Die aanbieder van die VIA-reeks Verander Jou Siening sê haar lewe is ’n tasbare bewys dat God se plan nie deur menslike beperkings gestuit kan word nie. Met dié program leef Sumarié Jordaan haar roeping uit deur mense se perspektiewe te verander – oor gestremdheid, oor identiteit en oor hul waarde in God se oë. “As ek net een mens se siening kan verander, dan weet ek God gebruik my storie vir ’n groter doel,” sê sy.
Van vroeg af was dit duidelik dat Sumarié, wat ook hardhorend is, se lewe anders as die normale sou verloop. Nog voor haar geboorte is haar ouers voor ’n onmoontlike keuse gestel: Haar ma is met tweeling-transfusiesindroom gediagnoseer, ’n ernstige toestand waartydens een baba meer bloed ontvang as die ander.
Sumarié was die ontvanger van die ekstra bloedtoevoer, terwyl haar suster die vegtertjie was. Dokters het haar ouers aangeraai om een baba te laat aborteer, en dit sou Sumarié wees …
“My ouers moes ’n besluit neem wat geen ouer ooit behoort te neem nie,” vertel sy.
“Maar hulle het gekies om te glo. Om eerder op God te vertrou as op die dokters se verslag.”

Daarop het die ouerpaar besluit dat die moeder ’n hoërisiko-operasie ondergaan, ’n prosedure wat indertyd deur slegs een spesialis in Suid-Afrika uitgevoer kon word. Die risiko’s was enorm: Albei babas kon sterf; een kon oorleef; of albei kon oorleef.
‘Ek is dood verklaar’
Tydens die operasie het die dokters agtergekom Sumarié se hart klop klaarblyklik nie meer nie, en hulle het haar dood verklaar. Haar ma moes egter voortgaan om haar in die baarmoeder te dra. Dit was die enigste manier om haar suster se lewe te red.
Wat daarna gebeur het, kan slegs as ’n wonderwerk beskryf word. “Ja,” sê Sumarié vandag, “volgens die kenners moes ek nie hier gewees het nie. Maar God het anders besluit.” Want die oggend ná die operasie het haar ma beweging gevoel. Toe die dokter ondersoek instel, was die nuus moeilik om te glo: Sumarié leef!
“Dit was die eerste wonderwerk in my lewe,” vertel sy. “My lewe het begin as ’n getuienis.”
’n Pad vol uitdagings
Die operasie was toe suksesvol, maar die pad vorentoe was vol uitdagings. Die tweeling is drie maande te vroeg gebore. Sumarié het slegs 810 gram geweeg en haar suster 700 gram. By geboorte het Sumarié geen teken van lewe getoon nie; sy was blou en moes onmiddellik in die intensiewesorg-eenheid geplaas word.

Sy was maande lank van bykomende suurstof afhanklik. Daar is ook ’n ernstige probleem in haar ingewande ontdek en sy moes ’n lewensreddende operasie ondergaan. “Vandag dra ek ’n litteken op my maag,” vertel sy, “en vir my is dit ’n sigbare bewys van God se genade.”
Later is Sumarié met hemiplegiese serebrale gestremdheid gediagnoseer. Dis ’n toestand waar skade aan die ontwikkelende brein tot gevolg het dat een kant van die liggaam swakker, stywer of moeiliker beweeg as die ander kant.
Van kleins af moes sy ook leer om met gehoorverlies saam te leef. Hierdie werklikhede het haar kinderjare kompleks gemaak, maar dit het ook haar innerlike krag gevorm. “Ek het vroeg besef ek kan kies: Ek kan myself jammer kry, of ek kan ’n verskil maak.”
“Anders” beteken nie “minder” nie
Ten spyte van haar lewenslus en bewese deursettingsvermoë was die pad na selfaanvaarding nie maklik nie. Sy het geworstel met haar identiteit, met seerkry en met die behoefte om te behoort. “Daar was tye toe ek gevoel het ek is anders op ’n manier wat nie deur ander mense verstaan word nie. Maar God het my geleer dat ‘anders’ nie ‘minder’ beteken nie.”
Dit was juis in hierdie worsteling waar ’n droom gebore is. Letterlik so. Sy was 11 jaar oud toe sy een nag wakker word uit ’n helder droom waarin sy ’n TV-program aanbied wat fokus op mense wat “anders” funksioneer. “Ek het wakker geword en geweet dit is my roeping,” vertel sy. “Ek het die konsep neergeskryf, want ek het besef hierdie droom kom van God.”
Maar toe sy dit aan die TV-base voorlê, is dit afgekeur omdat sy te jonk was.
“Daardie ‘nee’ was nie die einde nie,” sê sy. “Dit was bloot God se manier om my vir die regte tyd voor te berei.”
Sewe jaar later is die voorstel wel goedgekeur, presies op dieselfde datum as dié waarop sy dit aanvanklik voorgelê het. “Net God kon dit só beplan,” sê Sumarié. “Dit was vir my die bevestiging dat my roeping nog altyd in sy hande was.”
Vandag leef sy haar roeping uit as aanbieder van Verander Jou Siening.
Om harte en perspektiewe te verander
Dié TV-program bring bekende Suid-Afrikaners in aanraking met mense wat met gestremdhede leef, en vertel hul stories op ’n eerlike en menswaardige manier. “My doel met die program is eenvoudig,” verduidelik sy, “ek wil ’n brug bou tussen mense wat verstaan en mense wat nog moet leer verstaan. Ek wil hê mense moet nie net jammer voel nie; ek wil hê hulle moet ánders kyk.”
Een van die mees aangrypende oomblikke in haar reis het in ’n winkel afgespeel, toe ’n dogtertjie met downsindroom haar vra: “Hoort ek hier?”
“Daardie vraag het my hart gebreek,” vertel Sumarié. “Geen kind behoort ooit te wonder of sy op aarde hoort nie.” Sy het die dogtertjie só geantwoord: “Natuurlik hoort jy hier! Jesus het jou spesiaal gemaak.”
Toe die kind later sê dat die program haar normaal laat voel, het Sumarié geweet haar werk dra vrug. “Dis hoekom ek doen wat ek doen,” sê sy. “As een lewe verander, is alles die moeite werd.”
Sy is ook eerlik oor haar eie donker tye: “Ek het deur depressie geworstel,” vertel sy. “Daar was selfs tye waarin ek gewonder het of ek wil voortgaan. Maar God het my telkens daaraan herinner dat my lewe ’n doel het.” En deur haar geloof, haar familie en haar ondersteuningsnetwerk het sy die krag gevind om vol te hou.
Nou sê sy: “Ek is vandag hier omdat God my gedra het, juis toe ek nie meer myself kon dra nie.”
Sy put haar krag uit haar geloof in God en die ondersteuning van haar geliefdes, en sy beskou haar lewe as ’n getuienis van God se genade, sy wonderwerke en sy trou.
Vir haar geld dié waarheid: “Elke mens het waarde. Elke mens het ’n doel. Elke mens hoort hier.”
En dit is hierdie waarheid wat sy daagliks uitleef – nie net met haar TV-program nie, maar ook in elke ontmoeting en elke storie. En in elke lewe wat sy aanraak. “God het nie my lewe gespaar omdat ek perfek is nie. Hy het dit gedoen omdat my storie iemand anders kan red.”
En deur haar stem, haar platform en haar getuienis herinner sy haar kykers daaraan dat alle mense, ongeag hul uitdagings, met ’n doel geskape is.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.


















