Nadat Lodewyk Uys sy nek tydens ’n bergfietsongeluk gebreek het, was daar min hoop dat hy dit sou oorleef. Maar hierdie vasberade jong man het die medici verstom: Hy kan nou weer loop.
“Die afgelope klompie maande was rof en vol uitdagings, maar talle klein oorwinnings het my telkens nuwe hoop gegee,” vertel Lodewyk.
“Om stadig maar seker self te begin loop, of selfs net my vinger in my linkerhand te kon beweeg, het my laat besef hoe belangrik elke stukkie vordering is. En hoe groot God se krag is.”
Die ongeluk
Die uitdagings vir dié matriekleerder aan Paarl Boishaai was erger as die bergroetes wat hy met sy fiets baasgeraak het. Hy ry fiets sedert graad 8 en is Boishaai se bergfietsspan se kaptein. Hy is ook deel van die Imbuko Juniors, ’n span belowende fietsryers.
Op 4 Maart vanjaar het hy met sy fiets geval op ’n roete naby Kylemore in die Banhoekvallei.
Sy ma Melanie vertel dat sy passie vir fietsry hom juis daardie dag na dié roete gelei het. “Hy het geoefen vir ’n wedren en hy moes, volgens sy program, daardie dag vier ure lank oefen.”
Ná die val het Lodewyk drie en ’n half ure lank net daar gelê; hy kon nie beweeg nie. ’n Ander fietsryer, Bernard van Niekerk, het toevallig op hom afgekom.

Dit het ’n groot gesukkel gekos om Lodewyk uiteindelik by ’n hospitaal te kry. Die omgewing waar hy daardie middag halfvier geval het, is afgeleë en moeilik bereikbaar. Eers teen tienuur die aand het hulle met hom by Stellenbosch Mediclinic aangekom.
Die dokters het slegte nuus gehad. Melanie vertel: “Die spesialis het ná ’n CT-skandering en ander toetse gesê dat Lodewyk permanent verlam sou wees, van die nek af ondertoe. Hy sou progressief moeiliker asemhaal – en dit sou daardie nag allerlei komplikasies tot gevolg hê …”
Die wonderwerk
“Maar toe gebeur ’n wonderwerk,” vertel dié dankbare ma. “Ná drie ure in die hospitaal het Lodewyk sy tone begin beweeg. En net daar het die hele prentjie verander. Daar is ’n teater bespreek en ’n sewe uur lange nek- en ken-operasie het gevolg.
“En só het sy genesingsreis begin.”
Lodewyk se beserings was omvattend: Die C2- en C3-werwels was gebreek en daar is ’n stuk been uit sy heup gebruik om die C3-werwel te vervang. Die C2-werwel is aan die C4-werwel geheg. Sy kaak was op sewe plekke gebreek, en dit moes herbou word.

Sy verstommende herstel het voortgeduur. Nadat hy 20 dae lank in die hoësorgeenheid deurgebring het, is hy na Nurture gestuur, ’n rehabilitasiesentrum vir mense met komplekse ruggraatbeserings. Dis hier waar Lodewyk die afgelope ruk terugveg, en elke dag sy fisio- en arbeidsterapiesessies toegewyd aanpak.
‘God is in beheer!’
Op 5 Mei het Melanie se skoonsuster, Lisa Roux, op ’n WhatsApp-kanaal wat deur 7 200 mense gevolg word die volgende geskryf: “Van waar hy ure lank gelê het tot waar hy nou letterlik staan (en loop). Dit is beslis merkwaardig. God is in beheer! Lodewyk hou aan om ons te wys hoe moed, uithouvermoë en geloof lyk.”

Lodewyk se beste skoolvriend, Adrian Faul, beaam dit: “Hy is ’n inspirasie – maar ook meer as dit. Hy is ’n solid vriend. Ek kan sien hoe sy storie ander mense raak. Ook as ek hoor hoe ouer mense daaroor praat.
“Ek weet nie waarom daar ooit aan sy herstel getwyfel is nie; Lodewyk het aan my gesê dat die Here vir hom sal sorg. Ek weet dat God ’n plan het vir ou Loodie.
“Die wag ná die ongeluk was wel vir my moeilik, én die operasie. Ek was baie verlig toe ek hom die eerste keer kon sien, én toe daar boonop ’n glimlag op sy gesig is. Ek het nooit daaraan getwyfel dat Lodewyk die harde werk sou doen om vinnig te herstel nie. En ek het nie een oomblik gedink hy sal nie weer op sy bene wees nie.
“Ek was eers ’n bietjie kwaad vir die Here. Maar soveel dinge het mettertyd vir my duideliker geword. Skielik kon ek God se hand in so baie dinge raaksien, iets wat ek voorheen nooit kon regkry nie.”
Lodewyk se getuienis
Lodewyk se sterk geloof het hom deur al hierdie dinge gedra. Hy sonder ook sy familie en vriende se ondersteuning uit. “Veral my ouers, wat van die eerste dag af elke oomblik langs my gestaan het, het my báie gehelp. Hul liefde en aanmoediging het my deur die moeilikste dae gedra, en ek sal hulle altyd dankbaar wees. Nie alle kinders het daardie soort ondersteuning nie.”
Daar lê nog ’n lang herstelpad voor. Maar dié jong fietsryer wil ook ander mense inspireer. “Die beste raad wat ek vir iemand kan gee wat ’n moeilike tyd deurmaak, is om ’n sterk kop en ’n positiewe ingesteldheid te hê. Hou aan bid en glo, en vertrou op beterskap. Daar sal dae kom waarin jy ‘swaar’ en gefrustreerd sal voel, maar dis belangrik om aan te hou glo in jou herstel en vordering – liggaamlik en emosioneel.
“Vier ook al die klein oorwinnings, want elke stappie vorentoe gee jou nuwe moed en selfvertroue. Dit verskaf die dryfkrag om aan te hou veg, tot daar beter dae kom.”
Hopelik sal Lodewyk se “beter dae” spoedig aanbreek. En dan in die saal van sy Specialized-fiets op die bergroetes wat hy so goed ken.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















