Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vrou getuig 10 jaar ná kankerdiagnose: ‘God is die Wonderwerker’

Sonia Fourie van Witbank moes as 18-jarige hoor sy het kanker én dat die behandeling haar vrugbaarheid mag affekteer. Terwyl haar vriende hulle matriekvakansie geniet het, moes sy chemoterapie en bestraling ondergaan. Tien jaar later getuig sy oor God se goedheid en die geestelike seëninge wat die kankerpad gebring het.

Ek moes as 18-jarige hoor dat ek kanker het, slegs ’n maand voor ek onderwys aan die Universiteit van Pretoria sou begin swot.

In my matriekjaar het ek baie siek begin voel en meer as 10 kg verloor. November was daar ’n knop onder my arm en daarna knoppe in my nek.

Na baie mediese toetse het ek niks teruggehoor nie. Maar, kort na my eindeksamen vertel my ma my een vroegoggend dat ek kanker het en dat ons daardie dag die onkoloog gaan sien. My ouers wou dié nuus stilhou tot ná my eindeksamen.

Terwyl dit voel of ek kyk na ’n fliek van my nuwe werklikheid, kry ek daardie Woensdagoggend hárde kankernuus: Fase 2 nie-Hodgkin-limfoom met ’n groot massa op my regterlong. Die chemoterapie sou baie aggressief wees; ek sou my hare verloor en moontlik nooit kinders kon kry nie.

My hele wêreld het tot stilstand gekom. Ek het in my kamer gaan wegkruip. Ek het opgehou kyk na matriekmaats se plasings oor hulle sorgvrye vakansies; ek het die mooi versies van my kamermure afgehaal en my Bybelboeke in my ma se kamer gaan neersit.

Ons het ’n baie gespanne Kersfees gehad, al het my familie my probeer ondersteun.

LEES OOK: Tweelingsussies en hul pa stap ’n kanker-pad: ‘Ons het sonder ophou gebid en nooit gaan lê nie’

Ek het nog altyd ’n intieme verhouding met Abba Vader gehad, en ek was seergemaak, ek kon nie verstaan wáárom Hy dit oor my pad bring nie.

Op ’n stadium tydens ’n baie intense hartseer, het ek hartverskeurend voor God gehuil. Ek het soveel vrae voor Hom neergesit en gevra waarom?

Ek het sy stem duidelik gehoor: “Ek doen dit nie om jou seer te maak nie, maar Ek gaan dit gebruik vir jou getuienis.”

God se woorde het my laat opstaan

Hierdie woorde het my laat opstaan. Ek het my Bybelboeke teruggebring kamer toe en verder saam met God gestap. Ek het sy hart vir my leer ken, meer as ooit tevore.

Ek moes twee klein operasies kry: Een om kliere te verwyder, die ander om ’n chemoport in my regterbors te plaas. My chemoterapie het in Januarie 2015 in Witbank begin. Ek moes my pragtige lang hare in ’n kort bob sny, terwyl my broer, my ma en haar kollegas al hulle hare afgeskeer het om my te ondersteun! Dit was baie spesiaal toe ek by haar werk instap en daar’s ’n hele vertrek met mense sonder hare. My onkoloog kon dit nie glo nie, maar ek het my hare regdeur die behandelingsproses behou.

Saam met chemoterapie se naarheid en sleg voel (die Red Devil inkluis), het ek heeltyd oorweldigende vrese beleef: Sal ek sterf? Sal ek kinderloos wees? Ek wou só graag ’n mamma wees!

My ma sou gereeld ’n mooi sithoekie vir ons skep. Dan sleep sy my uit my kamer sodat ons saam kan Bybelstudie doen. Oor my moontlike onvrugbaarheid het sy my aangemoedig om herhaaldelik Johannes 14:13-14 oor myself te spreek: Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

Lewe en dood lê in ons mond. Ons moet die Woord gebruik en ons moet lewe spreek.

