Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Hoekom moet twéé van ons kinders soveel uitdagings hê, Here?’

In Julie 2024 het Anerike Schutte van Pretoria haar getuienis met LiG se lesers gedeel. Dit was ’n verhaal van onwrikbare geloof en van God se teenwoordigheid toe haar seuntjie Rikus 202 dae in die hospitaal moes deurbring. Vandag vertel sy verder aan hul gesinnetjie se verhaal. In dié hoofstuk word die dogtertjie Carmi gebore. Dis weer ’n storie van ’n nuwe, vreemde pad waarop die Here hulle stap vir stap moet lei.

Ek het altyd geglo dat elke mens ’n storie het om te vertel, ’n verhaal wat net God regtig ken. Wat ek egter nooit geweet het nie, is dat dié storie soms so loodswaar word dat jy skaars woorde daarvoor kan vind.

Dit is soos dit met my is, maar al voel my storie tans so swaar, skryf ek dit nou hier neer. Want ek het geleer dat lig, God se lig, die beste gesien kan word deur die krake in ons hart.

Ons seuntjie Rikus het ons geloof geskud toe ons agtergekom het dat sy asemhaling onvoldoende is, veral wanneer hy slaap. ’n Volle 202 dae in die hospitaal saam met jou kind verander jou. Nie slegs as ouer nie, maar ook as mens.

Rikus se stryd het my nie net op my knieë gedwing nie; dit het my ook geleer hoe getrou God is. Daardie seisoen het my rou gelaat, maar ook radikaal afhanklik gemaak.

Desperate hoop op ’n makliker pad

Toe ek verlede jaar swanger geword het met Carmi, het ek gehoop dat dinge dié keer anders sou wees. Ek het desperaat daarna uitgesien om ’n makliker pad te loop, ’n sagter een as die vorige. ’n Klein bietjie asemskep ná die skynbaar nimmereindigende geveg, die aanhou hoop en aanhou sterk wees, wat Rikus se hospitaal-reis van ons geverg het.

Maar op 26 September 2025, die dag toe Carmi gebore is, was ’n vinnige kykie na haar gesig en krulhaartjies al wat ek kon kry. Ek kon haar nie vashou nie. Hulle het haar onmiddellik by my weggeneem weens asemnood.

Asemnood … Dié woord het my yskoud gemaak. Want dit was wat ons só lank in die hospitaal gehou het ná Rikus se geboorte.

Toe kom die volgende twee woorde na ons toe: gesplete verhemelte. Dit was asof my wêreld begin kantel het. Ek het gevoel hoe al die vrese van die traumatiese tyd saam met Rikus skielik terugkom. Ek het geweet wat wag: toetse, ’n voedingstryd, nagte sonder slaap, en die vrees vir die onbekende.

Leeg, bang, gebreek …

Ek het daar gelê: leeg, bang, gebreek. En ek het geweet ek sou weer ’n pad moes loop soos die een wat ek nog nie eens verwerk het nie.

Carmi het gesukkel met voeding, en verskeie mondplaatjies moes gemaak word om haar daarmee te help. Dit was 40 dae in die hospitaal saam met ons dogtertjie, 40 dae se uithou, bid en wag. Dit was dae waarin ek soms te moeg was om te bid, maar steeds geweet het God bly by my.

Ek kan eerlik sê dat ek geworstel het. Ek het kwaad geword. Ek was bang. Ek het gevra hoekom twee van my en Marinus se drie kinders soveel uitdagings moet trotseer. Ek het die Here gevra of Hy ons sien. Ek het selfs gewonder of ek die gelowige vrou is wat ek altyd gedink het ek is.

Toe, te midde van al die gebrokenheid, het daar iets gebeur: ’n Stil vrede het oor my gekom. Dit was nie die soort vrede wat jy beleef wanneer dinge goed verloop nie, maar dit wat by jou opdaag wanneer jy ophou veg teen God en bloot in sy arms gaan lê. Ek het geleer dat berusting nie beteken jy gee op nie; dit beteken jy gee oor.

‘Ek het julle hiervoor gekies’

Ek kyk graag na Carmi. Na haar sagte ogies. Haar vasbyt. Haar onwrikbare wil om te leef. Om te groei ten spyte van al die moeilike dinge wat in haar pad staan. En ek hoor ’n fluistering in my hart: “Ek het haar vir julle gegee. Ek het julle hiervoor gekies.”

Die Here bring ook vrede op ander maniere. Daar was die dokter en sommige van die verpleegsters wat twee jaar gelede by Rikus se bed gestaan het, wat nou na Carmi omsien. Ja, dieselfde gesigte, dieselfde sagte hande, dieselfde rustigheid. Dit is asof God vir ons wil wys: “Ek was tóé daar. Ek is nóú hier. Ek sal weer daar wees.”

Twee groot operasies lê nou voor ons – een wanneer sy ongeveer vyf maande oud is, en nog een wanneer sy 18 maande word. Ons sien daarteen op, en ek wens ek kon dit van haar af wegkeer.

Ons weet dit gaan nie maklik wees nie. Ons weet elke operasie bring sy eie risiko’s, sy eie spanning. Maar ook sy eie herstel. En ek weet dat dieselfde Here wat haar vasgehou het toe ek nie kon nie, haar ook sal beskerm deur elke operasie.

Ons dae verloop nie sonder spanning of bekommernis nie. Maar God se genade is groot, so tussen die gesukkel met voedings deur, die trane en die min slaap.

Ons storie is nie maklik nie. Maar dis ’n verhaal vol seën. 

God se teenwoordigheid is soms stil, maar dis nooit afwesig nie. Sy lig skyn deur elke krakie en barsie – en miskien is dit juis daar waar dit die helderste sigbaar word.

*Ná Rikus se geboorte moes Anerika en Marinus lang dae in die hospitaal deurbring voordat sentrale hipoventilasie-sindroom by Rikus gediagnoseer is. Dis ’n seldsame neurologiese afwyking, wat gekenmerk word deur onvoldoende asemhaling veral wanneer die pasiënt slaap. ’n Duur CPAP-masjien wat hulle saans gebruik, het uiteindelik groter rustigheid gebring. 

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►