Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Na sewe jaar kom God sy belofte na,’ vertel ouers van \’wonderwerk-dogtertjie’

Deur Esté Haggard

Beide ek en my man, Heinrich, gee onderwys by ’n skool in Kuilsrivier. Ons is in 2011 getroud. Aangesien ons albei baie lief vir kinders is, wou ons graag na ’n jaar van getroude lewe met ’n gesin begin.

Na ’n paar maande was daar egter nog geen teken van swangerskap nie en het die teleurstelling al hoe groter geword. Gedurende Januarie 2015 het my suster, asook ’n goeie vriendin van my, presies dieselfde Bybelvers nl Psalm 37:4 vir my gestuur: “Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Ek het gewonder of dit dalk God se manier was om met my te praat. Die Here weet tog wat ons nodig het en wat die begeertes van ons hart is.

“Ek en my man het geleer dat God regtig in beheer is. Na sewe jaar van getroude lewe is ons wonderwerk-dogtertjie, Lisa, gebore,” vertel Esté Haggard in haar getuienis. Foto verskaf

Op 26 Augustus 2015 het iets wonderbaarliks gebeur toe ek in die middel van die nag wakker word. Ek het die woord “Naftali” duidelik gehoor. Dit was asof ek die Heilige Gees in my oor kon hoor fluister. Ek het eers gedink ek droom en wou verder slaap, maar dit was asof die woord net sterker na my toe gekom het. Ek het gewonder wie Naftali was en wat dit beteken. Ek het dit in die Bybel gaan naslaan. Naftali was een van Jakob se seuns wat hy by Ragel se slavin gehad het aangesien sy nie kinders kon hê nie. Die woord Naftali beteken: “Ek het gesukkel, maar het gewen.” Ek het onmiddellik besef dat God aan my ’n belofte gemaak het van ’n eie kind, maar op sý tyd.

Dit sou dalk nie ’n maklike pad wees nie, maar ek het geweet dat God sy beloftes sal hou. Die maande het egter jare geword en steeds het ek nie swanger geword nie. Ons het gewonder of ons dalk vir toetse moet gaan, want netnou is daar regtig fout.  Die gedagte daaraan het my skuldig laat voel, want ek het dan nou so ’n duidelike belofte by die Here gekry. Ek en my man het besef dat dokters daar geplaas is om ons te help en dat God steeds in beheer is. Die toetse was egter positief en het getoon dat daar niks fout is nie. Dit het ons nuwe moed gegee om aan te hou probeer, maar telkemale het ons voor ’n kruispad te staan gekom, veral as jou vriende se eerste én tweede kind gebore word en jy sien hoe vroue buite-egtelik swanger word.  Dit het ’n bitter smaak in ’n mens se mond gelaat.

“Hoe lank moet ek nog wag, Here?” Ons het geworstel met vrae soos of ons lewe dalk te sondig is, of ons dalk nie na ’n baba sal kan omsien nie of wat as God sy belofte verbreek het? Dan kom die Here en praat met ons deur mense en sy Woord“Ek sien jul trane wanneer niemand anders kan nie. Weet jul dan nie dat ek vir jul ’n toekoms beplan nie? Niks is te groot vir my nie. Ek is God.”

Die tyd het egter aangestap en daar was nog geen teken van swangerskap nie. Ons is weer dokter toe. Hy het drie opsies aanbeveel en ons het op opsie een, nl vrugbaarheidspille vir ’n tydperk van ses maande besluit. Die ses maande het verbygegaan en steeds was ek nie swanger nie. Ons was weer by ’n kruispad en  het kunsmatige insiminasie oorweeg.

Klein Lisa, Esté en haar man Heinrich se “wonderwerk-dogtertjie”. Foto verskaf

Terwyl ek een aand deur die huis geloop het, het ek my hart teenoor die Here uitgestort. My trane het onbeheersd gevloei. Weer het God met my gepraat.  “Kunsmatige insiminasie gaan nie werk as dit nie My tyd is nie.” Ek was so dankbaar toe ek hierdie woorde hoor, want ek het besef dat die Here ons waarsku. Dit sou ons verdere teleurstelling spaar. Ons het besef dat ons dit in God se hande moet plaas.  Ons geloof en vertroue in die Here was so sterk dat ons besluit het om vir geen inplantings te gaan nie. Ons kon ons huwelik geniet, want ons het vasgehou aan God se belofte.

Vriende het baie raad gegee. Alhoewel hul soms goed bedoel het, het dit seergemaak. “Julle is te besig by die skool. Julle moet minder stres. Gaan hou vakansie oorsee, dan sal dit  gebeur. Noudat jul in ’n nuwe huis is, sal jul swanger word.” Steeds het dit nie gebeur nie  Ons het egter op God vertrou dat Hy op sy tyd vir ons ’n baba sal gee. ’n Tydjie nadat die skole in Januarie 2019 heropen het, was ek vreeslik moeg en het aangeneem dit is maar as gevolg van die hitte. En om vir sesjariges skool te hou, put ’n mens ook vreeslik uit!

Die laaste ding waaraan ek gedink het, was die feit dat ek kon swanger wees! Op 1 Februarie 2019 het ’n wonderwerk gebeur toe ek vir ’n swangerskaptoets gegaan het. Die uitslag was positief! Ek en my man kon dit nie glo nie. Na sewe jaar  van getroude lewe het God sy belofte nagekom! Ons het natuurlik en sonder enige mediese hulp swanger geword.

Dit het my laat dink aan hoe God baiekeer in die Bybel die getal sewe gebruik om ’n siklus te voltooi. God het die aarde in ses dae geskep en die sewende dag gerus.  Tydens Josef se heerskappy, was daar vir sewe jaar ’n oorvloed in die land, maar ook sewe jaar van hongersnood. Die Israeliete moes ses dae om Jerigo loop en die sewende dag het God die stad aan hulle oorgegee.

Ek en my man het geleer dat God regtig in beheer is. Na sewe jaar van getroude lewe is ons wonderwerk-dogtertjie, Lisa, gebore. Die mense rondom ons se geloof is hierdeur versterk en hulle kon ook getuig van God se goedheid. Ek en my man se huwelik is deeglik getoets en versterk. Ons het net weereens besef dat God in beheer van ons lewe is en dat sy tyd anders as ons s’n is, maar dat dit perfek is.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF