Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Gerehabiliteerde verslaafde hardloop 1 603 km na Pietermaritzburg én toe Comrades: ‘Enigiets is moontlik as jy glo’

Terwyl Comrades-atlete nou uitrus ná die uitmergelende 89,98 km wat hulle Sondag gehardloop het, moet die 48-jarige Denver van der Bergh se liggaam van dié ultramaraton sowel as ’n verdere 1 603 km herstel.

Slegs drie dae voor die Comrades-wedloop het Denver in Pietermaritzburg aangekom nadat hy oor 36 dae gemiddeld 46 km per dag vanaf Rondebosch, Kaapstad gehardloop het.

’n Viering van verslawing na vryheid

Denver noem dit sy “Serenity Run” omdat hy vanjaar vyf jaar vry van drank en dwelms vier. Dié middels het hom 25 jaar in die boeie van verslawing vasgepen gehou voordat Ramot-rehabilitasiesentrum in Parow sy lewe verander het.

“Dis nog onwerklik maar ek is ongelooflik trots daarop dat ek dít wat ek gesê het ek gaan doen, gedoen het,” het ’n moeë Denver vanoggend (10 Junie 2025) vertel. Hy en sy broer Marlon het Dinsdagoggend drieuur in Bridgetown, Athlone per motor aangekom nadat Denver die Comrades voltooi het.

“Ek kon nie vir ’n beter ondersteuner gevra het nie. Marlon het die ondersteuningsvoertuigbestuur en my die afgelope meer as ’n maand die heeltyd ondersteun. My ma Veronica (77) woon saam met my en my broer en sy moes die afgelope ruk alleen regkom. Almal het vir my opofferings gemaak,” het Denver dankbaar gesê.

LEES OOK: Van Parkrun na Comrades: Seun motiveer ma om te begin draf

Denver vertel as hy nou terugkyk oor die duisende kilometers was die fisiese hardloop, die mooi landskap en die vriendelike mense vir hom die lekkerste. Maar beserings het sommige dae ’n stokkie daarvoor gesteek. “Ek is mal oor hardloop. Die eerste agt dae uit Kaapstad het goed gegaan maar toe het ek ’n groot blaas op my linkervoet gekry wat dit moeilik gemaak het. Omdat ek gekompenseer het, het ek later my knie seergemaak en my een Achilles-tendon geskeur. Ek het later soos ’n mummie gelyk met al die pleisters en verbande!

“Toe my beserings te erg was moes ek vanaf Mosselbaai na George stap omdat ek te seer was. En ek het net die volgende dag gerus om te probeer herstel voor ek weer verder gehardloop het …”

Denver vertel hy het later die bekende “Serenity Prayer*” gebid om hom te help om nie op te gee nie. “Ek het besef ek kan nie die pad of my beserings verander nie, maar ek kan bid vir krag en dat ek anders na die situasie sal kyk …”

’n Comrades met moeë bene

Denver het deurgedruk en op 5 Junie Pietermaritzburg bereik. En op 8 Junie het hy saam met die sowat 22 670 Comrades-deelnemers die lang pad na Durban aangedurf.

Wanneer jy hom vra of die Comrades makliker gevoel het omdat sy liggaam reeds gewoond was om so ver te hardloop, lag Denver. “Onthou, ek het nie vars bene gehad nie. Die Comrades toets jou op alle vlakke – spiritueel, fisies … Maar dit was lekker om saam met mense te hardloop en die gees te ervaar. Ek het vir 36 dae alleen gehardloop. En skielik hoef ek nie te gestres het oor karre en trokke wat verby my gevlieg het nie. Die laaste 20 km was my bene swaar en moeg. Ek het toe besluit om dit net rustig te vat en te geniet. En ek het steeds my vorige tyd met ’n uur verbeter en in 9 ure 46 minute en 47 sekondes klaargemaak.”

Denver het die afgelope vyf jaar ook ’n ander doelwit bereik. Ná sy rehabilitasie het hy sy graad in Besigheidsadministrasie met lof geslaag en werk hy vandag as intern by ’n groot beleggingsmaatskappy. Hy sê: “Ek is baie trots daarop dat ek my graad gekry het voor my pa laasjaar gesterf het en dat ek hom kon trots maak.

“Die grootste les wat ek tot dusver geleer het is dat ek moet lief wees vir myself en dat ek na myself moet omsien. Ek het ook geleer dat ek moet regmaak wat ek verkeerd gedoen het en dat enigiets moontlik is as jy daarin glo. Ek is genoeg!”

Denver het ’n BackaBuddy-veldtog geloods en tot dusver reeds meer as R38 000 ingesamel wat hy vir die Ramot-rehabilitasiekliniek vir alkohol- en dwelmafhanklikheid skenk om ander verslaafdes te help.

“My hart is om ander te inspireer om hulle eie stryd te oorkom. Al help dit net een persoon.”

Al Denver se doelwitte is ook nog lank nie bereik nie. Volgende aan die beurt is ’n nagraadse kwalifikasie in finansiële beplanning. En dan wil hy in sy gemeenskap teruggee: “My doel is om mense in my gemeenskap te leer om vir hul aftrede te spaar, en om mense te help om uit armoede te kom.”

*God, skenk my die kalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om te verander wat ek kan verander en wysheid om die verskil tussen hulle te onderskei.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►