Ek beskou myself as ’n late bloomer. Baie van die insigte wat ek vandag het, het ek eers drie jaar gelede ontvang. Dit was toe die Here my op ’n ander manier na my lewe en my identiteit laat kyk het. Dit was asof Hy vir my gesê het: “Johan, jy is meer as wat jy dink. Jy is nie wat die wêreld van jou sê nie; jy is wie Ek sê jy is.”
So het my reis begin
Hierdie ontdekking het my wêreld op sy kop gekeer. Die pad na my doel op aarde het duideliker geword. Ek het besef my doel is om mense te help verstaan wie hulle in Hom is.
So het my reis begin om ’n boek te skryf.
Maar dit was bloot die begin van wat God vir my beplan het.
Ek het die belangrikheid van identiteit op ’n diep vlak begin verstaan. Die vyand is daarop uit om jou deurmekaar te maak oor wie jy werklik is. Die wêreld bombardeer jou met boodskappe oor wat dit beteken om ’n suksesvolle mens te wees, en hoe jy aan wêreldse standaarde moet voldoen. Die media, die samelewing, die mense om jou – almal het ’n beeld van wie en wat jy behoort te wees.
LEES OOK: ‘Ek skryf God se storie; mense is bloot byspelers daarin’
In die woestyn
Ek het op die harde manier geleer dat wanneer jy jou aan hierdie eksterne standaarde begin meet, jy maklik kan vergeet wie jy werklik is en hoekom jy op hierdie aarde is. En wanneer jy die regte perspektief verloor, kan die vyand jou vernietig.
Ek het jare lank as ’t ware in die woestyn van my eie identiteit geswerf. As jong man het ek verkeerd oor myself gedink en begin aanvaar wat die wêreld van my gesê het. Dit het my selfbeeld ’n ernstige knou gegee. Op skool was ek die stil een, altyd op my plek, nooit deel van die “in”-groep nie. Ek het nooit die moed gehad om op te staan en te sê wat ek voel nie.
Nadat ek in 1994 gematrikuleer het, het ek gesukkel om aan te pas, om deel van iets te wees wat die moeite werd is. In my ewige soeke na goedkeuring het ek baie foute gemaak en ek het teen my eie waardes opgetree.
Dit het daartoe gelei dat ek my, onder meer, tot laat nagte, partytjies en drank gewend het. Ek was op soek na iets, maar ek het nie regtig geweet na wat nie. Dit alles het my by ’n plek gebring waar ek dikwels nie eens kon onthou wat ek die vorige aand gedoen het nie.
Dis ’n baie gevaarlike ruimte om in te wees: om terug te kyk en te wonder hoekom jy dit en dat gedoen het.
En dis tog nie wie ek is nie …
Dit alles herinner my nou aan wat Paulus eens gesê het: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek” (Rom 7:15).
Dit was ’n tyd van verwarring en geestelike wanorde. Ek het nie verstaan wat dit beteken om werklik ’n volgeling van Jesus Christus te wees nie. Ek het nie geweet wat dit beteken om jouself prys te gee, jou eie wil af te lê en Hom te volg nie.
Ek het nie geweet dat ek met ’n doel geskape is nie. Dat God vir my ’n plan het nie.
Die dag toe my lewe verander het
Toe het Hy aan my begin openbaar wat dit beteken om in ’n verhouding met Hom te staan, om te funksioneer vanuit ’n plek waar Hý my vertel wie ek werklik is.
Ek is dankbaar teenoor die Here wat my gelei het op die pad om my ware identiteit in Hom te ontdek. Hierdie reis het nie net my lewe verander nie, maar het my ook die kans gegee om ander te help om dieselfde ontdekking te maak.
Ek beskou die dag wanneer jy jou doel begin verstaan as een van die belangrikste dae in jou lewe. Dis een van die vernaamste insigte wat jy ooit sal verwerf, want dis ’n besef wat jou hele perspektief op die lewe verander. Jy begin verstaan dat jy nie op aarde is om aan die wêreld se verwagtings te voldoen nie, maar om in Hom jou roeping en doel te ontdek.
Ek is steeds op reis, ek is steeds besig om vrede te maak met myself en om elke dag meer te leer oor wie ek in Christus is. Ek besef dat dit ’n proses is en dat dit nie iets is wat jy oornag bereik nie.
Ek weet ook dat ek nooit alles ten volle sal verstaan nie. Dit sal eers gebeur wanneer ek oorgaan na die ewigheid en die ware ek voor God sal staan.
Maar in hierdie stadium van my reis is ek hoopvol, en ek glo dat die Here my boek sal gebruik om ander mense te lei na ’n nuwe insig en om hulle nader aan Hom en sy Woord te bring.
My gebed is dat mense deur hierdie boek hul ware identiteit in Hom sal ontdek en uiteindelik hul lewensdoel sal verstaan, dit wat God vir hulle nog voor die grondlegging van die aarde beplan het.
- Johan Botha (48) is ’n lewensafrigter en skrywer wat in Bloemfontein woon. Sy eerste boek, Geskep vir Meer, het pas by Bybel-Media verskyn. Dié boek is ’n reis van 31 dae na persoonlike en geestelike groei. Johan is getroud met Chantelle en hulle het ’n dogtertjie, Paisley.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.