Die 44-jarige Annari Grové het tot onlangs toe haar geheim dig gehou.
Sy was skaam daaroor dat sy, toe sy maar agt jaar oud was, met disleksie gediagnoseer is. Ook dat sy, toe sy op skool was, elke vakansie leesprogramme moes voltooi. En in die kwartaaltyd ander terapie ontvang het.
Sy waarsku vooraf in ’n e-pos: “My brein dink ses keer vinniger in prente as in woorde. En partykeer dink ek dat ek iets gesê het, maar dan was dit net in my kop. Verskoon tog ook as ek spelfoute maak!”
‘Maak die tuin in jou hart skoon’
Annari het eers as volwassene besef dat sy nog seer in haar ronddra. En dat sy sukkel om te vergewe. Sy vertel: “Ek is nie trots daarop om te sê ek het voorheen ’n baie ondankbare hart gehad nie. Ons het een naweek by vriende in Vereeniging gaan kuier. Hulle het ’n baie mooi groen tuin gehad. En ek het gevra: ‘Hoekom het ek nie ook so ’n mooi tuin nie?’
“Ek het nie ’n antwoord verwag nie, maar ek het gehoor God sê vir my: ‘Annari, ek gee nie om oor jou tuin op aarde nie; ek gee om oor die tuin in jou hart. Maak dít skoon!’”
LEES OOK: ‘Johan, jy is meer as wat jy dink’ – man skryf boek ná God hom anders na homself laat kyk
Annari sê sy het toe besef sy moet haar destydse onderwysers en haar ouers vergewe. “Ek het altyd gedink hulle haat my, of is ten minste nie lief vir my nie, omdat hulle streng met my was en my soveel ekstra werk laat doen het. Maar vandag besef ek dat ek nooit die volwassene sou geword het wat ek vandag is sonder daardie lesse en hulp nie.”
In 2021 het Annari en haar gesin van Kimberley na Amanzimtoti in KwaZulu-Natal verhuis.
En in 2023 het iets gebeur wat haar finaal vrygemaak het.
Soos ’n protea …
Tydens ’n familietroue het ’n tannie haar gewys hoe om papierblomme vir die dekor te vou. Dit het dit haar so geïnspireer dat sy later gaan google het hoe om ook ander blomme te vou. “Die protea het so ’n merkwaardige storie, hoe dit groei en voortplant, dat ek gedink het dis baie soos mý getuienis. Soos die proteabos soms moet wegbrand om saad te skiet, moes ek ook leer om te laat gaan om uiteindelik te kan vrug dra.

“Ek moes leer dis belangrik om te weet in watter seisoen jy jou bevind. Jou fondament onder die grond moet sterk en gesond wees om te kan oorleef. Daar kom ’n ander seisoen, dalk as dit weer reën, wanneer jy by God moet stilsit en leer. Wanneer nóg ’n seisoen volg, is die wag verby. Dan lewer die groeiseisoen ’n pragtige protea.
“Ons besef nie regtig watter pad ’n protea moet volg om tot wasdom te kom nie, en wat dit alles verg om dit te bereik nie. Dit is natuurlik ook waar van soveel vroue in ons omgewing …”
Kort ná al hierdie gewaarwordinge het Annari twee vriendinne na haar toe genooi, en sy het haar geheim en haar getuienis met hulle gedeel. Daarop het sy hulle gehelp om proteas uit ou leesboeke te vou. Eensklaps het sy die behoefte ontwikkel om haar storie oral te vertel. “Ek het vyf ander vriendinne genooi en hulle vertel, en kort daarna my verhaal met ’n verdere vyf gedeel. Uiteindelik het ek 16 vroue na my toe laat kom.
“Dit is vandag reeds twee jaar gelede.
“Op 15 Maart vanjaar het ek en my dogter Anja byna 70 dames en dogtertjies by ’n soort protea-vroueoggend gehelp.”
Anja is in graad nege by Hoërskool Kuswag in Amanzimtoti, en vir haar is sulke geleenthede kosbaar. Sy vertel: “Om die vroue se reaksie te sien wanneer Mamma haar getuienis met hulle deel, is vir my ’n bewys dat Jesus Christus altyd ’n manier vind om ’n mens se lewe ten goede te verander. Dit beteken die wêreld vir my as ek Mamma kan bystaan. Dis wonderlik om te sien hoe sy ander mense se lewe help verander.”
‘God gebruik jou swakhede’
Vir dié ma en dogter is dit belangrik dat vroue (en tieners) nie moed verloor nie. Anja sê vir ander tieners: “Daar is altyd hoop. God het ook ’n plan met jou lewe; kies om Hom te volg.”
Annari beaam dit: “God kry die onmoontlike reg. Glo dit, hoop en wag. Jy bevind jou in ’n seisoen waarin dit óf brand óf groei óf blom. En ek sê: Blom waar jy geplant is. Dit beteken dat jy gehoorsaam moet wees.
“God gebruik jou swakhede of omstandighede of jou pyn, en wys só vir ander mense hoe Hy deur jou werk. Wees net gehoorsaam en gaan doen wat Hy van jou verwag. En as jy voel dis nie maklik nie, dan doen jy dit reg.”
Annari wil ouers aanmoedig om hul kinders vroeg-vroeg deur kundiges te laat toets indien hulle reken daar skort iets. Sy vertel hoe dankbaar sy is dat sy ekstra hulp ontvang het sodat sy matriek kon slaag en as skoonheidsdeskundige kon kwalifiseer.
‘Ons almal het ’n wonderwerk-storie’
Vandag is sy daarvan oortuig dat disleksie sekere voordele inhou. Sy gebruik haarself as voorbeeld hiervan: “Ek is maar skaam en praat nie juis voor ander mense nie. Maar ek dink my ‘disleksiese brein’ help my om dinge bymekaar te bring – soos ’n liedjie, ’n boodskap en ’n praktiese kunssessie. Uiteindelik word dit alles dan ’n heerlike ontspanningsessie vir die dames wat dit bywoon.
“Al die Here se kinders is kosbaar, en ons almal het ’n storie wat as ’n wonderwerk beskou kan word. Dit is die boodskap wat ek bring.
“God het my vrede gegee oor my disleksie, en nou gebruik ek dit tot my voordeel. Hy het my geleer dat ek daardie label van my menswees moet afhaal; dat ek eerder moet kyk en glo wat Hy van my sê.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















