Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek weet nie of die kanker sal terugkeer nie, maar ek ken die Een wat die pad saam met my stap’

Ek is op 19 Desember 2023 met borskanker gediagnoseer, drie maande voor my dogter se troue en ’n maand voor my seun oorsee gaan woon het.

Die chemoterapie het twee weke voor die troue begin, en ek het gebid dat God my sal help om my hare tot ná die troue te behou. Die oggend van die troue het ek wakker geword en die eerste keer hare op my kussing gesien. Ek het dus steeds my eie hare gehad vir die groot dag.

Drie maande later was daar ’n tweede primêre kankerdiagnose, wat uiteindelik tot septisemie en ’n lewensgevaarlike situasie gelei het. Ek het die chemoterapie vir bors- en blindedermkanker in November 2024 voltooi. En op 12 Desember het ek ’n dubbele mastektomie en limfklierverwydering ondergaan. Daarna het 25 daaglikse bestralingsessies gevolg.

Nader aan God

Ek het aan ernstige depressie gely en het elke aand gebid dat God my sal help dat ek nie die volgende oggend wakker word nie. Ek is so dankbaar dat Hy nie ons onkundige gebede verhoor nie …

LEES OOK: Vrou getuig 10 jaar ná kankerdiagnose: ‘God is die Wonderwerker’

Intussen is ek weer twee keer ondersoek en elke keer was ek “skoon”. Die mees onlangse ondersoek was op 22 September 2025.

Kanker verander jou, en ek het geleer om my “nuwe normaal” te aanvaar. Te midde van my reis, vreesaanjaend soos dit was, het God my nader aan Hom getrek. Ek het in dié tyd soveel groter insig in die Christelike geloof gekry.

Skotland toe!

Ek het deurentyd gebid vir ’n geleentheid om my seun te sien wat in Skotland woon. God het hierdie moeder se gebed verhoor en die presiese bedrag voorsien wat nodig was om ’n vlug te bespreek en om vir die nodige reisversekering te sorg én om ’n visum vir my man aan te vra.

Ons het toe vyf wonderlike weke in Skotland deurgebring en in daardie tyd die vreugde ervaar om by my seun en sy verloofde te wees. Ons is verder geseën met nog ’n reis na Skotland wat op ons wag, dié keer vir die troue.

‘Ekstra tyd’? Ek dink nie so nie …

Niks wat positief was aan my kankerreis sou moontlik gewees het sonder my hemelse Vader nie, en dit is deur sy genade en barmhartigheid dat ek vandag lewe, dat ek gesond is en Hom in my bediening, wat my na aan die hart lê, kan loof. Ek is lidmaat van die St Marks-kerk in Plumstead, Kaapstad en betrokke by die kinderbediening.

Iemand het vir my gesê dat God my “ekstra tyd” gegee het. Ek glo nie daaraan nie, want Hy weet wat is die dag, die uur en die minuut wanneer ons op hierdie aarde aankom. En Hy ken die presiese datum en tyd wanneer ons aardse reis sal eindig.

Wat hierdie hele ervaring wel aan my gedoen het, is om my oë oop te maak vir die geskenk van lewe, en vir die voorreg om elke dag wakker te word en die doel te verwesenlik waarvoor God my geskape het. Alles wat ek het, is ek aan Hom verskuldig: my redding, wat ek nie verdien het nie, en my wonderlike familie, en die doel wat ek voor oë hou wanneer ek vorentoe gaan.

Ek weet nie of die kanker sal terugkeer nie, maar ek ken die Een wat red en wat saam met my die pad stap. Hy is by my in die gelukkigste oomblikke van my lewe, en Hy sal my nooit in my donkerste ure verlaat nie.

Ná my pyn en lyding bid ek dat God my storie sal gebruik om ’n lig vir Hom te wees, en ’n bron van moed vir ander wat swaarkry. Sy barmhartigheid is elke oggend nuut, en die pragtige lied “Great is thy faithfulness” help ons om dit te onthou.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►