Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Van verwerping na genesing: ‘God het my storie herskryf’

Zacha Hanekam van Oudtshoorn se lewe het reeds as sewejarige uitmekaar geval toe haar pa hulle verlaat het. Dit het tot gevolg gehad dat sy en haar broer en haar suster regdeur hul skooljare tussen familielede moes rondswerf. Dertig jaar later vertel sy hoe God haar genees het, hoe Hy haar gewys het Hy is alles wat sy nodig het.

Nadat my pa ons verlaat en in ’n ander provinsie gaan woon het, moes ek en my ma, my suster Zinzi (10) en my tweejarige boetie Sachin, ’n ander heenkome vind. Ons het by my ouma ingetrek, waar ons 19 mense onder een dak was. Dit was swaar. Baie aande het ons nie kos gehad nie en dan moes ons by ander mense iets gaan vra om te eet.

Soms moes ons mekaar se klere dra, en soms seep as deodorant gebruik.

Dit was asof niemand omgegee het nie

My ma was moeg en gebroke, en sy het later met alkoholmisbruik gesukkel. Niks het vir my sin gemaak nie; ek het net gevoel iets is stukkend.

Ek het my altyd met ander kinders vergelyk: kinders met nuwe boeke, nuwe skoene en vol kosblikke. En ék staan by die skool in die ry vir brood en melk.

LEES OOK: Uittreksel: ‘Moekie, jy het my weggegooi, maar ek vergewe jou’

Ek het dikwels met trane in my oë van die skool af huis toe geloop, want ek het geweet daar wag niks vir my by die huis nie.

Intussen het daar ook ’n ander soort seer in my begin groei: Dit was asof niemand vir my omgegee het nie. Ouma het my wel geleer om te bid, en my gewys hoe om die huis skoon te maak en wasgoed te was.

Ons gesinnetjie is soms noodgedwonge opgebreek en moes dan in verskillende huise tuisgaan. In sulke tye het dit gevoel asof jy bloot daar “toegelaat” word, maar nooit rêrig daar hoort nie.

Ek het ’n bang mens geword, en ek was veral bang vir mans. Ek het gesien wat my pa aan my ma gedoen het en ek het myself belowe dat ek nooit sal toelaat dat ’n ander mens my só sal breek nie.

Ek het hard gewerk en matriek voltooi. Toe het ek by die weermag aangesluit. Ek het goed gevaar en is as kandidaat-offisier gekies. Maar diep binne-in my was ek steeds die verwerpte, onseker dogtertjie.  

Dié wat tog die leemtes probeer vul het

Deesdae besef ek hoe daar tog mense was wat probeer het om die leemtes te vul wat my ouers nie kon nie. Daar was hulp met blyplek; daar was my graad 4-juffrou wat iets in my hand gedruk het wanneer ek haar seuntjie ná skool opgepas het; en daar was tannie Roslyn wat ons soggens voor skool by haar voordeur ingewag het met toebroodjies in die hand.

In my matriekjaar het die einste tannie saam met my deur die hele Oudtshoorn  geloop op soek na ’n matriekafskeidrok. Uiteindelik het sy die R250-huurgeld daarvoor betaal.

Voordat ek Brandon Hanekam in Kimberley leer ken het, waar hy ’n dieetkundige by die weermag was, het ek die leemte wat in my was met verkeerde verhoudings probeer vul. Ek het probeer om by mense te kry wat net God kan gee.

Maar God het sy plan gereed gehad: Op sy tyd bewys Hy sy getrouheid, want in Brandon het Hy vir my iemand gestuur wat my vertroue in mans herstel het. Iemand wat my liefhet, respekteer en saam met my bid. Ons is in Desember 2017 getroud, en in 2020 het ek uit die weermag bedank.

Maar mediese toetse het uitgewys dat ek nie kon swanger raak nie. Dit was net nóg ’n stuk seer. Het God my dan vergeet? Moes ek ook hiérvoor veg?

Nee, ek het steeds in Hom geglo, maar tog gewonder of Hy ooit mý stem hoor.

Een aand het Hy vir Brandon in ’n droom gewys dat ons ’n seuntjie sal hê. Ek was egter skepties. Eintlik bloot kleingelowig, want ek het eerder die dokter geglo as God se tekens.

Maar gou het my ongeloof verdwyn, want verlede jaar het ons van Kimberley af Oudtshoorn toe getrek … met ons seuns, Elijah (5) en Daniel (2). God het al twee name in ’n droom aan Brandon geopenbaar. Deur ons seuns herinner God my elke keer dat Hy my nooit verlaat het nie.

Vergifnis het my bevry

Ek was al die jare baie kwaad vir my ouers. En bitter: Hoe kon hulle toelaat dat ons so swaar kry?

God het my egter geleer om hulle te vergewe. En vergifnis het my bevry van die pyn én my nader aan Hom gebring.

Deesdae is daar respek en liefde tussen my en my ma, al is ons nie na aan mekaar nie.

En ek is nie meer die verlate kind nie. Ek is ’n vrou wat weet sy is gekies, geliefd en genees. Waar daar eens verwerping was, is daar nou vervulling. Waar daar leegheid was, is daar nou betekenis.

God het my identiteit herstel. Hy het my gewys dat Hy iets in my gesien het wat niemand anders kon raaksien nie. Ek is geroep en gesalf met ’n doel. Hy het my deur vuur gelei, Hy het my nie daarin gelos nie.

Ek het die waarheid van Psalm 34:19 geleer: “Die Here is naby dié wat gebroke is van hart, en Hy red dié wat verslae is van gees.”

Ek wil nie hê my kinders moet ooit soveel hartseer en onsekerheid beleef soos wat ek moes nie. Brandon en ek het doelbewus besluit om ons kinders in ’n omgewing groot te maak waar hulle erkenning, liefde, sekuriteit en God se leiding sal ervaar. Die seer van my verlede moenie ’n impak op hul lewe hê nie.  

Ek het geleer om alles na God te neem

Noudat ek terug is in Oudtshoorn, onthou ek soms ’n stuk hartseer uit my kinderjare. Ek glo dis God se manier om volle genesing te bewerkstellig.

Ek het geleer om alles na Hom toe te neem, om dit in sy teenwoordigheid te hanteer. Hy het my gewys dat Hy alles is wat ek nodig het. Hy het mense in my lewe geplaas om al die leemtes te vul. Ek praat met Brandon daaroor, ek neem dit na God toe, of ek skryf dit neer. Dis altyd belangrik om eerlik te wees oor dit wat in jou aan die gebeur is.

As jy jou vandag in ’n donker plek bevind, wil ek net sê: Jy is nie vergete nie; God sien jou en Hy hoor jou, al voel dit soms asof daar geen uitkoms is nie. Glo my maar, daar is lig aan die einde van elke tonnel.

Alle eer aan Hom. Dis Hy wat my genees en vrygemaak het. Dis Hy wat my storie herskryf het. Hy sal dit vir jou ook doen. Geen mens van wie ons in die Bybel lees, was ná ’n ontmoeting met God ooit weer dieselfde nie.

Mag jy Hom ook só ontmoet.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►