyne vir my liggaam én vir my siel.”

Marga het nog voor die Covid-19-pandemie vir die Comrades-marathon ingeskryf. Toe die wedloop later uitgestel is, het sy egter nie ophou oefen nie. “Ek het tog nie net vir ’n spesifieke wedloop geoefen nie; ek het aanhou hardloop omdat dit deel van my genesing geword het.”

In 2024 het Marga se groot droom waar geword: Sy het haar eerste Comrades voltooi, die sogenaamde “op”-wedloop van Durban na Pietermaritzburg, in ‘n tyd van 7:25:30.

“Ek het doelbewus konserwatief gehardloop. Ek wou ervaring opdoen en die wedloop geniet.” Toe sy uiteindelik die eindstreep oorsteek, het sy geweet daar het ’n nuwe hoofstuk in haar lewe aangebreek.

“Ek het ook besef dat geloof, voorbereiding en deursettingsvermoë jou verder dra as wat jy ooit sou dink.”

In 2026 het Marga vir haar tweede Comrades ingeskryf. Die oggend voor die wedloop het sy haar voormalige Afrikaans-onderwyseres, Johanette Jacobs, raakgeloop. “Juffrou Johanette het daardie jaar haar 15de Comrades aangedurf.”

Dié ontmoeting was vir Marga ’n besonder emosionele geleentheid. Sy vertel: “Juffrou Johanette het my reeds op skool geïnspireer om eendag die Comrades te hardloop. Elke jaar, wanneer sy ná die wedloop teruggekom het skool toe en haar stories vertel het, het ek geweet dis ook mý droom.”

Om vanjaar saam met haar oudonderwyseres te kon hardloop, het die sirkel op ’n besonderse manier voltooi. Dié keer het Marga die eindstreep in 7:23:49 oorgesteek, as die 41ste vrou, en sodoende ’n silwermedalje verdien.

“Vir baie mense is dit bloot ’n sportprestasie; vir my is dit die bewys dat God steeds wonderwerke doen.” Want wat min mense geweet het, is dat sy die wedloop met ’n besering voltooi het. “En ’n week later het ’n skandering gewys dat ek reeds ’n stresfraktuur gehad het.”

Maar selfs dit kon haar nie onderkry nie. “Ek het geweet wie my deur elke kilometer gedra het.”

Marga sê sy droom daarvan om weer die Comrades aan te pak, vir dalk nog ’n beter tyd. “Dis nie omdat ’n medalje my definieer nie, maar omdat elke kilometer my daaraan herinner hoe ver God my reeds gedra het.”

‘Die Comrades is nie my grootste oorwinning nie’

Wanneer mense haar vra wat haar grootste prestasie is, verwag hulle dalk dat sy 2026 se silwermedalje sal noem. Maar haar antwoord verras hulle telkens: “My grootste oorwinning was nie die Comrades en daardie tyd nie; dit was die dag toe ek weer my tekkies kon aantrek en vir die eerste keer ná die ongeluk kon hardloop.”

Dit het vir haar veel meer beteken as wat enige medalje kan. “Want dit was die dag toe ek besef het ek het ’n tweede kans op lewe gekry. Ons dink mos maklik dat gesondheid, beweging en selfs nog ’n nuwe dag iets vanselfsprekends is. Maar elke asemteug is ’n geskenk. En elke tree wat ons gee en elke sonsopkoms wat ons beleef, is genade.”

Daarom probeer sy vandag doelbewus leef. “Ek wil my kinders styf vashou,” sê  sy. “Ek wil my drome uitleef. Ek wil dankbaar wees vir die voorreg om gesond te kan wees.

“Ons moet tog nie wag vir ’n tragedie om plaas te vind voordat ons leer hoe kosbaar die lewe is nie. Wees én leef dankbaar vandag. Sê vir die mense vir wie jy lief is dat jy hulle liefhet. Jaag jou drome na, want jy weet nooit wanneer dit jou laaste kans sal wees nie.”

Wanneer sy op alles terugkyk, besef sy dat haar verhaal eintlik oor baie meer gaan as ’n motorongeluk, ’n koma of ’n marathon. “My storie gaan oor geloof wanneer alles verlore lyk. Dit gaan oor hoop wanneer die wêreld sê dis onmoontlik.”

En uiteindelik keer sy terug na die woorde wat haar deur elke donker nag, elke rehabilitasiesessie en elke kilometer op die langpad gedra het: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Maar vir Marga Pienaar is dit lankal nie bloot ’n Bybelvers nie; dit is die waarheid wat haar lewe gered het.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►