Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Emosies wat tieners ervaar

Emosies wat tieners ervaar

Vir baie ouers voel die emosies wat tieners ervaar soos ‘n hewige storm – jy is nooit seker hoe om dit te trotseer nie. Jou kind kan van ’n vrolik en laggende bui omswaai om binne ‘n oomblik kwaad of hartseer te word. Jy vra jouself dalk af: “Wat gaan met my kind aan?” Die antwoord lê in ’n kombinasie van biologie, breinontwikkeling en sosiale druk – en dit is deel van ’n normale fase in jou kind se lewe.

Hoekom ry emosies wat tieners ervaar wipplank?

1. Hormone en fisiese veranderinge

Die puberteitshormone veroorsaak dat emosies sterker en vinniger ervaar word. Selfvertroue kan ook wissel: tieners voel soms baie seker van hulleself en ander kere heel onseker oor hul voorkoms of plek in die groep.

Volgens die Mayo Clinic in Amerika, is hierdie hormonale veranderinge direk gekoppel aan buierigheid en emosionele uitbarstings.

2. Jou tiener se brein is besig om te ontwikkel

Die brein se amigdala, wat verantwoordelik is vir om emosies te verwerk, is in die tienerjare baie aktief. Die prefrontale korteks wat die besluitnemingsproses en selfbeheer hanteer, moet nog ontwikkel. Dit veroorsaak dat tieners dikwels vinnig reageer sonder om die gevolge te oorweeg. Kenners beklemtoon dat hierdie wanbalans normaal is en met ouderdom stabiliseer.

3. Sosiale – en identiteitsdruk

Tieners vra: “Wie is ek? Waar hoort ek?” Portuurgroepe, sosiale media en akademiese druk maak hierdie vrae selfs moeiliker om te beantwoord. Dit verklaar waarom hulle soms emosioneel reageer op klein voorvalle – dit voel groot in die konteks van hulle identiteitsvorming.

Hoe kan ouers emosies wat tieners ervaar, beter hanteer?

1 Erken die emosies wat tieners ervaar

Moenie sê: “Jy oorreageer” nie. Sê eerder: “Ek sien jy is baie ontsteld – wil jy daaroor praat?”

2 Gee ruimte, maar bly beskikbaar

Soms het jou tiener tyd alleen nodig. Ander kere het hulle jou nabyheid nodig. Wees oop vir albei.

3 Wees ’n anker van stabiliteit

Hou vas aan roetine: gesinsmaaltye, gesamentlike gebed en gesinsaktiwiteite gee jou tiener ’n gevoel van sekuriteit.

4 Gebruik geloof as julle fondament

Praat saam oor hoe God ons deur emosies dra. Wys vir hulle dat emosies nie verkeerd is nie – selfs Jesus het gehuil (Johannes 11:35). Die Psalms is vol van die emosies (ja, die wipplank-emosies!) wat Dawid ervaar het.

’n Bybelse perspektief op tieners se emosies

  • “Moenie dat iemand jou gering ag omdat jy nog jonk is nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges.” (1 Timoteus 4:12) Jou tiener het ’n roeping, selfs in hul jong jare.
  • “Maar die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, saggeaardheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22-23)  As jou kind in Jesus glo, leef die Heilige Gees in jou kind. Bid saam dat die vrug van die gees in jou kind teenwoordig sal wees, en dat die Heilige Gees self jou tiener leer om emosies te hanteer.

Tieners se emosies kan jou soms moedeloos maak, maar wanneer jy verstaan dat dit gewortel is in biologiese en ontwikkelingsprosesse, verander jou perspektief. Jy kan jou tiener help om nie net deur emosionele buie te gaan nie, maar om lewensvaardighede, geloofsvertroue en selfinsig daaruit te kry.

Wees geduldig, wees liefdevol, en onthou: God se genade is genoeg – vir jou én vir jou tiener.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF