Shelley Kemp was van jongs af bewus van ’n leemte in haar lewe. Sy het dit op allerlei maniere probeer vul, maar was steeds sielsongelukkig. Sy het selfs opgehou eet. ’n Gelowige vrou het haar na God gelei, en sy is finaal van anoreksie genees. Maar toe kom die ander uitdagings …
“Ek was 18 jaar oud toe ek vir die eerste keer anoreksie opgedoen het. Ek was toe ’n uitruilstudent in Amerika. En al die ander uitruilstudente het in daardie jaar baie gewig opgetel …”
Shelley Kemp woon nou in Kaapstad. Sy vertel: “Ek was gewoond aan gesonde kos, ek was bewus van my figuur. Ek was hoofmeisie van my skool en ’n akademiese uitblinker. Tog was ek sielsongelukkig.
“Ek het my voorgeneem om tog nie in Amerika vet te word nie. Omdat ek in elk geval nie van die Amerikaners se soort kos gehou het nie, het ek eenvoudig opgehou eet.

“Ná ses maande in Amerika is ek teruggestuur huis toe weens my anoreksie. Hier het ek onder dokterstoesig herstel.”
’n Tweede keer
Shelley was 28 toe sy vir die tweede keer met anoreksie gediagnoseer is. Daar is boonop vir haar gesê dat sy slegs ses maande gehad het om te leef. Hierdie skokkende diagnose was ’n keerpunt.
Sy vertel: “Ek het in daardie stadium op my eie krag staatgemaak. En ek het my tot verskeie gelowe gewend, van New Age tot heksery. Ek het nie die Here geken nie en was altyd soekend. Ek wou die leemte in my vul. Niks kon my gelukkig maak nie – nie geld nie, nie status nie, nie ’n beroep waarin ek suksesvol was nie.
“En toe word die mat onder my uitgepluk toe ek met my sterflikheid gekonfronteer word. Ek was net vel en been; ek het 32 kg geweeg.”
‘Wie is die Een wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het?’
“Op ’n dag het ek ’n vrou ontmoet, en dit het vir my gelyk asof daar ’n lig in haar skyn. Sy was ’n diep gelowige Christen.
“Ek het haar vertel dat ek elke denkbare geloof beproef het, maar dat ek steeds leeg voel. Ek wou by haar weet wie die Een is wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het. As sy my die antwoord kon gee, sou ek in Hom glo.
LEES OOK: Matriekleerder loop weer ná groot bergfietsongeluk: ‘Ek het nou besef hoe groot God se krag is’
“Sy het toe ’n klomp Bybeltekste aangehaal. Elkeen het my diep getref, en ek het ’n stukkie vreugde beleef, opgewondenheid. Toe haal sy Johannes 14:6 aan, waar Jesus sê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe.’”
“Ek het my sondes op my knieë bely, ek het vergifnis gevra en my lewe aan die Here gegee. Dit was asof daar ’n ligvloed in my was. Ek het van my knieë af opgestaan, en my verwonder aan hoe blou die lug en hoe groen die gras was.
“Op daardie oomblik het God my van anoreksie genees.”
Waarskuwings en wonderwerke
’n Jaar later is Shelley met Peter getroud. Verskeie dokters het bevestig dat sy nooit kinders sou hê nie vanweë haar geskiedenis met anoreksie. Volgens hulle was haar baarmoeder vergelykbaar met dié van ’n 12-jarige.

Maar God het ’n ander plan gehad. “Hy het vir my ’n gedeelte uit sy Woord gegee en my daardeur verseker dat ek wel ’n ma sou word. Ek het in 2 Konings 4 gelees hoe die profeet Elisa vir die Sunemmitiese vrou vra wat fout is, en sy vir hom gesê het dat sy nie ’n kind het nie. Daarop het Elisa vir haar gesê dat sy oor presies ’n jaar ’n seuntjie sou vashou.
“Dit was toe met my ook so. ’n Jaar later het ek ons oudste dogter, Saskia, vasgehou. ’n Regte wonderwerk-baba.”
Die ginekoloog het Shelley wel gewaarsku dat dit gevaarlik sou wees om nog ’n kind in die lewe te bring. “Maar weer eens het God my in sy Woord gewys om, soos Abraham, op Hom te vertrou. Hy sou voorsien.”
Gou het Shelley ’n tweeling verwag. Die oggend voordat die twee op 28 weke gebore is, het Shelley twee keer uit die Skrif die versekering gekry dat sy moet glo, sodat sy daardeur God se heerlikheid sou sien.
