Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Verskilmaker: ‘Jesus se voetspore lei na ander se nood’

Deur René Badenhorst

 “Wanneer ons geloofslewe net daarop ingestel is om onsself te ‘verbeter’, mis ons die punt,” sê Hester du Toit. “As jy in Jesus se voetspore volg, lei dit jou altyd na ander se nood.”

Hester is ’n finansiële bestuurder en sakevrou. Naweke en sommige weeksaande wy sy haar tyd aan mense in nood. Sy is veral nou betrokke by die nood van die plaasgemeenskap in Wallacedene naby Brackenfell in Kaapstad. Sy en haar man Francois het 16 jaar gelede daar ’n gemeente gestig.

“Ons wou graag vir daardie mense van Jesus vertel,” sê Hester. “Maar jy kan nie bloot so ’n boodskap bring as daar soveel fisiese nood is nie; jy moet ook holisties betrokke raak. Jy moet soos die mense in die eerste Christelike gemeentes vir iemand kan sê: ‘Alles wat ek het, deel ek met jou.’

“Ons spreek elke soort nood aan: Ons lei daardie mense op wat swangerskap en MIV/vigs betref; ons soek borgskappe om die kinders in die skool te hou. Deur só betrokke te raak, het ons ’n sterk vertrouensband opgebou.”

LEES OOK: Vrou bak koekies om haar man te red

Daar is baie maniere om by armes se nood betrokke te raak, sê Hester. “Iemand wat in armoede leef, word nie gehoor nie. Hulle moet vat wat hulle kry, hulle het nie keuses nie. Hulle ontwikkel nooit ’n eie identiteit nie.

“Daar is veral ook ’n groot behoefte aan hulp met aansoeke vir noodsaaklike dokumente, soos geboortesertifikate. En hulp met aansoeke vir pensioen.”

Hester vertel hoe sy ’n meisie gehelp het om haar matrieksertifikaat by die onderwysdepartement in die hande te kry. As jy nie geld vir vervoer of toegang tot ’n selfoonrekening het nie, kan die eenvoudigste takie ’n reuseprobleem word. Magteloosheid verlam mense.

Hester kyk ook na die nood in die gemeenskap waar sy woon. So het sy vasgestel dat 45% van die blyplekke in haar omgewing gebroke gesinne huisves.

Baie van hierdie mense is eensaam, vele het kerklos geword. Gevolglik het Hester en Francois se huis Sondagmiddae ’n tuiste geword vir sulke mense om saam die Bybel te ontdek.

Daar is geen manier waarop jy transformasie in ’n gemeenskap kan bewerkstellig as jy nie opofferend is en doelgerig te werk gaan nie, sê Hester. “As Christus daardie groot prys vir my betaal het, as Hy uit sy ‘gemaksone’ in die hemel aarde toe gekom het en 33 jaar lank in ongerief kon werk, hoekom kan ék nie soms uit my gemaksone kom en in ongerief werk nie?”

Hoe bou koninkrykskinders ’n brug tussen hulle en die wêreld? Deur doodgewoon ander se nood aan te spreek, sê Hester du Toit.

Baie mense voel hulle kan nie by ander betrokke raak nie, omdat hul eie gesin genoeg uitdagings het om te trotseer.

Hierop sê Hester: “Wie in hierdie wêreld word nie deur probleme in die gesig gestaar nie? Ek reken dat die meeste probleme in ’n Christelike gesin ontstaan wanneer so ’n gesin selfgesentreerd leef en deurentyd binne toe kyk.”

Sy verwys na haar eie huwelik: “Ons is ’n saamgestelde gesin, en dit was aanvanklik moeilik om al die nuwe verhoudings te hanteer. Maar ons was nie op die skommelinge hier binne gefokus nie; die Gees van die Here het ons huwelik en gesin bymekaar gehou. Daar was nie genoeg tyd om onsself jammer te kry nie; ons het op God se koninkryk gefokus.

“Solank ’n mens net oë het vir die dinge wat jý moet deurmaak, mis jy die voorreg van dissipelskap. As jy egter elke oggend wakker word en sê: ‘Jesus, U het my verlos. Ek gaan wel deur ’n skeisaak, my kind gebruik dwelms – maar vandag wil ek ’n verskil in u koninkryk maak,’ dan sal die Here op daardie dag iemand oor jou pad stuur.

“In onsself is ons niks, maar deur die Gees van die Here wat in ons werk, kan ons ’n verskil maak.

“Jy vergeet hoe groot jou probleme is wanneer die Here mense oor jou pad stuur wat groter probleme as jy het. Die Here gebruik sulke mense ook om vir jou genesing te bring.

“Kortom: Hoe bou koninkrykskinders ’n brug tussen hulle en die wêreld? Deur doodgewoon ander se nood aan te spreek.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.