Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ware krag kom van God’ en ander kosbare lesse van ons ouers

LiG het by ’n klompie lesers en bekendes gaan aanklop om by hulle te hoor wat die kosbaarste stukkie wysheid is wat hulle van hul ouers ontvang het. Die antwoorde was nogal uiteenlopend – van raad oor finansies en emosies tot hoe om siekte en trauma te hanteer. ’n Deurlopende tema? Die raad was prakties, en dikwels op die ouers se voorbeeld geskoei.

‘Jou woord is jou eer’

Jo-Ané van Dyk (Olimpiese medaljewenner in spiesgooi)

Sy is dankbaar vir twee groot lesse wat haar ouers, Johan en Marjo, haar geleer het. “Die eerste is dat jou woord jou eer is. As jy vir mense belowe jy sal iets vir hulle doen, of jy sal ‘daar wees’ vir hulle, dan is dit eenvoudig so. Jy doen dit, hoe die situasie in daardie stadium ook al daar uitsien. Jy is betroubaar, jy laat nie ’n ander mens in die steek nie.

“Die tweede les wat my ouers my geleer het, is om my medemens met respek te hanteer, ongeag agtergrond, klas of ras.”

‘Dit was goed genoeg’

Lindie Strydom (aktrise en LiG-rubriekskrywer)

“Ek was al ’n bietjie ouer toe ek en my sus Debbie Rabie een aand met my pa gesels oor ’n mens se behoefte aan erkenning. Hy het ons iets van sy grootwordjare in ’n huis met vyf kinders vertel, en die lesse wat hy daar moes leer. Hy het onder meer gesê: ‘Dit moenie vir jou nodig wees dat iemand vir jou sê dit was goed nie. Jy weet mos self wanneer dit jou beste was.’

“Natuurlik waardeer ’n mens altyd mooi terugvoer, en jy weet tog hoe goed dit jou laat voel wanneer jy iets vir iemand anders kon beteken. Uiteindelik het dit egter groter waarde as jy aan die einde van ’n moeilike dag vir jouself kan sê: ‘Dit was goed. Ek kon dit nie beter gedoen het nie.’

“Dit geld ook jou rol as eggenoot en ma.

“Hoe goed is dit dan om daardie gevoel van dankbare tevredenheid te omskep in ’n offer van lof en dank aan God. Hy wat jou volgende dag se wegspring bepaal, tot sy eer.”

‘Moenie jouself belangriker as ander ag nie’

Karlien van Jaarsveld (sanger)

Karlien sê sy het by albei haar ouers kosbare lesse geleer. “By my ma Ronel het ek geleer ’n mens kan enigiets te bowe kom. Sy het in uitdagende omstandighede grootgeword en moeilike huwelike gehad, maar deur dit alles het sy sterk gestaan. Niks kan haar onderkry nie. Sy is die een wat omgee en na almal omsien. Sy is ’n steunpilaar soos min, het altyd ’n plan en kan enigiets regkry. Dis lekker om iemand soos sy aan jou kant te hê.

“My pa Bobby is vir my ’n voorbeeld van hoe verlossing lyk. Hy is die verpersoonliking van wat moontlik is wanneer jy ’n keuse maak, en hoe so iets jou menswees geheel en al kan omkeer. Hy sê

sê die Heilige Gees het hom gered. Vandag is my pa die saggeaardste mens wat ek ken. Hy is lank nie meer die man wat 20 jaar gelede gedrink het en aggressief was nie.

“Hy het ons ook geleer om nederig te wees en jou nooit belangriker as ’n ander te ag nie. En hy laat my lag. Die lewe is groot pret saam met hom.”

LEES OOK: ‘Met Kersfees hou ek aan God se genade-belofte vas’ – seerkry-mense vertel

‘Jy gaan lê nooit nie’

Johannie Truter (rekenmeester en sakevrou)

Johannie sê dat albei haar ouers haar die waardevolste lesse denkbaar deur hul voorbeeld geleer het. Sy vertel: “My ma het ’n jaar en ses maande lank teen kolon- en lewerkanker geveg nadat die dokters gesê het sy sal nog net ses maande leef. Sy het my gewys wat dit beteken om nie te gaan lê nie, om hard te baklei.

“Ek het ook in dié tyd gesien hoe hard my pa gewerk het, en dit in die moeilikste tyd van sy lewe. Hy het net voortgebeur … Hy was die broodwinner, en hy moes sterk wees ter wille van sy vier kinders, waarvan drie toe nog gestudeer het.

“Op dié manier het my ouers my geleer om hard te werk vir wat ek wou bereik. En as ek dan steeds nie my doelwit bereik het nie, moes ek doodgewoon harder probeer. My pa het my altyd tydens eksamentyd op universiteit gebel. Dan sê hy: ‘’n Louw gaan lê nooit nie! Veg terug en doen jou ding.’

“My ouers was ook altyd langs die sportveld en by die skool waar hulle hul kinders ondersteun het. Daarom probeer ek vandag dieselfde vir my kinders doen.”

