Isabella Bezuidenhout (74) en haar man Gerrie (75) stap reeds meer as vyf dekades lank ʼn pad met hul drie verstandelik gestremde kinders. Dié ouerpaar was lank kwaad vir God oor dié uitdagende reis. Hy het egter etlike klippe uit hul pad gerol en, onder meer, ʼn tuiste vir hul kosbare kinders voorsien.
Gerrie en Isabella Bezuidenhout was geskok toe hulle uitvind hul eerste kind is verstandelik gestrem. Nooit kon hulle dink dat dit al drie hul kinders se lot sou wees nie. Isabella vertel: “Die kinders het die intellektuele vermoë van vierjariges. Alles moet vir hulle gedoen word. Hulle beskik oor geen besluitnemingsvermoë nie en moet voltyds onder toesig wees, selfs wanneer hulle eenvoudige take uitvoer.”
Weinig antwoorde
Gerrie en Isabella het by die polisie gewerk toe hul eersteling gebore is. Sonja (nou 53) het reeds van babadae af epileptiese aanvalle gekry. ʼn Pediater het hulle egter verseker dat dit gou sou verbygaan, wat toe nie die geval was nie.
Hierna is Jaco (nou 51) en toe Kosie (nou 49) gebore. Behalwe dat Jaco spesiale skoene moes dra om sy enkels te verstewig, het die ouers geen vermoede gehad dat daar ʼn ander fout was nie.
Gerrie se ma het egter aangedring op ʼn volgende besoek aan ʼn pediater, en dié het hulle na ʼn spesiale skool verwys. Hier is bevind dat sowel Sonja as Jaco verstandelik gestrem is. Kosie het in daardie stadium steeds al sy mylpale bereik. Maar hy was drie jaar oud toe ook hy tekens van verstandelike gestremdheid getoon het.
Daarop is Gerrie en Isabella na die Charlotte Maxeke-hospitaal (destyds bekend as die Johannesburg Algemene Hospitaal) waar verdere toetse gedoen is. Die ouerpaar het voor ʼn paneel spesialiste verskyn wat nie vir hulle ʼn antwoord kon gee nie. Die medici het wel bevestig dat hul kans om ʼn niegestremde kind in die lewe te bring een uit ses was.
ʼn Eensame pad
Isabella en Gerrie het dringend na antwoorde gesoek. Hulle het nog ʼn spesialis gaan raadpleeg om te probeer vasstel hoe erg die situasie regtig is. Nadat hy die drie kinders ondersoek het, het hy ʼn verdere afspraak voorgestel. Enkele maande later is hierdie man egter vir bedrog gearresteer. Hy het hom as ʼn pediater voorgedoen en eintlik slegs graad 10 geslaag.
“Dit was vir ons baie traumaties,” vertel Isabella. “Ons was kwaad vir almal, insluitend die Here. Die mense sou vir ons sê dat God sulke kinders net aan spesiale mense toevertrou. Ek kon skreeu.
“Dit was bitter om toe te kyk hoe normale kinders joune terg en boelie. Ons moes egter sterk wees omdat selfbejammering ons niks sou help nie.
“Eensklaps het ons vriende begin wegbly. Niemand het ons meer genooi nie, niemand het kom kuier nie. Dieselfde het met ons familie gebeur.
“Ons het egter vasgebyt en ons kinders liefdevol en streng grootgemaak. Dit het tot gevolg gehad dat hulle hoflik is, met goeie maniere. Dit is tot vandag toe so.
“Maar ja, dis ʼn baie eensame pad. Selfs die kerk het anderpad gekyk …”
‘Ankers in ʼn wêreld waar niemand verstaan het nie’
Ná al dié verwerping het die gesin hulle aan die gemeenskap onttrek. Die enigste ondersteuning het van die agtienjarige Lulu Nlhapo gekom. Sy het altesaam 34 jaar lank by die gesin gewoon. Lulu het die kinders met deernis en respek behandel. En sy het telkens saam met die gesin gegaan wanneer hulle moes verhuis.
Isabella vertel: “Lulu bly tans op Vrede. Ons het nog gereeld kontak. Haar seun Lukas het ook by ons gewoon en ʼn kamer met ons aangenome seun Tinus gedeel. Lukas was vir ons soos ʼn eie kind. Ons het hom regdeur sy skoolloopbaan finansieel ondersteun. Hy en sy ma was jare lank ons ankers in ʼn wêreld waar niemand verstaan het nie.”
Terwyl Lulu by hulle ingewoon het, kon die egpaar met ʼn geruste hart werk toe gaan. “Ek het my as’ t ware in my werk verdrink, net om nie voortdurend weerloos te voel nie,” sê Isabella. “Dit was my ‘nuwe normaal’.
