Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Tienervriendskappe: 5 maniere om goeie vriendskappe te bou

Vriendskap vir tieners: 5 maniere om goeie vriendskappe te bou

Goeie vriende verdubbel jou vreugde en halveer jou hartseer. Só lui die ou gesegde. Ja, ’n ware vriend is goud werd, veral tydens die storm-en-drang-tienerjare. En ouers kan hul tienerkind help om betekenisvolle vriendskappe te smee – juis ook dié wat dalk daarmee sukkel.

Raad aan ouers en tieners om vriendskappe te bou

“’n Mens hoef nie baie navorsing te doen om te besef dat goeie interpersoonlike verhoudings absoluut noodsaaklik vir jou kind se toekomstige geluk is nie.”

Só sê dr Pieter van Jaarsveld, skrywer van onder meer ’n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink. Hy voeg by: “Een van die belangrikste emosionele vaardighede wat jou kind moet aanleer, is hoe om met ander mense oor die weg te kom en hulle te behandel. Dis belangrik vir hul sukses op skool, in die volwasse lewe, in romantiese verhoudings en in hegte vriendskappe.”

Hier is raad aan ouers en tieners.

Kweek positiewe denke vir positiewe verhoudings

Pieter sê: “Positiewe verhoudings maak ’n kind gelukkig. Navorsing het uitgewys dat gelukkige kinders gesonder is, langer leef, beter verhoudings het, minder geneig is om depressief te wees, meer sukses op skool behaal, beter leiers is en ’n positiewer impak op ander mense se lewe gaan hê.

“Stres, byvoorbeeld, kan ’n baie negatiewe uitwerking op kinders hê. Goeie en gesonde verhoudings werk hierdie stres teë.”

Die konstante invloed van sosiale media en die uitwerking daarvan op tieners se gemoedstoestand kan egter ’n negatiewe invloed op tieners se denke hê. Michelle Gevers, ’n heelbrein-konsultant in Pietermaritzburg, sê: “Met die druk van ’n knoppie ruil tieners nuus uit, ‘like’ mekaar se boodskappe, en vertel aan al wat leef en beef waar hulle hulle bevind en wat hulle doen of wat hulle eet.” 

In April 2023 het Dove VSA ’n kontroversiële video genaamd Cost of Beauty uitgereik wat krities kyk na die invloed van sosiale media inhoud op die selfbeeld van tieners, veral jong meisies.

Geborg

Bron: Skakel

Michelle voeg by: “Baie van die foto’s wat tieners met ander deel, skep die indruk van ’n sorgvrye en opwindende lewe. Vir baie tieners wat hierna kyk, word dit die maatstaf waaraan hulle hulleself meet.”

Jy as ouer speel ’n belangrike rol 

Volgens Michelle is baie ouers só besig dat hulle nie tyd het om gesonde waardes gedurende die tienerjare vas te lê en te beklemtoon nie. “Daar gebeur elke dag sóveel dinge in tieners se lewe waarvan die ouers nie eens bewus is nie …

“Hulle bestee trouens baie tyd daaraan om, via sosiale media, hul eie lewe met dié van ander te vergelyk. Dit kan tot ’n gevoel van isolasie lei, en selfs tot ’n lae selfbeeld aanleiding gee.

“Dieselfde kan gebeur wanneer ander tieners negatiewe boodskappe aan hulle stuur of hul foto’s of ‘posts’ krities beoordeel.”

Skerp vriendskapvaardighede só op

Pieter sê: “Kinders leer baie uit vriend­skappe. Hulle leer lesse wat baie belangrik vir hul latere verhoudings is.

“Goeie vriendskapvaardighede moet reeds in die kinderjare aangeleer word. As jy eers volwasse is, is dit baie moeiliker om goeie verhoudings te leer vorm. Dis soos om te leer swem: Dis makliker as jy jonk is.

Geborg

“As negatiewe gedrag – soos selfsug of baasspelerigheid – eers gevestig is, help dit nie jy stuur jou kind na ’n kerkkamp om maats te maak nie. Die ouer moet die kind eers leer om self ’n goeie vriend te wees.”