‘Spaar, en dit kan verdubbel’

Suzaan Steyn (joernalis en voormalige radio-omroeper en televisienuusleser)

Suzaan het onlangs in ’n “Kuns en kontant”-insetsel tydens die program Spitstyd op RSG vertel hoe haar pa haar finansieel-slim grootgemaak het: “Van kleins af het hy my ure lank oor geld en die waarde daarvan onderrig. Dat jy moet spaar. Dat geld geld maak – oftewel ’n les oor die wonder van saamgestelde rente.

“Ek het elke Vrydag sakgeld gekry en gewoonlik alles uitgegee. Maar as ek wel iets gespaar het, het my pa dit verdubbel. Toe ek op universiteit beland, het ek reeds ’n lekker klompie spaargeld gehad.”

‘Ware krag kom van God’

Rumé Burger (junior en senior SA-kampioen in die 200 m-naelloop)

“Die kosbaarste ding wat my pa Philip (die voormalige Blitsbok en Cheetahs-vleuel) my geleer het, is dat ware krag van God af kom. Dit geld nie net atletiek nie, maar elke aspek van die lewe. Hy het my gewys dat geloof en deursettingsvermoë saamloop, en dat nederigheid belangriker is as enige oorwinning. “Wanneer ek hardloop, hoor ek altyd sy woorde in my kop: ‘Doen jou bes, en laat God die res doen.’ Dit herinner my daaraan dat ek nooit alleen op die baan of in die lewe is nie, want my hemelse Vader is elke tree saam met my.”

‘Altyd iets om na uit te sien’

Chrislie Dreyer (kunstenaar en kunsonderwyser)

Chrislie se ma Mariette het haar en haar sussie Johanni alleen grootgemaak nadat hul pa oorlede is. Chrislie was toe maar ses. Sy vertel hoe hul ma hulle geleer het om elke oomblik te waardeer en om die lewe vir jouself interessant én lekker te maak. “My ma reken jy moet altyd iets hê om na uit te sien,” sê Chrislie. En sy volg steeds dié wyse raad.

‘’n Man hoef nie alles te weet nie’

Theanita Johnston (onderwyser)

“Die grootste stuk wysheid wat my ma Juanita my geleer het, het nie ’n resep vir rykdom of ewigdurende skoonheid behels nie. Sy het hiérdie geheim met my gedeel: ‘Onthou, my kind, ’n man moet alles eet, maar hy hoef nie van alles te weet nie.’

“ Ek onthou goed hoe haar wyse raad in die praktyk gewerk het. Dit was daardie ekstra inkopiesakkie vol klere, of die nuwe pare skoene in elke kleur, wat my ma uit die motor se kattebak gaan haal het eers wanneer Pa sy middagslapie geniet het. As Pa ons uitvra oor die dag se uitstappie, het my ma vir my geglimlag en ’n vonkel in haar oë gekry.

“Toe ek jonger was, het ek dit nie altyd goed verstaan of behoorlik waardeer nie. Maar namate ek ouer geword het en moes leer hoe om ’n gesin te versorg, verstaan ek dit veel beter.

“Ná my pa se dood in 2024 was my ma se stukkie wysheid nie meer van toepassing nie. Dit was eers toe dat die dieper boodskap daarvan my getref het. Dat dit in werklikheid ’n bewys van onvoorwaardelike liefde was, omdat dit my geleer het dat die lewe genade en selfsorg vereis, selfs al pas dit nie altyd by die huishouding se streng begroting of reëls nie.

“Nou fluister ek my ma se raad aan my dogter …”

‘Dink eers mooi …’ en: ‘Onthou ’n warm ding’

Willem Pelser (RSG-radio-omroeper)

“Pa Johan is ’n groot aanhanger van CJ Langenhoven. Een van sy gunsteling-aanhalings is juis ’n Langenhoven-wysheid, naamlik: ‘Skryf jou brief Maandag, maar pos dit eers Vrydag.’

“’n Mens se natuurlike reaksie is om onmiddellik terug te kap as iemand jou te na kom. Maar gaan dink eers daaroor. Gaan slaap desnoods, dat daar ’n nag verloop. Op dié manier word die emosie uit jou reaksie gehaal en jy kan die saak nou rasioneel benader en dalk selfs beredder.

“My ma Judy is ’n baie praktiese mens en sy sê altyd: ‘Dit maak nie saak waarheen jy gaan of hoe warm dit is nie, neem altyd ’n warm ding saam met jou.’

“Maar luister is mos min, veral wanneer jy jonk is. So bevind ek my op ’n dag by ’n Curriebekerwedstryd tussen Grens en die Haaie in Oos-Londen. Toe die skaduwee oor die graswal trek en daai seewindjie steek op, was ek bitter spyt dat ek nie ag geslaan het op my ma se wyse woorde nie. Van toe af het ek altyd ’n ‘warm ding’ byderhand.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►