Ek het nie geweet dat my hart op ten minste sewe maniere gaan huil én juig op dieselfde tyd nie. Pop het pas sewe geword. En saam met elke melktandjie wat sy verloor, verloor ek ’n stukkie van die babadogtertjie wat ek vasgehou het. Sy leer lees, droom haar eie drome en pak haar eie wêreld aan. En ek? Ek sit en kyk, met trane én trots.
Ek het nie geweet dat sewe nie net ’n ouderdom is nie, maar ’n skeidingslyn is tussen wat was en wat kom nie. Haar ogies soek nie meer altyd eerste na myne nie. Haar drome word groter as ons huis. En steeds, as iemand siek is, spring sy eerste op om te versorg. Ek sien hoe sy ’n verskil gaan maak, en my hart loop oor van dankbaarheid én heimwee.
Ek het nie geweet dat ek so gaan verlang na die baba-weergawe van haar nie, maar dat ek ook nie kan wag vir môre saam met haar nie. Ek hoop ek onthou haar babastem, haar warm lyfie in my bed ná ’n slegte droom en die manier hoe sy haar tee drink. Ek hoop ons huis bly altyd haar veilige hawe en ek hoop sy weet dat ek vir die res van my lewe vir haar tee sal maak.
My wens vir Pop is dat sy hierdie bevestiging, wat hulle tydens Pinksterweek by die kerk geleer het, altyd sal onthou. Dat dit diepte sal kry in haar verstand en sal worstel skiet in haar hart:
Ek is sterk in die Here, want Hy het my gekies – om vir Hom te luister en vir Hom te spring!
Ek het nie geweet dat sewe jou hart so sal breek nie. Én vol maak nie.
“Geseënd is sy wat geglo het dat die Here sou doen wat Hy beloof het.” – Lukas 1:45
Haar ogies soek nie meer altyd eerste na myne nie. Haar drome word groter as ons huis.
#mammamemoires




















