Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Wat in die donker gebeur …

Ek en my man kyk vir mekaar: Dis té stil in die huis …

As dit net ons twee hier was, sou die stilte dalk lekker gewees het. Maar ons het kinders; die stilte is onnatuurlik.

As kinders verdwyn en dit stil word, beteken dit net een ding: Hulle kondig nie aan wanneer hulle iets gaan doen wat hulle nié mag doen nie. Hulle word bloot stil … en verdwyn.

LEES OOK: God is genoeg

Ons begin soek en gou vind ek die twee in die spens. Hulle het ’n stoel tot voor die hoogste rak gesleep en my jongste se hand is in die bak lekkernye. Hy sê, nog bolwang: “Ek het net een gevat!”

Sê niks … dan is daar niks

My kinders se optrede laat my dink aan ons verhouding met God. Wanneer ons iets verkeerds doen, probeer ons dit wegsteek. En wanneer ons bewus word van iets wat ons gedoen het wat verkeerd is, vermy ons God en kruip weg, soos Adam en Eva.

Wanneer ons dan bid, vermy ons die onderwerp – of ons vermy gebed. As ons nie daaroor praat nie, het dit mos nie gebeur nie!

Ons kan onsself en ander maklik bedrieg, maar nie vir God nie. Soms word ons gedrag gemotiveer deur vrees vir straf, en ander kere is dit ons skaamte en die gevoel dat ons nie goed genoeg is om God se kind te wees nie. 

In die binnekamer van ons hart

In die Esegiëlboek lees ons hoe die Here die tempel se binnekant aan sy profeet wys. Daar was allerlei afgodsbeelde uitgekerf. Oral staan hulle – en die Israeliete het hulle aanbid.

Die Here het sy profeet aangesê om verder in die tempel in te gaan, en daar het hy vrouens aangetref wat oor Tammus treur, ’n afgod aan wie kinders geoffer is. Die profeet kry ook 25 mans wat hul rug op die tempel gedraai het en die son aanbid.

Toe sê die Here: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die Here sien ons nie; die Here het die land verlaat’” (Eseg 8:12).

Ja, die Here sien tot in die dieptes van ons hart. Hy sien wat in die donker gedoen word. Hy sien dat ons sondige begeertes uitgekerf is in die binnekamer van ons hart. Hy sien wanneer ons ons rug op Hom draai en ons ou, sondige gewoontes weer vasgryp.

Daar is DRIE DINGE wat vir my uitstaan wanneer ek hierdie gedeelte lees:

*EERSTENS is dit belangrik dat ons onsself gereeld ondersoek en ons afvra wat in die binnekamer van ons hart aangaan. Wanneer Jesus oor die Fariseërs praat, sê Hy: “Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees” (Matt 23:25-26).

Ons moet weet wat aan die binnekant aangaan om dit te kan skoonmaak. En ons moet verseker dat ons fokus nie op die buitekant is nie. Die Fariseërs het vroom voorgekom, maar hul binnekant was korrup. Wanneer ons binnekamer skoon is, is ’n skoon buitekant ’n natuurlike uitvloeisel daarvan. Maar ons is dikwels, soos die Fariseërs, blind vir ons eie foute. Deur doelbewuste selfondersoek en deur gebed kom ons agter wat ons verhouding met God belemmer.

*TWEEDENS moet ons dadelik optree om ons sondige geneigdheid in die kiem te smoor, voordat dit toeneem en ons verstrengel. Hoe vroeër hoe beter. Die spreekwoordelike klein jakkalsies moet onmiddellik getakel word.

*DERDENS moet ons ophou om in die donker weg te kruip. Bring alles na die lig toe, na Jesus toe. By Hom is daar genade en vergifnis, en oorwinning oor sonde.

Mag die Heilige Gees jou oë oopmaak sodat jy die mure in jou binnekamer kan raaksien, en iets daaraan doen.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►