Die 33-jarige Bianca Vermeulen het agt jaar lank vasgeklou aan haar droom om ’n dokter te word. Dié droom is keer op keer vertrap. Uiteindelik kon sy in April 2026 haar kwalifikasie vir die wêreld wys toe sy aan die Universiteit van die Vrystaat gegradueer het. Volgens haar bewys dit dat uithouvermoë en geloof in die Here enigiets moontlik maak.
Die verhaal van Tori Murden McClure, die eerste vrou wat alleen oor die Atlantiese Oseaan geroei het, was vir Bianca Vermeulen ’n groot inspirasie. Want Tori het nie net teen die golwe geroei nie; sy het ook teen twyfel voortgebeur, en teen ander mense se gebrek aan vertroue in haar vermoëns.
Bianca vertel: “My eie reis het ook dikwels soos die oop see gevoel, met elke afkeurbrief soos ’n groot golf wat my laat moed verloor.”
‘Ek moes té vroeg emosioneel grootword’
“Ek praat nie maklik oor dié deel van my lewe nie,” sê Bianca, “want ’n mens leer om sommige soort wonde stilweg te dra. Tog het ek geleer dat oorlewing ook oorwinning kan wees.
“Ek kom uit ’n disfunksionele gesin, en ek moes van jongs af leer hoe om verskillende rolle te aanvaar ten einde die huishouding te probeer aanmekaarhou.
“Sommige kinders leer speel; ander leer oorleef. Dit het soms gevoel asof my kinderdae vinniger verbygegaan het as vir ander mense. Ek moes emosioneel grootword lánk voordat ek daarvoor gereed was.
“Maar ek dink daardie ervaring het my ook geleer om ander mense se seer raak te sien, daardie pyn waaroor nie altyd gepraat word nie.
“Ek was in 2011 in matriek, en dit was die jaar waarin my wêreld begin kraak het. My ouers is geskei, en alles wat eens veilig en bekend gevoel het, het begin verbrokkel. Ek het tydens my eksamens by my niggie en haar gesin gaan bly om weg te kom van die konstante konflik by die huis, en om iewers stilte te vind sodat ek kon studeer.
“Ek het daardie jaar, akademies gesproke, sterk begin. Maar emosionele storms laat ’n mens selde onaangetas. Dis moeilik om op jou skoolwerk te fokus wanneer jou hart probeer oorleef …
“Soos enige matrikulant het ek universiteitsaansoeke ingevul. Ek was opgewonde, want elke vorm was soos ’n kaartjie na ’n nuwe lewe. Een aand het daardie hoop aan skerwe gespat toe my pa my sê dat daar nie geld vir verdere studie is nie.”
Om op die perron agter te bly
“Ek moes die volgende jaar dus toekyk hoe my vriende universiteit toe gaan, hoe hulle nuwe mense ontmoet en nuwe wêrelde ontdek. Terwyl ek agtergebly het met verantwoordelikhede wat te groot gevoel het vir my.”
Bianca vertel dat daardie tyd die eensaamste deel van haar reis was. Sy was skaam om vir mense te sê dat sy nie universiteit toe kon gaan nie. “Dit het gevoel asof almal op ’n trein klim, terwyl ek op die perron agterbly.
“Vandag besef ek dat vertraging nie altyd die einde van die pad is nie. Sommige mense blom net later.
“Mediese studie is ’n uiters mededingende omgewing, met duisende jong mense wat elke jaar daarvoor aansoek doen. My matriekjaar het ongelukkig vir ’n knou gesorg vanweë my huislike omstandighede. Hoewel ek steeds goed presteer het, was my finale akademiese rekord nie so sterk soos wat dit aanvanklik beloof het om te wees nie.
“Ek het wel aan die basiese toelatingsvereistes voldoen, maar teen sulke soort mededinging het ek nie die paal gehaal nie. Ek het vir lank gewonder of al die afkeurings beteken dat ek nie goed genoeg is nie.
“Vandag kyk ek anders daarna. Ek het intussen geleer dat ‘nee’ nie altyd beteken dat jy onbekwaam is nie, dat dit soms bloot beteken dat jou pad langer as ander s’n gaan wees.
