Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Weet dat God jou “asseblief” hoor

Dis die week voor die soge­naamde “Swart Vrydag”. Almal weet van dié winsko­piedag. Ook vyfjarige dog­tertjies, want Mamma en Pappa is nou al ’n ruk lank besig om te kyk watter spesiale aanbiedings hulle op dié dag wil benut.

Dis toe dat my vyfjarige kleinkind vir haar ma vra: “Mamma, dink Mamma Kersvader weet van Swart Vrydag?”

“Hoekom?” vra die mamma, effens geskok oor die eerlike vraag.

Toe kom die eerlike antwoord: “Ek het gedink … dalk moet ek hom daarvan ver­tel, en dan ook sommer sê wat ek graag vir Kersfees wil hê. Want hy kan dit dan teen halfprys kry.”

LEES OOK: Leer om te bid

“Nou hoekom vra jy hom nie?” was die mamma se voorstel. En gou-gou het die kleinding ’n pen en ’n stuk papier gebring en haar mamma gevra om hiérdie woorde te skryf:

Liewe Kersvader, ek weet nie of jy weet van Swart Vrydag nie, maar ek het gedink dis ’n goeie tyd om jou te vra wat ek graag vir Kersfees wil hê. Ek wil baie graag ’n poppie met ’n pienk rokkie en blou ogies hê, wat kan huil, ’n bottel kan drink. En kan piepie sodat ek haar doekie soos ’n regte mamma kan omruil.

Maar, Kersvader, ás jy dit op Swart Vrydag koop, sal dit halfprys wees. Mis-kien kan jy dan van die ander geld vir my maatjie, wat baie arm is en nie eens ’n mamma het nie, ’n Barbie-pop koop.

Uhmmm, en dan … ag, oor die res kan jy maar self besluit.

Baie liefde vir jou en jou rendiere (en vir jou dogtertjie, as jy een het).

Talia.

Hier bo, op ’n ligte noot, is ’n stuk eerlikheid wat ook grootmense kan help onthou dat ons soos kinders met ons Vader kan praat. Die Woord leer ons immers:

  • Ons kan maar bid … soos ons kan. Ons mag en kan op enige manier na God toe gaan. Ja, daar is nie ’n regte of verkeerde manier nie, en daar is nie ’n soort gebed wat aanvaarbaarder as ’n ander is nie.
  • Ons mag maar bid … waaroor ons wil: Ons mag enigiets voor God neersit. Niks sal Hom verras, onkant betrap, of sy liefde vir ons verminder nie.
  • Ons kan by Jesus self leer dat ons ook altyd die Vader se wil moet vra, soos Hy dit in sy hartroerende gebed in Getse­mane gedoen het toe Hy gesê het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie ly-densbeker by My verbygaan.” Toe voeg Hy by: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt 26:39).

Maak in hierdie dae tyd om in stilte by jou Vader te gaan sit. Om, soos ’n kind, jou hart spontaan voor Hom neer te sit. Laat toe dat Hy jou met sy omgee en deernis vashou en jou met Homself omhels.

Ja, gee jouself jóú-tyd om sy hoop, vrede, vreugde en liefde saam met die somerson in te drink.

Weet dat Hy jou “asseblief!” hoor. En dat Hy sê: “Hier is mý hart, my lief.”

* Milanie Vosloo is ’n topverkoper-skrywer van verskeie geestelike boeke. Sy is die stigter en besturende direkteur van Uppe Marketing. Haar passie is om mense te inspireer. Sy wil deur die krake van haar eie menswees iets van God se lig aangee. Sy hou baie van skryf, fietsry en die buitelewe. Sy onderneem gereeld fietstoere saam met haar man. Kontak haar by mv@uppe.co.za

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF