Ek en my man het reëls in ons huis wat skermtyd vir die kinders betref. Dis nie om onnodig streng te wil wees nie, maar omdat ons weet sulke reëls is die beste vir ons seuns. Ons wil hulle beskerm. En ons is daarvan oortuig dat grense soms die grootste geskenk is wat ons aan hulle kán gee.
Ná hul daaglikse dosis televisiekyk vra ek my seuntjies gewoonlik om die televisie af te skakel. En meestal is dit ’n oorgang wat sonder groot drama verloop. Maar vandag was dit anders. My jongste seuntjie – jonk in jare, maar heel ywerig waar dit sy regte aangaan – het opgespring en uitgeroep: “Dis onregverdig!”
LEES OOK: Mamma-memoires: Wat niemand vir jou sê van jou sewejarige dogtertjie nie
Daarop het hy kamer toe gestorm, met ’n vurige protes wat sy liggaampie beset. Ek het hom teruggeroep. Geen reaksie. Ek het na sy kamer toe geloop en op sy bed gaan sit. Sy stywe rug was na my toe gedraai.
Toe praat hy tóg, en ek het die tranerigheid in sy stem gehoor: “Dis lelik! Ek wil nog kyk!”
“Ek weet jy wil nog kyk,” het ek sag gesê. “Ek weet dis vir jou swaar om op te hou. Ja, dis lekker om televisie te kyk, maar dis nie so goed vir jou soos om buite te speel nie.”
Hy het niks gesê nie.
Ek het net daar bly sit. Want soms beteken ’n ma se teenwoordigheid veel, veel meer as woorde.
Die een minuut het twee geword, toe tien. En stadig, baie stadig, het hy sy lyfie gedraai sodat sy oë weer na my kant toe kyk. Ek het nie verder gepraat nie en nie na die onsmaaklike voorval verwys nie. En gou het ons weer ’n speletjie met mekaar gespeel.
Die Here se sagte teenwoordigheid
Ons verhouding is nie deur die een of ander magsuitoefening herstel nie, maar deur sagtheid. Hy het geweet hy is verkeerd. Hy het ook geweet dat ek hom vergewe het. Dit was ’n gesprek sonder woorde.
Terwyl ek so stil daar by hom gesit het, het ek opnuut besef hoeveel raakpunte daar tussen ons klein stories en die Groot Verhaal is. Ek het Hosea 2 onthou, en hoe God met sy mense praat, ondanks hul ontrou. “Daarom, kyk, Ek gaan haar oorhaal, haar na die woestyn laat gaan, en mooi met haar praat” (Hos 2:13).
Wanneer die lewe nie uitwerk soos wat ons dit beplan het nie, en wanneer ons gebede nie beantwoord word soos ons dit wou hê nie, en wanneer ons nie kan sien wat en hoe God se plan is nie, roep ons uit: “Dis onregverdig!”
En dan leer ken ons opnuut ’n God wat nie skreeu of dreig nie, maar ons na sy woestyn toe nooi. Nie om ons daar te straf nie, maar om ons tot stilstand te bring. En ons beleef hoe Hy na ons toe kom. Hy bly nooit eenkant staan nie en Hy wag nie totdat ons bedaar het nie. Sonder meer kom sit Hy by ons, praat Hy mooi met ons, troos Hy ons. Die almagtige Skepper van hemel en aarde kies om sag met ons te praat. Ja, ons God is ’n Vader wat nie moed opgee met sy kinders nie.
Dalk, dink ek nou, dálk was daardie stil oomblikke op my seuntjie se bed ’n geleentheid vir ons al twee om nie slegs iets oor skermtyd en selfbeheersing te leer nie, maar ook iets oor genade. Dalk het die Here ons op dié manier gevra om die geraas van ons verwagtings af te skakel, om die verontwaardiging neer te lê.
Want Hy vergewe. Hy kom sit teenaan ons sodat Hy ons onstuimige hart kan hoor klop. Dan hou Hy ons vas, herinner ons aan sy liefde, omhels ons met sy genade.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.




















