Ons brein is nie altyd ons beste vriend nie. Dit klou vas aan kritiek en dit herkou aan mislukkings. En dit voorspel teenspoed lánk voor dit opdaag. Ons kan binne sekondes ’n kompliment vergeet, maar ’n sarkastiese belediging bly ons dae lank by. Die slegte nuus en die skinderstorie en die ongemaklike oomblikke by die werk sal vassteek soos wolletjies aan velcro. Intussen glip die goeie, opbouende gedagtes so vinnig weg soos ’n eier uit ’n teflonpan.
Die neurowetenskaplike Rick Hanson noem bogenoemde die teflon/velcro-teorie. Hy sê ons brein is ontwerp om negatiewe ervarings te onthou en positiewes te ignoreer. Dit was glo eens ’n oorlewingsmeganisme, ’n manier om gevaar te vermy en uit pyn te leer. Maar vandag lyk die wêreld heel anders: Ons word nie meer deur roofdiere bedreig nie.
Die gevolg is dat dié ingesteldheid ons vreugde steel en ons geloof versmoor.
Gelukkig is daar hoop vir ons.
LEES OOK: Die Ligbron wat ons voed
Hanson wys daarop dat ons brein neuroplasties is, met ander woorde dit kan verander. Dit verg wel doelbewuste oefening. Sy navorsing het uitgewys dat ’n positiewe gedagte minstens 15 sekondes lank vasgehou en oordink moet word voordat dit ’n “afdruk” in die brein maak. Dinge soos dankbaarheid, vreugde en liefde moet gekies word. En dié keuses moet herhaal en uiteindelik geanker word in ons daaglikse denke.
In mý kop …
Ek beleef al dié dinge wanneer ek die kommentaar op my rubrieke lees. Ek vlieg vinnig oor die positiewe opmerkings, maar wanneer daar een kritiese sinnetjie voorkom, klééf dit aan my. Dit kos net een mens wat iets bevraagteken of iets verkeerd lees …
Dan kom die twyfel: Was ek dalk ongevoelig? Was ek dalk oppervlakkig? Kortom, ek twyfel aan my stem en my roeping.
En terwyl ek hiermee worstel, vervaag al die positiewe terugvoer. Ek onthou nie meer daardie mens wat gesê het my woorde het haar diep geraak nie. Ek vergeet dat lesers sê hulle stuur my rubriek aan vir ander wat dit nodig het. Dié wat sê dat hulle hul eie verhaal in myne herken, hoor ek nie meer nie. Al dié mooi oomblikke verdamp soos mis voor die son.
Só maak die velcro-effek met my.
In die Woord
Dis in sulke tye dat Paulus se woorde in Filippense 4:4-9 my anker: “Verbly julle altyd in die Here! … Rig julle gedagtes op wat waar is, eerbaar is, reg is, rein is, lieflik is, en lof verdien …”
Paulus skryf dié dinge terwyl hy in boeie is. Hy kies vreugde en dankbaarheid ten spyte van … Hy kies om sy gedagtes op die goeie te rig, selfs in die donkerte waar hy hom bevind.
Kan ons ook só kies? Is dit moontlik om ons vreugde in God te vind, selfs te midde van die stormwind wat in ons woed?
Ons kan, ja, maar nie deur wilskrag nie. Dis die Heilige Gees wat in ons woon wat dit bewerkstellig. Paulus herinner ons hieraan: “Julle het nie ’n Gees ontvang wat verslawing bring nie … maar die Gees wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is. Hierdie Gees roep in ons: ‘Abba, Vader!’”
Dis herhaalde keuses
Wanneer die velcro van vrees en twyfel begin kleef, onthou dan dat jy nie alleen is nie. Jy het ’n Vader wat jou nie los nie en ’n Gees wat jou denke vernuwe.
Ja, jy kan kies om jou brein te herbedraad. En dan nie net deur by die neurowetenskap te leer nie, maar deur die waarheid van God se Woord te glo. Jy kan kies om te fokus op wat goed is en wat waar is en wat mooi is. En die God van vrede sal met jou wees.
Elke keer as jy kies om ’n kompliment te onthou en om dankie te sê en om eerder te bid as om te tob, skep jy ’n nuwe paadjie in jou brein. So ’n paadjie lei nie na oppervlakkige optimisme nie, maar na vrede. En na ’n diep, deeglik gegronde vreugde. Dis op waarheid gebou en in liefde geanker.
Wat kan jy vandag doen om jou denke te vernuwe? Dalk begin dit met een klein keuse: om die dinge waaroor jy dankbaar is, neer te skryf. Om ’n Bybelvers te memoriseer wat negatiewe denke vervang. Of deur bloot te sê: “Here, rig my gedagtes.”
Die velcro van negatiewe gedagtes sal wel steeds probeer kleef. Maar God se Gees hou ons op ’n heel ander manier vas. Hy is by en met ons om ons denke te vernuwe en om ons vreugde te herstel. En om ons daaraan te herinner dat ons God se geliefde kinders is, onlosmaaklik vas aan Hom.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.



















