DEUR MICHELLE LEMMER
Ek dink anders as ander mense het ek ’n sug van verligting gegee toe die “lockdown” aangekondig is.
Ons het ’n rowwe 2019 agter die blad gehad. Ons moes ons vakansie oor Desember kortnip omdat ons huis skade gekry het weens die buitengewone reënval vroeg Desember … So ek was moeër as vorige jare die nuwejaar in.
Ons jongste is ook hierdie jaar “groot skool” toe. Die eerste paar maande was ’n warrelwind van jaag tussen die kinders se aktiwiteite en probeer aanpas by die nuwe skedule. En bo-op alles doen ek nog my eie huiswerk ook wat nie elke dag ’n vreugdevolle taak is as die tyd min is.
Hierdie “Divine Pause”, soos ek dit noem, het net betyds gekom voor ek heeltemal uitgebrand was. Dit voel werklik of die Here ons tot stilstand gebring het om ons lewe te assesseer en te kyk wat belangrik is. Ons moes ons fokus van jaag en oorleef na rus en leef skuif! Ons is diep dankbaar vir die bymekaarwees-tyd. Vir tyd om goed te kan doen waarvoor ons lief is en wat waarde tot ons lewe toevoeg.
Alhoewel my man steeds werk van Maandag tot Vrydag is dit lekker om te weet hy is op die erf en ons kan vir hom kuier in sy “buitekamer-kantoor.” Hy hoef nie in verkeer te sit nie en is altyd betyds vir ete!
Ek het toevallig voor die “lockdown” ’n bidgroep begin met die naam “Pause in His presence”. Minwetend dat ons letterlik ’n “pause” gaan beleef waar ons gaan tyd hê om God se gesig te soek vir onsself, ons land en vir die COVID-kwessie.
Dit was nadat ek sowat twee weke voor die “lockdown” die vers Ester 4:14 gekry het wat sê:
“Want as jy heeltemal stilbly in hierdie tyd, sal daar verligting en redding vir hulle van Y’hudah vanaf ’n ander plek kom, maar jy en jou vader se huis sal vernietig word en wie weet of jy nie geroep was om na die koninkryk te kom vir ’n tyd soos hierdie nie?”
Dit het letterlik gevoel of die Here vir my die woorde sê en ek het onmiddelik tot aksie oorgegaan. Ek het ’n paar vriendinne genooi om weekliks by my huis te kom bid, maar ons kon net een keer ontmoet voor die “lockdown” begin het en van daar af ontmoet ons elke Dinsdag en Donderdag om 11:00 vir kuber-gebed. So is dit ook nou moontlik vir meer persone om deel te wees en het ons nou dames van heinde en verre wat saam bid. Hoe wonderlik is dit nie dat ons kalenders nou oor hierdie tyd oop is en ons almal die tyd het om saam te bid nie!
Lees meer getuienisse hier.
Ons probeer nou ons tyd intensioneel bestuur as gesin en probeer waarde aan elke oomblik heg. Dit was fantasties om al die tyd in die wêreld te hê om Pasga en Paasfees te beplan. Ons het ons etes vol simboliek probeer maak sodat dit pret was vir ons kinders – Isaï (8) en Sia (6) – om saam te vier en te verstaan waaroor dit gaan.
Ons het ook aan die begin van die “lockdown” besluit om elke dag saam as gesin nagmaal te gebruik. Dit was vir ons die enigste manier om die “ongesiende vyand” te veg. Met Jesus se bloed.
Ons dae is nie meer gevul met ’n gejaag en paniek nie, maar eerder met lag, die Woord, gebed, lang gesprekke, kook, kuns en kamp in die agter-erf …
Ons gebed vir almal rondom ons in hierdie onseker tyd is, dat ons hoop almal die tyd sal gebruik om nader te beweeg aan God en om liefdevolle herhinneringe te maak met hul gesin sodat as hul eendag terug kyk na die “lockdown” van 2020 dit onthou sal word as n tyd van vreugde, vrede en mooi herhinneringe en waar ons ons naaste lief gehad het soos onsself! Ek weet ons gaan!
Hierdie “Divine pause” was vir ons broodnodig om weer aan die “Brood van die lewe” vas te klou en niks vanselfsprekend te ervaar en elke oomblik voluit te lewe. Joie de vivre! Vreugde van die lewe te vind in die alledaagse en in ons geliefdes! Die lewe is kosbaar en ons tyd hier onbekend.
Indien jy saam met Michelle se gebedsgroep (Pause in His Presence) wil bid, kan jy die volgende skakel besoek: https://join.skype.com/MgLjDTzNWfNW
LEES OOK: Koronavirus: ‘My lewe as ’n dokter se vrou’
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.