Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

2020: ‘Mag jy ook die goeie onthou,’ sê skrywers wat hoop met nuwe boeke wil bring

Christus se hoop ná ’n moeilike jaar … Dit is wat twee van LiG se gewilde rubriekskrywers aan lesers bied met hul onderskeie boeke wat nou via Bybel-Media se e-winkel te koop is.

Lizette Murray sê: “Daar is áltyd hoop. Christus se krag wat in ons leef en wat ons deur 2020 gedra het, gaan saam met ons die nuwe jaar in. Ons hoef nie noodwendig groot dinge te vermag nie. Sagaria 5:10 bly vir my ’n aansporing én troos: ‘Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.’”

Daar is áltyd hoop. Christus se krag wat in ons leef en wat ons deur 2020 gedra het, gaan saam met ons die nuwe jaar in,” sê Lizette. Foto verskaf

Milanie Vosloo, skrywer en eienaar van haar eie reklame-agentskap, glo ons het miskien vanjaar geleer dat die wêreld, en onsself, toe nie so in beheer is nie “omdat daar ’n God is wat ís”.

Milanie in Kersfeesluim! Dié foto is ’n paar dae gelede tydens haar maatskappy se Zoom-Kersfeeskuier geneem. Foto verskaf

Haar boodskap aan elke leser is: “Mag jy terugkyk oor die jaar en, ten opsigte van baie skokke, dalk teleurstellings, aanpassings, verliese … die goeie onthou wat jy die jaar geleer het, die nuwe goeie gewoontes wat jy aangeleer het en die wonderlike genade wat jy en jou mense ontvang het.”

In Die alfabet van oorvloed – oor eenvoud, gasvryheid en lag, uit Lizette se pen, sal jy die gloed van God se teenwoordigheid ervaar.

Milanie se boek Jy sal okay wees – elke dag ’n genadegeskenk is vol praktiese raad in haar kenmerkende styl van bemoediging en begrip. Sy werp lig op die kuns om ons geloof te lééf. Om stil te raak en te weet … God is hier, God is vir ons, God is naby in elke oomblik van elke dag.

Beide boeke is deur die skrywers se LiG-rubrieke geïnspireer en kan via hierdie skakels gekoop word:

Die alfabet van oorvloed – oor eenvoud, gasvryheid en lag:

Die alfabet van oorvloed

Jy sal okay wees – elke dag ’n genadegeskenk:

Jy sal oukei wees

Milanie en Lizette het ’n paar vrae oor hulle inspirasie-belaaide skryfwerk beantwoord.

Woorde bly uit julle pen vloei? Hoekom bly julle skryf?

Lizette: Ek dink met ’n pen in my hand. Ek kyk en luister en versamel indrukke en maak gedagteprentjies – sodat ek later daaroor kan skryf. Daar is soveel dinge waaroor ek nog wil skryf, soveel gedagtes wat ek graag sou wou deel. Ek kan dit nie net vir myself hou nie, omdat die waarhede en insigte vir mý soveel beteken het. Soms tuimel die idees oor mekaar. Ander kere moet ek diep delf daarvoor. Dikwels maak ’n klein insident ’n klomp gedagtes wakker wat dan hul pad na my notaboek vind. Ek hou altyd ’n boekie byderhand – soms selfs ’n stukkie papier of ’n winkelstrokie waarop ek gou ’n indruk of ’n mooi sêding van iemand neerskribbel. Solank as wat ek enigsins kan, sal ek aanhou skryf. Ek kan nie anders nie.

Milanie: Ek kan eenvoudig nie ophou skryf nie omdat die Gees dit vir my géé, my inspireer en my opgewonde maak oor elke boodskap wat ek kan bring om ander te help om nader aan Hom te kom.

Waar en wanneer skryf julle?

Lizette: Ek skryf enige tyd. Enige plek. In ’n inkopiery of by die haarkapper. Selfs terwyl ek kos maak. Baie van die dinge waaroor ek skryf, ontstaan spontaan wanneer ek in die tuin werk of op my stoep sit en uitkyk oor my tuin. Wanneer ek egter ’n sperdatum het, dissiplineer ek myself en sit uur na uur agter my rekenaar. Ek staan nie op voordat ’n stuk afgerond is nie. Ek moet bieg: Ek is puntenerig oor elke komma en punt. ’n Woord moet reg klink en op die regte plek in ’n sin staan. Vir my is dit soos musiek. Die woorde moet “klink” wanneer ek dit hardop lees.

Milanie: Omdat ek voltyds besig is met die bestuur van my besigheid, het ek net naweke, vakansies en af-tye kans om te skryf. Wat ek wel beleef is dat, terwyl ek besig is om die gewone lewe te leef, die Gees stilweg in my hart werk sodat – wanneer ek dan wel agter my rekenaar gaan sit – die woorde vloei. Ek skryf die heel lekkerste op my bed …

Waarna sien julle uit dié Feestyd?

Lizette: Ons hele gesin is vir twee weke lank almal saam by ’n klein afgesonderde kusplekkie. Daar is geen selfoonontvangs nie. Ons het net vir mekaar. Ek het ’n diep verlange na elkeen van my geliefdes se nabyheid. Hulle stemme en die oorgawe waarmee hulle ’n gewone dag aanpak, maak my oneindig gelukkig. Ek neem ’n tas vol kinderboeke saam om vir my kleinkinders te lees. Ek wil weer hul lyfies op en langs en bo-oor my voel.

Milanie: Na ’n heerlike stil tyd saam met my man in die ongerepte natuur van die Weskus. Ons kamp met ons eie geriewe ver weg van die lawaai van die lewe … en soos altyd, maak God Homself mos op wonderlike maniere in ons tuis juis wanneer ons tyd maak om regtig stil te word en Hom te hoor.

LEES OOK: Dagstukkie: Jy kan kaalvoet in sy hart lê.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF