Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vanes-Mari: ‘Die Here het my elke tree gedra’

Alles wat die voormalige Proteanetbalspeler Vanes-Mari du Toit aanpak, word gekenmerk deur die oorgawe waarmee sy dit doen – of sy nou voor die TV-kamera as aanbieder of kommentator inskuif, of ’n netbalkliniek vir jong meisies aanbied, of ’n bergpiek in die Himalajas uitklim. “Ek wil al die talente en gawes wat ek van God ontvang het ten volle benut, en Hom daarmee verheerlik,” sê sy.

As jy ’n jaar gelede vir Vanes-Mari du Toit gesê het sy sal in Mei 2024 een van die hoogste lpieke, Putha Hiunchuli, in die Himalaja-bergreeks in Nepal uitklim, sou sy jou uitgelag het. “Ek het dan ’n vrees vir hoogtes,” sê sy, “en ek sou dit vroeër nie eens gewaag het om teen Tafelberg uit te klim nie.”

Maar toe die geleentheid hom voordoen om saam met die MadSwimmerspan* dié avontuur aan te pak en, op die koop toe, in ’n poel te swem wat 6 405 meter bo seespieël is, het sy nie op haar laat wag nie.

Vanes-Mari vertel: “Ek moedig altyd jong netbalspelers by my netbalklinieke aan om buite hul gemaksone te beweeg. Boonop wou ek hê my drie jonger boeties moet trots wees op iets wat ek vermag het. En wat ’n wonderlike nalatenskap is dit nie!”

LEES OOK: Lindie Strydom: ‘Swaarkry leer ons baie oor God se nabyheid’

Voorbereidings en vrieskoue

Dit het intense voorbereiding geverg om hierdie groot mylpaal te bereik, sê sy. “Ek het net ’n maand gehad om voor te berei.

“Een van my vriende, ’n persoonlike afrigter, het spesiaal vir my ’n ysbad by die gimnasium laat insit. Ek het elke dag so twee tot drie ure in die gimnasium geoefen, en dan van vyf minute tot ’n kwartier lank in die ysbad gaan sit. Ek het dit gedoen om aan die yskoue temperatuur in die Himalajas gewoond te raak; die bad was 2-5 grade Celsius.”

Sy moes haar ook geestelik voorberei, omdat dit ’n lewensgevaarlike tog is. “Ek was glad nie naïef oor wat op my sou wag nie. Ek moes vrede maak met die dood. En ek het voor my vertrek afskeid geneem van my vriende en familie, asof ek hulle nooit weer sou sien nie.”

Maar niks, sê sy vandag, kan jou regtig voorberei op die angswekkende situasie waarin jy jou begewe nie. “Jy kan vriesbrand opdoen; daar is rotsstortings. Jy kan akute bergsiekte opdoen vanweë die lugdruk, duisende kilometer bo seespieël. Jy kan vog op die longe opdoen, of vog op die brein. Dis ’n eindelose klomp gevare.

“Gelukkig het dr Chiara Baard, deel van die span, ons elke dag gemonitor. Ek het verkoue gehad en my neus het aanhoudend geloop; dit was naderhand bloedrooi. Ek was bang dat ek my neus sou verloor omdat jy inderdaad ledemate in die ysige koue kan verloor wanneer die bloedtoevoer nie na wense is nie.

“En net voordat ons die piek bereik het, het ek gegly en my rug beseer. Gelukkig kon ek gou genoeg herstel om verder te klim.”

Die MadSwimmer-span van vyf lede, asook twee kameramanne, het elke dag geklim, twaalf ure per dag. Drie-en-’nhalf weke lank. Hulle is bygestaan deur 18 sjerpas en ’n karavaan met 35 donkies en knorbuffels wat hul bagasie gekarwei het.

Nadat hulle die piek bereik het, het die sjerpas die nag voor die groot viering ’n swempoel met plastiek in die ys gebou. Die sjerpas het ys gesmelt en verwarm en uiteindelik vir 1 600 liter water in die poel gesorg.

Die water in die poel was relatief warm, gemeet aan die minus 20 grade wat dit snags in die berge was, en die minus 6 grade bedags.

Volgens Vanes-Mari het haar onwrikbare geloof in die Here haar elke tree van die bergekspedisie gedra. Foto verskaf

‘Besweer jou vrese!’