“My reis het nooit volgens ’n reguit lyn verloop nie; dit was eerder soos ’n rivier wat sy pad tussen rotse deur moes vind. Stadiger, moeiliker, maar altyd op pad see toe.
“Intussen moes ek dringend werk kry. Ek het by ’n apteek in Meyerton gaan aanklop. Daardie apteek het toe, sonder dat ek dit verwag het, ’n deel van my vormingsjare geword. Tussen die rakke vol medikasie en mense wat ingestap gekom het met hul stille swaarkry, het ek iets van die mensdom leer verstaan. Ek dink dit was waar my droom om dokter te word ’n werklike roeping geword het. Ek het gesien hoe kwesbaar mense is wanneer hulle siek of bang is, en hoe selfs klein stukkies vriendelikheid soos medisyne vir die siel kan wees.”
Kaalvoet oor die klippe
Bianca vertel hoe haar stryd tussen toelating en beskikbare finansies verloop het. “Wanneer die een deur oopgegaan het, het die ander een toegeklap. Ek het geleer dat armoede nie bloot ’n gebrek aan geld is nie; dit steel ook jou tyd, jou selfvertroue en jou geleenthede. Daar was dae waarin ek gevoel het die wêreld hardloop ’n marathon, terwyl ek met kaal voete oor klippe probeer byhou. Maar selfs toe die harde pad my voete stukkend sny, het die droom bly fluister: ‘Hou net aan …’
“Elke afkeuringsbrief het my diep geraak. Ek dink jy kom by ’n punt waar jou droom nie meer iets is wat jy wil hê nie; dit word ook ’n deel van wie jy is. Daar was kere toe ek gehuil het, toe ek gewonder het of ek nie maar alles moes los nie. Maar dan het ek weer gaan werk en weer aansoek gedoen, weer gehoop.
“Ek het geleer hoe eensaam hoop kan wees. Hoe dit voel om in ’n vertrek vol mense te staan en steeds agtergelaat te voel. Maar ek het ook geleer dat ’n mens sterker is as wat jy dink.”
Terwyl Bianca gehoop het op keuring vir mediese studies, het sy ’n vier jaar-kursus in Kliniese Tegnologie voltooi. Uiteindelik, in 2019, was haar aansoek om keuring vir mediese studies suksesvol, en in 2020 het sy met daardie studies begin. Die vyf jaar-kursus is befonds deur ’n beurs wat aan haar toegeken is.
Om staande te bly
Bianca vertel vandag dat sy sterker as voorheen is ná haar lang reis. “Maar nie op die manier wat ander mense dalk dink nie. Ek is nie harder nie; ek is, om die waarheid te sê, sagter met ander. Ek verstaan nou dat elke mens ’n eie stryd stry.”
Sy praktiseer tans in die Centurion-omgewing, is by verskeie hospitale en klinieke betrokke, en veral in die onderskeie ongevalle-afdelings.
“Die lewe het my geleer dat ware krag nie lê in hoeveel keer jy val nie, maar in hoeveel keer jy dan weer opstaan – met sagtheid in jou hart.
“Ek, wat eens bang was ek word agtergelaat, het uiteindelik geleer dat ’n mens se tydlyn nie met iemand anders s’n vergelyk hoef te word nie.
“Ek weet daar was baie tye dat God my gedra het toe ek self te moeg was om verder te loop. Sommige dae het geloof nie soos ’n reeks wonderwerke gevoel nie; dit was eerder soos ’n sagte hand op my skouer. En ’n stem wat telkens sê: ‘Net nog een tree.’
“Wanneer alles om my gevoel het of dit verbrokkel, was geloof die anker wat nie in die storm weggeruk is nie. Daar was deure wat onverwags oopgegaan het, mense wat op presies die regte tyd oor my pad gekom het, en ’n vrede wat geen grense gehad het nie.
“Ek glo vandag dat God nie altyd die storms laat bedaar nie; soms leer Hy jou hoe om staande te bly in die wind.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















