Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Oud LiG-redakteur sterf: ‘Hy het aanhou glo in God se goedheid en geglimlag tot aan die einde’

Die voormalige LiG-redakteur Johann Symington het met ’n geloof in God se goedheid en waarskynlik die sweem van ’n glimlag op sy gesig gesterf.

“My pa het, ten spyte van elke moontlike terugslag, soos Job, aangehou glo in God se goedheid en geglimlag tot aan die einde,” het sy oudste dogter Claire (46) oor haar 78-jarige geliefde pa se afsterwe gesê.

Johann is op 8 September in die Milpark-hospitaal in Johannesburg aan hartversaking oorlede.

Volgens Claire, ’n opvoedkundige sielkundige van Centurion, het hulle drie kinders reeds die laaste twee jaar, en veral die afgelope drie maande, hulleself begin voorberei op hulle pa se heengaan. Johann se enigste seun Pieter-Jan (47) woon in Amerika. “Ons het ons begin voorberei daarop dat my pa se gesondheid, ten spyte van sy veggees, begin agteruitgaan. Ons het die tyd saam begin sien as ’n geleentheid om alles te kon sê, maar het hom met ’n swaar hart in die hospitaal gegroet,” het Claire gesê.

“Ek en my pa het ’n baie oop verhouding gehad en het dikwels openlik oor die dood gepraat. Ek het my pa die laaste keer gesien die Vrydag voor hy oorlede is, en toe al geweet die einde is naby. Ek was dankbaar dat ek en hy al reeds alles bespreek het, en het dus baie vrede ervaar,” het Johann se dogter Suna (45) gesê.

Albei dogters is dankbaar vir dít wat hulle altyd van hulle pa sal saamdra.

Claire vertel: “My pa het ruimte vir mense geskep en almal laat voel asof hulle belangrik is. Een van die sentimente wat my pa gereeld met ons gedeel het, was dat tyd saam met mekaar die belangrikste ding is. Geld was ’n bysaak in ons ouerhuis (al het dit soms broekskeur gegaan). My pa het altyd geglo die Here sal voorsien. Ander woorde wat ek kan onthou, was sy aanmaning om nooit ‘alledaags’ te probeer wees deur by almal te probeer inpas nie.”

Suna, ’n mode-aankoper van Welgemoed, onthou haar pa as “’n regte dogtertjie-pa”. “Hy het altyd vir ons die mooiste kaartjies en briefies geskryf, en altyd seker gemaak ons is pragtig aangetrek,” onthou sy.

“Ek waardeer dat hy my vryheid gegee het om myself te wees. En alhoewel ek nooit sy skoene sou kon volstaan nie, was hy altyd nederig oor wat hy alles bereik het,” vertel Suna, wat glo soos haar pa nostalgies is en sentimentele goed versamel.

Johann het nie net diep spore in sy kinders se lewe getrap nie. Sommige sal hom onthou as predikant toe hy van Welgemoed, Wellington, Colesberg, Hermanus, Johannesburg, Pretoria tot in Japan bedien het. Ander sal hom as skrywer of aanbieder van TV-programme jare gelede onthou. Hy was ook destyds aan die stuur van LiGtydskrif en susterpublikasie Kerkbode.

Volgens Suna vind sy geliefdes troos in sy nalatenskap: “Gelukkig laat hy heelwat boeke agter wat hy self geskryf het. Dis vir ons ’n groot troos, want daar is ’n skatkis van sy gedagtes waartoe ons nou toegang het.”

Johann se vrou Hennie, met wie hy 50 jaar getroud was, is in Maart vanjaar oorlede.

·       Volgens die eCKE (elektroniese Christelike Kernensiklopedie) was Johann aanbieder van die TV-reekse Die huwelik is ’n vervelige gewoonte en Bybel-bloktyd, en later van drie Ja-nee-reekse op kykNet. Daarby was hy langer as ’n dekade rubriekskrywer vir die tydskrif Rooi Rose en het verskeie boeke, onder meer Man uit een stuk, uit sy pen verskyn.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►