“Nog ʼn uitdaging wat ons moes trotseer, was die wete dat ons kinders nooit onafhanklik sou leef nie. Wanneer ander mense se kinders presteer, het die seer diep in ons hart gaan lê.”
Dit was op vele gebiede ʼn uitdagende pad, ook finansieel gesproke. Skoolgeld vir verstandelik gestremde mense is veel hoër as by hoofstroom-skole. Gerrie en Isabella was baie betrokke by al die fondsinsamelings vir hul kinders se skool. Finansiële druk het onder meer tot gevolg gehad dat hulle later na ʼn kleinhoewe moes verhuis.
Op soek na ʼn geskikte skool
Isabella vertel: “Ons was so kwaad vir die Here dat ons nooit sy hand raakgesien het toe ons so naarstiglik op soek was na ʼn geskikte skool vir ons kinders nie. In daardie tyd het dit goed gereën en ons groente en vrugte was uitvoergehalte.
“Maar ons moes noodgedwonge Port Elizabeth (vandag Gqberha) toe trek om ons kinders by Merryvale in te skryf, ʼn spesiale skool vir verstandelik gestremdes.”
In daardie tyd het Gerrie en Isabella se paaie met dié van ʼn vyfjarige seuntjie met die naam Tinus gekruis, wie se ma hom nie kon versorg nie. Hulle het nie getwyfel aan hul besluit om hom aan te neem nie.
Isabella vertel: “Ek glo dat God hierdie seuntjie, hy is nou 42, oor ons pad gestuur het. Tinus is vandag ʼn pa van vier, en hulle is die enigste kleinkinders wat ons ooit sal hê.”
Omdat hul kinders slegs tot op 18 by Merryvale kon aanbly, het die ouerpaar na ʼn versorgingsoord begin soek. “Maar die waglyste was baie lank en ons het ons telkens teen ʼn muur vasgeloop. Die moedeloosheid het later soos ʼn nat kombers oor ons gehang.
“In dié tyd het ons besluit om ʼn slag kerk toe te gaan. Die dominee se boodskap het gehandel oor Jona wat vir die Here weggehardloop het. Ek en Gerrie het onsself daarin herken. Ook ons het toe reeds jare lank vir die Here weggehardloop.
“Dit was die draaipunt. Ons het besef dat ons nie ons kruis alleen hoef te dra nie, en dit het ons uitkyk op die uitdagings in ons lewe radikaal verander.”
‘Die Here hou die deure oop’
“Dit was toe dat ons besluit het om Huis Minette tot stand te bring en sodoende ook ander verstandelik gestremde mense te help. Dit het in 1994 ʼn werklikheid geword.”
Huis Minette bied vandag skuiling vir inwoners van 18 tot 76 jaar oud. Die tehuis word nie van buite befonds nie en Gerrie glo dat dit slegs die Here is wat die deure oophou. “Ons kom niks kort nie,” sê hy.
Wanneer Gerrie en Isabella vandag op hul lewenspad terugkyk, is hulle baie dankbaar. “Ons kinders is baie spesiaal vir ons. Ons besef dat ons inderdaad geseën is met hierdie kosbare mense in ons lewe.”
Isabella vertel hoe uniek elke kind is: “Sonja is ʼn besonder liefdevolle vrou, met ʼn groot liefde vir musiek en vir kinders. As ons in ʼn winkelsentrum is, moet ek net keer of sy vat aan al die babas! Ek is seker dat sy, onder ander omstandighede, baie kinders sou hê.
“Jaco is ons regterhand. Hy help ons baie. Hy sny gras om ʼn sakgeldjie te verdien. En hy vang graag vis. Hy het sy eie klein bootjie waarmee hy kan gaan hengel. Sy gunstelingstokperdjie is egter ʼn elektroniese kar wat met afstandbeheer werk. Dié speelding is baie goed vir sy koördinasie.
“Kosie het ook ʼn aanvoeling vir musiek. Hy kom egter met ʼn mobiele loopraam oor die weg as gevolg van balansprobleme. Dit is wat al die jare se epileptiese aanvalle aan hom gedoen het.
“Maar ook hier het die Here uitkoms gegee: Ons het, onder sy leiding, na natuurlike medikasie oorgeslaan. En Kosie het vyf jaar laas ʼn epileptiese aanval gehad.”
Intussen het die Bezuidenhouts alle moontlike voorsorg getref dat Huis Minette sal bly voortbestaan sodat hul drie spesiale kinders tot hul sterfdag ʼn gekoesterde lewe sal lei.
“Ons leef daagliks onder die koepel van God se eindelose genade hier by Huis Minette. God is goed.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