Pieter noem ’n klompie belangrike vaardighede wat kinders moet aanleer:

  • hoe om ’n gesprek te begin met iemand wat jy nie ken nie
  • hoe en wanneer om ’n oppervlakkige geselsie na ’n dieper gesprek te stuur
  • hoe om kompromieë aan te gaan
  • hoe om konflik te hanteer
  • hoe om kritiek te gee én te ontvang
  • hoe om vertroue te behou
  • hoe om ’n emosionele band met ander te vorm
  • hoe om ’n verhouding pret te maak
  • hoe om verbale en nieverbale kommunikasievaardighede aan te leer
  • hoe om empatie en waardering uit te spreek.

Kweek emosionele volwassenheid

Ander eienskappe wat belangrik is, is selfaanvaarding, respek vir ander (oor alle grense heen), geduld, aanpasbaarheid en die gewilligheid om nuwe dinge te probeer.

Michelle sê: “Ons kinders moet leer om eerlik met hulleself te wees. Hulle moet weet wie en wat hulle is en wat vir hulle belangrik is. Dit sal hulle help om ander mense met dieselfde waardes te identifiseer.

“Beklemtoon die waarde van vriendelikheid en omgee. Moedig gesprek aan. Besef dat daar ’n tyd gaan kom dat jou tieners makliker en meer gereeld met hul vriende gaan praat as met hul ouers. Hou daarom die kommunikasiekanale oop deur onder meer gereelde gesprek. Bied hulle die geleentheid om hul emosies te wys en hul menings te lug sonder om hulle te onderbreek of te veroordeel.

“Onthou: Ons wil ons kinders bemagtig om ’n goeie en gesonde verhouding te ken en te koester. Wees dan self ’n voorbeeld hierin.”

Bestuur emosies met grasie

“Die pre-tienerjare en die tienerjare is ’n emosionele tydperk,” sê Theresa van den Berg, opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Kinders is onseker oor wie of wat hulle is en hulle beleef ’n warboel emosies. Baie hiervan kan hulle nie eens beskryf of ’n naam gee nie.

Geborg

“Dis daarom belangrik dat ouers hul kinders van kleins af, en veral gedurende die tienerjare, help om ’n sterk selfbeeld te ontwikkel. Kinders wat oor ’n positiewe selfbeeld beskik, is nie so vatbaar vir negatiewe groepdruk nie en hoef nie tot enige uiterste te gaan om ander se aanvaarding te probeer kry nie.

“Gee volop erkenning vir wat hulle reg doen. Prys hulle eerder as om te kritiseer. En moedig hulle aan om te waag en te probeer. Vra uit na hul vriendskappe en gee leiding oor hoe hulle hul probleme kan oplos.

“Moedig hulle aan om maats te maak op al die verskillende plekke waar hulle kom. ’n Kind kan byvoorbeeld verskillende vriende by die rugby, die kerk en die dramagroep hê.”

Tieners en romantiese verhoudings: Begin vroegtydig oor liefdesverhoudings gesels

In die artikel Troubled teenage relationships can have lasting health consequences vertel Dr Anisha Abraham van Children’s National in Washington, DC dat ouers die aanname maak dat gesprekke oor verhoudings nie nodig is tot die tiener met ’n maat begin uitgaan nie, en dat dit eintlik dan al te laat is.

“Dit begin by die verhouding wat die tiener by die huis sien,” sê Anisha. Sy stel voor dat ouers gereeld inloer en hoor wat in die tiener se vriendekring aangaan en uitvind of maats al onder mekaar begin uitgaan het. 

“Dis baie belangrik om gesprekke te hê met beide dogters en seuns oor wat as normale, gesonde verhoudings bestempel kan word,” voeg Anisha by.

Lees ook ons artikel oor “Toksiese vriendskappe: Hoe om die tekens raak te sien.”

Die oorspronklike artikel is geskryf deur Susan Goosen vir LiG.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.