My ma moes later ook vir my preek: “Gun ander mense hulle babas. Hoe kan die Here jou eendag met babas seën as jy nie bly is vir ander s’n nie?” Ek moes hard werk om my ingesteldheid te verander!

‘Ek moes my vrese voor God neerlê’

Ek onthou die vreesaanjaende doktersbesoeke, wanneer ons die uitslag en vordering van die behandelingsproses moes aanhoor. Ek het so gestres dat my ma die dokter se woorde op haar selfoon moes opneem sodat ek later daarna kon luister. Ses maande nadat ek skoon verklaar is, moes ek my akute, oorweldigende vrese vir kanker wat mag terugkeer, voor Abba se voete neerlê.

Ons God is só goed. Regdeur die hele siekteseisoen het ek Jesus se hand gesien, ek het Hom leer ken. Hy het my in my gebrokenheid ontmoet en my geleer sy planne en ons planne is nie altyd dieselfde nie, maar dat Jesus altyd mooi planne vir ons maak. En wanneer jy Jesus vertrou in die seer, sal Hy jou altyd uitdra.

Ek kan vandag sê dat ons Hemelse Vader se planne so mooi vir my was. Nog mooier as wat ek self kon dink. Noudat ek die kankerpad gestap en nader aan Hom gegroei het, kan ek sê ek is bly daaroor. Ek sou Hom nie so intiem leer ken het sonder die kanker nie.

Kort nadat ek skoon verklaar is, het ek deur Unisa begin onderwys studeer. Tussen my behandelings deur het ek by ’n privaatskool vir kinders met spesiale behoeftes gewerk en later ook by verskeie ander skole in Potchefstroom en Johannesburg. Ek het my Honneursgraad in spesialebehoefteonderwys (cum laude) verwerf. Deesdae is ek ’n graad 1-onderwyseres in Witbank, maar my droom is om later weer met spesialebehoeftekinders te werk.

In Januarie 2024 het ek in Benoni stiltetyd gehou toe ek my behoefte aan ’n lewensmaat en baba voor Hom uitstort. Ek het vir Abba ’n brief geskryf oor die spesifieke man wat ek van Hom afbid: Iemand wat lief is vir mense en kinders, iemand wat vir Hóm lief is en my sal liefhê, en ’n baba sal aanneem indien nodig.

Die Wonderwerker

Ek het hierdie brief in ’n koevert toegeplak, dit teen my gebedsbord vasgesteek en elke keer wanneer ek daarna kyk, Hom gedank omdat Hy die Wonderwerker is.

Meimaand kontak Christoff Fourie my. Ons was saam op skool, maar het in verskillende kringe beweeg. Ek het my kankergetuienis met hom gedeel, Christoff het getuig dat hy Aprilmaand ’n ernstige val van ’n bergkrans af oorleef het ondanks ernstige kop- en beenbeserings.

Baie vinnig het ons mekaar gereeld oor naweke gesien. November het ek aan hierdie Witbank-onderwyser verloof geraak, en na ons troue het ek geen voorbehoeding gebruik nie omdat ons nie vinnig ’n baba verwag het nie.

Vandag sit en kyk ek na ons babaseuntjie: Christiaan Daniel Fourie, gebore op 28 Augustus 2025; 10 jaar ná my storie begin het. Ek onthou al die aande se ombid by Jesus se voete en my onsekerheid of ek eendag ’n ma sal kan wees. My hart is propvol dankbaarheid.

Daar is werklik niks te groot of onmoontlik wat ons Hemelse Vader nie kan verander in ’n oorwinning nie. Jesus is ons goeie Vader. Daar waar ons in ons seer sit, kan ons dit vir Jesus gee. Hy is sterk en wonderlik genoeg om ons daardeur te dra. Jesus sien ons en Hy gee om. Hy is ’n Vader wat ons raaksien en ons ontmoet presies daar waar ons is.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►