Toe Liza Zeeman gehoor het sy is ’n weduwee, was sy in ’n intensiewesorgeenheid, sonder hoop vir die toekoms. Sy was maar 25. Maar God se oorvloedige genade en mense se ondersteuning het haar tree vir tree gedra.
In Maart 2007 het Liza en haar man Johan met hul motorfiets van Kimberley na Kaapstad gery, op pad na ’n motorfietssaamtrek. Maar 11 kilometer duskant die Paarl was hulle in ’n skrikwekkende ongeluk betrokke. Johan het gesterf.
Nadat Liza ’n week lank in ’n koma was en verskeie operasies moes ondergaan, het sy uiteindelik haar bewussyn herwin. En besef dat sy, twee maande voor haar tweede huweliksherdenking, ’n weduwee is.
’n Versplinterde hart en ’n gebreekte liggaam
Terwyl haar hart gevoel het soos ’n gebreekte glaspot wat versplinterd voor haar voete lê, was ook haar liggaam gebreek: ’n vergruisde voet, twee gebreekte arms en ’n gekraakte bladbeen. ’n Rug wat erg beseer was, en ’n geskeurde milt. Laasgenoemde moes verwyder word, en ’n gedeelte van een van haar niere.
Toe tref ’n verdere terugslag haar: Sy het medikasie gebruik wat jodium bevat, en dié het ’n erge allergiese reaksie veroorsaak sodat sy by die dood omgedraai het. Intussen het die infeksietellings bly styg.
Familie en vreemdes het kom bid, onder andere ’n aanbieder by ’n radiostasie, ’n biker-pastoor, en ’n jong apteker wie se kêrel drie weke tevore in ’n motorfietsongeluk gesterf het.
LEES OOK: Oud-onderwyser sterf kort nadat hy sy verhaal van heelwording ná onverwerkte trauma deel
Sy onthou: “Daardie jong apteker het my en my ma in die daaropvolgende weke getrou ondersteun. En met elke gebed en elke stukkie bemoediging het my hospitaalkamer huisliker gevoel en het ek God se lig duideliker gesien. Ek het geleer hoe belangrik elke klein omgee-gebaar is.”
Die dag toe Johan in Kimberley begrawe is, het Liza in ’n Kaapstadse intensiewesorgeenheid gelê, 1 000 kilometer ver. Sy vertel: “Toe die afskeidsdiens vir Johan in Kimberley begin, het die biker-pastoor en ’n groep motorfietsmanne om my bed kom staan. Hulle het hul fietshelms op my bed neergesit en vir my gebid. Hulle het ook beloof om aan te hou bid totdat ek heeltemal gesond is.
“In daardie oomblikke het ek die krag van gebed ondervind. Dit was soos duisende onsigbare engele wat hande vat en oor grense heen bid.
“Nadat hulle daar weg is, kon ek rus in die wete dat God my vashou. Ek kon sê: ‘Ek hoef nie te verstaan nie, Here; U verstaan wel.’”
In die holte van sy hand
Al het haar gees rustiger geword, het die mediese uitdagings ernstig gebly. Een nag, terwyl sy gesukkel het om asem te haal en die spesialis op ’n trageostomie besluit het, het Liza by God gepleit.
Daarop het sy beleef dat God haar bed in sy kragtige hand vashou, en dat Hy haar liggaam aanraak. Sy kon onmiddellik vryer asemhaal en sodoende die trageostomie vryspring.
Uiteindelik moes daar nege skroewe en penne in haar liggaam aangebring word. Sy moes 13 operasies ondergaan. En die groot wonderwerk? Sy het die gebruik van haar verbrokkelde voet herwin.
Toe Liza weke later in ’n vliegtuig klim om haar pa in Klerksdorp te gaan besoek, het sy steeds weerloos gevoel. Sy was in ’n rolstoel. “En toe kom help ’n dierbare medepassasier my om ’n strooitjie in my koeldrank te druk, sy het my ’n drukkie gegee, en ’n kaartjie met ’n teksvers. En sy het beloof sy sal vir my bid.
“Elke keer as iemand so vriendelik met my was, het ek vaster geglo dat die Here van my weet. Dat Hy daardie spesiale omgee-boodskap gestuur het om my las ’n bietjie ligter te maak.
“Nou weet ek hoe belangrik dit is dat ons die mense om ons, wat elkeen met ’n eie masker rondloop, sal aanraak en ondersteun. Ons moenie bang wees om te wys dat ons omgee nie.”
Skryf, of nie?
Liza het jare lank geglo sy kan nie oor God se genade skryf nie, oor die tweede kans wat Hy haar in 2007 gegee het nie. Sy het geen skryfopleiding gehad nie, en daarom wou sy dit nie waag nie.
“Ander verskonings was dat álmal tog my storie ken. Dat ek nie voor mense kan praat nie. Dat ek bang is wat ander van my sal dink.
“Maar van 2010 af het die Here herhaaldelik bevestig dat ek my verhaal moet neerskryf en dat Hy my sal toerus. Toe het ek begin skryf – maar dit wou nie lekker vlot nie. En weer het die selftwyfel my beetgepak.”
“Tydens die Pinksterdienste verlede maand het ons pastoor gepraat oor ‘Wie is die Heilige Gees?’ Daardie aand het die Gees my oortuig dat ek moet skryf. Dat dit nie ék sal wees wat skryf nie; ek moet bloot die instrument wees.
“Eers toe die Heilige Gees beheer oorgeneem het, het dinge glad verloop. Uiteindelik het my skryfwerk veel meer op God se oorvloedige genade gefokus en nie soveel op my seerkry nie.”*
Nuwe liefde
Destyds het Liza se pa gesorg dat sy haar tweede groot liefde ontmoet. Sy vertel: “My pa het kom help met my eerste treë in Kimberley. Daardie eerste keer se instap in ons huis, toe dit gevoel het asof Johan steeds vir my wag. Die eerste keer by sy graf.
“Voor sy terugkeer Klerksdorp toe het my pa ’n familievriend, Pieter Zeeman, gevra om te help indien iets in of buite die huis dalk breek.
“Ek het nooit vir Pieter gebel nie. Maar hy het soms op ’n Vrydagaand kom inloer, en altyd iets te ete gebring, of ’n legkaart. Hy was ’n ware vriend. Met sy wysheid en sy omgee het hy saam met my deur my hartseer gewerk.
“En toe ons weer sien, was ons dolverlief op mekaar.”
Liza en Pieter vier vanjaar hul 16de huweliksherdenking. Sy sê: “As ek vandag weer moes kies, sou ek alles dieselfde wou hê. Ek sou Johan se vrou wou wees – en al het ek nooit gedink ek sou weer vir iemand kon lief raak nie, is ek vandag baie lief vir Pieter.
“God het ’n plan vir ons lewe. Ons moet Hom ten volle daarmee vertrou. Hy kan uit die koudste, donkerste nag die mooiste sonsopkoms skep.
“Daar wás tye dat ek bang was. Maar bangwees beteken nie swakheid nie. Dit beteken net jy gaan deur iets wat soveel groter as jyself is, en daarvoor het jy Iemand nodig wat groter as jou situasie is.
“Daardie Iemand is God. Net Hy is groter as enige situasie waarin jy jou bevind. Hy is die groot EK IS.”
* In Lize se pasvoltooide boek sien die leser haar seerkry, hoor haar gesprekke met God, en beleef hoe sy haar eerste treë waag op die pad na aanvaarding. Vir meer inligting oor Sy Genade in Oorvloed, kontak liza@live.co.za.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















