Ons lees in Eksodus 16 dat die ou woestyntrekkers begin kla het omdat hulle honger was. Dit was kort nadat hulle uit Egipte getrek het. Hulle het teenoor Moses en sy broer Aäron gemor: “As ons maar deur die hand van die Here in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf.”
Toe het die Here vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie” (Eks 16:3-4).
Hulle moes leer …
Dit was eers toe die kos, wat hulle uit Egipte saamgebring het, op was dat die Here kos uit die hemel voorsien het. Die Israeliete se hande moes eers leeg geword het voordat Hy dit met sy hemelse kos sou vul. Hulle moes besef dat hulle nie op hul eie vermoë moes staatmaak nie, maar op hul Here. Hulle moes leer dat slegs Hy hulle sou versadig.
LEES OOK: Om opreg jammer te sê is eintlik ‘dankie, Here!’
Die manna het in die vooroggend gekom: Wanneer die dou verdamp het, het daar fyn en skilferagtige vlokkies op die grond bly lê. Die trekkers het dit opgetel en geëet. Dit het soos heuningkoek gesmaak. Die hemelkos was genoeg om hulle te versadig en te versterk. Maar hulle mag net genoeg vir daardie dag opgetel het. Niks mag oorgebly het nie.
Hulle moes leer dat God elke dag voorsien, van hartklop tot hartklop, van asemteug tot asemteug.
Dit was egter vir hulle moeilik om dit te glo. Hoor wat sê die verteller van dié verhaal: “Die gepeupel wat tussen die Israeliete was, het baie gulsig geraak. Ook die Israeliete het weer gekerm en gesê: ‘As iemand ons tog maar net vleis sal gee om te eet! Ons onthou die vis wat ons in Egipte geëet het, verniet; ook die komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel’” (Num 11:4).
Ons smag na méér
Dié ou verhaal dra ’n boodskap vir alle tye. Ook vandag word ons deur mense beïnvloed wat nie met die Here se voorsienigheid tevrede is nie. Ons luister na hul praatjies – en gou praat ons saam. Gou gebeur dit dat ons nie meer tevrede is met wat God ons gee nie. Dit wat vroeër vir ons ’n wonderwerk was, het eensklaps sy smaak verloor.
Dan dink ons terug, vol nostalgie, aan die sogenaamde “goeie ou dae” en vergeet dat dit nie so goed was nie. Maar ons ondankbaarheid en onvergenoegdheid het nou ’n lewenswyse geword.
En dít word ’n tragiese waarheid: Ons smag na méér as God se voorsienigheid. Ons vertrou op ander dinge as sy tere versorging.
Hierdie lewenshouding het gevolge. Só word oor die woestyntrekkers se lot vertel: “Die toorn van die Here het hewig ontbrand. Vir die volk moet jy sê, ‘Heilig julleself teen môre, dan sal julle vleis eet. Want julle het in die ore van die Here gekerm en gesê: As iemand ons maar net vleis sal gee om te eet! Dit was immers vir ons goed in Egipte … Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet. Julle sal nie net een dag eet nie, nie twee dae, nie vyf dae, nie tien dae of twintig dae nie, maar ’n volle maand lank, totdat dit by julle ore uitkom en julle walg, omdat julle die Here wat in julle midde was, verwerp en voor Hom gekerm het deur te sê: Waarvoor het ons uit Egipte weggetrek?’” (Num 11:10, 18-20).
Mag dit by ons tog anders wees …
Ons lees in die Nuwe Testament dat Jesus gesê het Hy is die brood van die lewe. Hy is God se Voorsienigheid – maar ook Hy is verwerp. Ook Hy was nie genoeg vir die ontevredenes nie.
Hoe stiksienig, hoe ondankbaar, kan mense tog wees! Mense wat van beter moet weet.
Mag ons, gelowiges in die een-en-twintigste eeu, tog leer uit die ellendige optrede van hulle wat aan hul gulsigheid verstik het. Mag God se voorsienigheid, en sy Voorsienigheid, vir ons genoeg wees.
En mag ons, vol dankbaarheid, na Christus bly smag. Na Hom alleen.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.