Probleme
Shelley is in die Constantiaberg-hospitaal in Kaapstad opgeneem, waar ’n noodkeisersnee uitgevoer is. Daar was probleme: Die naelstring is om die een baba, Nikki wat 800 g geweeg het, se nek verwyder. By die ander baba, Aimee wat 700 g geweeg het, was geen hartklop te bespeur nie. Die dokter het vier keer adrenalien in haar hart gespuit.
Hul ma vertel: “Toe vlieg Aimee se ogies oop. Sy en haar sussie is na die intensiewesorgeenheid vir premature babas in die Mowbray-hospitaal oorgeplaas. Daar het hulle drie maande deurgebring.
“Maar daar is nagelaat om ’n CAT-skandering te doen. Ek het net gesien hoe elke baba se kop al hoe groter word.
“Die volgende vyf maande was ’n nagmerrie. Hulle het sonder ophou geskree. Die dokter het die groot koppies afgemaak as ’n tipiese premature voorkoms’.
“Die pediater het egter op ’n operasie aangedring sodat ’n pypie in elkeen se brein gesit kon word ten einde die vog te dreineer. Maar die skade was reeds gedoen …”
Die oormatige vog het drukking op die breinselle veroorsaak, en dit het Aimee serebraal verlam aan die regterkant gelaat. En Nikki aan die linkerkant.
‘Nie ’n inrigting nie, net hul mamma’
“Ek het die Skrifwoord onthou dat God selfs in die donkerste situasie uitkoms kan bring. Só word sy krag en heerlikheid bewys.”
Die tweeling moes twee keer ’n week fisioterapie ontvang. “Saam-saam het ons hul ledemate in ’n kruipposisie geplaas om hulle te leer kruip. Hulle was drie jaar oud toe hulle beenstutte moes kry om die beentjies beweeglik genoeg te maak sodat hulle kon leer loop.”
Elke sussie kon ook net een hand gebruik.
Die neurologiese pediater het die twee as “ononderrigbaar” gediagnoseer. Volgens hom was elkeen se brein beskadig. Hy het aanbeveel dat hulle na ’n geskikte inrigting oorgeplaas word.
Shelley vertel: “Ek het besluit dat hulle nie ’n inrigting nodig het nie, dat hulle ’n mamma het.
“En ’n paar weke later het God my ’n plan gegee: Vista Nova, ’n skool vir serebraal gestremde kinders.
“Ek was vasbeslote dat die tweeling nie opgepiep mag word nie, dat hulle sou leer om op hul eie bene te staan. Daarby is hulle met God se Woord grootgemaak.”
Gebreekte verhoudings, en herstel
“Ongelukkig het my huwelik daaronder gely. My intense betrokkenheid by die tweeling het tot ’n egskeiding gelei. Dit het ons drie dogters – die tweeling was toe reeds agt – erg seergemaak. Hulle het God vir die egskeiding verwyt en hul rug vir Hom gedraai.
“Saskia, ons oudste, het nie die aandag gekry wat sy nodig gehad het nie. Ná skool het sy altyd by vriende gaan kuier, en naweke het sy saam met haar pa gaan seil. Op dié manier het sy ontvlug en haar woede probeer hanteer.
“Maar ná vier jaar se rebellie, en baie gebede, is die dogters se verhouding met God herstel. Hulle het ’n baie sterk band met Hom gevorm.
“Op die tweeling se aandrang het hulle hul laaste drie skooljare in ’n hoofstroomskool deurgebring, waar hulle toe ook gematrikuleer het.
“Dit was die beste ding ooit! Nikki het selfs, met die een gesonde hand en haar hinkstappie, in die WP-tennisproewe gespeel.”
Shelley en haar drie dogters het vandag ’n baie hegte band. Aimee sê: “My ma is ‘simply the best!’” Nikki borduur voort: “My ma het soveel in ons belê en ons die waarde van Bybellees en gebed geleer.” En Saskia: “Ons is liefgehê. Ek is een van die bevoorregtes.”
Deesdae lei die tweeling elkeen ’n onafhanklike, vervulde lewe. Hul ma werk as ’n kliëntediens-konsultant by ’n groot eiendomsmaatskappy. So tussendeur, vertel sy, bedien sy haar kliënte met God se Woord. “Dis asof God my daartoe geroep het.
“As ek op my lewe terugkyk, sien ek net die wonderwerke wat God in my en die dogters se lewe gedoen het. Hy het soveel deure vir ons oopgemaak, en daarom prys ek Hom. Ek leef met groot dankbaarheid tot sy verheerliking.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