“Met hierdie groot uitdaging – en oorwinning – het ek weer eens geleer dat jy nie moet toelaat dat jou vrese ’n houvas op jou kry nie,” sê Vanes-Mari. “Ek het ’n paar jaar gelede valskerm gespring om my vrees vir hoogtes te oorwin.”

Sy sê haar onwrikbare geloof in die Here het haar elke tree van die bergekspedisie gedra. “In Efesiërs 3:20 skryf Paulus oor Hom ‘wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’.

“Dié hele ondervinding het my geleer dat ek tot enigiets in staat is deur God se krag, en dat Hy my elke dag beskerm. Die klimtog was ook ’n bevestiging van God se plan vir my lewe.”

Sport, die goue draad

Dié 34-jarige lewenslustige langbeen staan 1,89 meter in haar sokkies. Sy was ’n groot uitblinker op die netbalbaan en het destyds as lid van die nasionale span haar land 38 keer internasionaal verteenwoordig.

Nadat sy as professionele netbalspeler uitgetree het, het sy nie uit die kollig verdwyn nie. Inteendeel. Die publiek het in 2018 weer van haar gehoor (én haar gesien) toe sy haar slag as danser in die reeks Dancing With The Stars gewys het. In 2020 was sy die aanbieder van Hoor my, sien my, soen my. En verlede jaar van die gewigsverliesprogram Skud dit af!

Sy is nou reeds tien jaar lank aanbieder en kommentator op die DStv-sportkanaal SuperSport. Sy het ook in 2019, tydens die Wêreldbekerrugby-toernooi in Japan, die kykNET-program In Japan, Ja! saam met Hamilton Wessels aangebied.

Verlede jaar het dié twee die Bokke na Frankryk vergesel en die reisprogram In Frans, Ja! het gevolg.

“Sport loop soos ’n goue draad deur my lewe en loopbaan,” sê sy. “En ek hou daarvan om met atlete en hul familielede en aanhangers te gesels, en hul storie te vertel.”

Daar is byna nie ’n sportsoort waarin sy nie belangstel nie – sokker, tennis, gholf, rugby. Netbal, natuurlik, en noem maar op …

Buiten kommentator en aanbieder is sy deesdae ook vervaardiger by SuperSport, en die onlangse Olimpiese Spele het haar druk besig gehou.

Sy hou ook baie daarvan om ongewone stories van gewone mense te vertel, en sy is sedert 2019 veldaanbieder vir die kykNET-tydskrifprogram Kwêla.

“Ja, die lewe is vól teleurstellings en negatiwiteit, maar met God aan jou kant word daardie berg ál minder intimiderend,” vertel Vanes-Mari. Foto: Annemarie Wichmann

’n Goeie balans

Haar “liefdestaal” bly netbalafrigting, sê Vanes-Mari. Sy bied twee tot drie keer per jaar ’n netbalkliniek by skole aan. “Ek sou graag my eie span wou hê om af te rig, maar vanweë my baie vol program is dit nie moontlik nie. Dit is wel ’n voorreg om iets terug te ploeg in jong meisies se lewe. Én om my passie en iets van my geestelike lewe met hulle te deel.”

Dis vir haar belangrik om ’n goeie balans te handhaaf, en daarom ruim sy tyd in om ná ’n bedrywige dag af te skakel en stiltetyd te hou. “Ek tap vir my ’n lekker bad water, steek kerse aan, luister gospelmusiek en bring tyd saam met die Here deur.”

Op haar speellys is geestelike musiek van, onder andere, Hillsong en Rend Collective. Sy luister ook graag na inspirerende en geestelike potgooie. “Ek het na geestelike potgooie op die berg geluister om my te inspireer.”

Die yslike berg wat sy moes uitklim, het haar op meer as een manier geestelik verryk. Dié avontuur is vir haar simbolies van die lewe.

“Ek het besef ons koester almal drome, maar dat ons slegs kan beheer wat ons kan beheer. Al is die berg wat jy elke dag in jou lewe moet uitklim intimiderend, kan jy net een tree op ’n slag klim. Daar is geen reguit pad na bo nie; die roete is vol kronkels en draaie.

“Ja, die lewe is vól teleurstellings en negatiwiteit, maar met God aan jou kant word daardie berg ál minder intimiderend.”

*MadSwimmer is ’n liefdadigheidsorganisasie wat, onder meer, fondse insamel vir kinders wat kanker opdoen, en vir brandslagoffers. Hulle wakker ook bewustheid aan vir klimaatverandering.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.