Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Ná tien jaar se wag: ’n Wonderwerk – en toe geen hartklop

Carol du Toit het tien jaar lank gewag, gehoop en gebid vir die twee strepies op ’n swangerskaptoets. Toe dit uiteindelik gebeur, het sy haarself toegelaat om oor ’n baba en ’n nuwe toekoms saam met haar gesin te droom. Maar die vreugde het onverwags in hartseer verander toe ’n sonar gewys het daar is geen hartklop nie. In hierdie eerlike getuienis vertel Carol van die baba wat sy verloor het nadat sy die kleinding reeds diep in haar hart liefgekry het. Sy praat ook oor die moeilike vrae wat sy ná die miskraam aan God moes vra.

Ek sal nooit vergeet hoe ek daardie oggend na die swangerskaptoets gekyk het nie. Twee strepies. Net twee dun strepies, maar vir my het dit gevoel asof my hele wêreld in ’n oogwink verander het. Ná tien jaar se wag.

Dit was tien jaar se hoop, bid en teleurstelling. En probeer aanvaar dat die droom van ’n eie swangerskap my dalk nooit beskore sou wees nie. Ons het geleer om ons gesin “anders” te bou. Ons het Olerato en Lily in ons hart ontvang, en hulle het ons gewys dat jou hart groter kan word as wat jy ooit gedink het moontlik is.

Toe, onverwags, daardie twee strepies. Ons wonderwerk. Ek het na daardie toets gekyk en gewonder of ek dit kan glo. Ek het weer en weer daarna gekyk. Ek het vir Cornelius vertel. Daar was ongeloof en trane, opgewondenheid en daardie stille gevoel van “Here … is dit nou regtig ons beurt?”


Om te droom … en te bly glo

Skielik het ons begin droom. Ons het gedroom oor ons baba. Oor ’n klein lyfie wat by ons gesin sou aansluit. Oor Olerato wat ’n grootboet sou wees en Lily wat ’n grootboetie of grootsussie sou kry.

LEES OOK: Een suster se drieling-vreugde; die ander se groot verlies: ‘Ons wil die stilte oor infertiliteit verbreek’

Ons het gedroom oor name, oor hoe ons almal om die baba se bedjie sou staan, oor die lewe wat ons gedink het voor ons lê. Vir die eerste keer in baie jare het ek myself toegelaat om regtig te hoop.

Maar toe kom die woorde wat elke ma vrees by my op: “Ek is bang ek gaan jou verloor.” Eensklaps het dit gevoel of die wonderwerk waarvoor ek tien jaar lank gewag het tussen my vingers deur glip. Ek het gebid. “Here, asseblief nie! Nie hierdie keer nie. Nie ná tien jaar nie.”

Ek het probeer glo. Ek het probeer sterk wees. Ek het probeer om myself te oortuig dat alles nog reg sou wees. Maar diep binne-in my was ek bang.

Toe kom die dag van die sonar. Dit was die oomblik waarop ons gewag het. Ons sou ons baba sien.

Om ’n toekoms te verloor …

Daardie dag het egter anders geëindig as wat ons gehoop het. Daar was ’n sakkie. Maar dit was leeg.

Ek weet nie of ’n mens ooit regtig die woorde kan vind vir daardie soort stilte nie. Hoe verduidelik jy dat iets wat vir die wêreld dalk net ’n vroeë swangerskap was, vir jou reeds ’n baba, ’n naam, ’n toekoms en ’n hele wêreld vol drome geword het?

Hoe verduidelik jy die verlies van iemand wat jy nog nie eens behoorlik kon ontmoet nie? Ek het nie net ’n swangerskap verloor nie; ek het ’n toekoms verloor wat ek reeds in my hart begin bou het. Ek het die drome verloor wat saam met daardie twee strepies gekom het.

“Here, ek verstaan nie”

Ja, ek was kwaad vir God. Ek het gevra: “Hoekom, Here?” Hoekom moes ek tien jaar wag om uiteindelik twee strepies te sien, net om daarna met ’n leë sakkie gekonfronteer te word?

Ek het nie al die antwoorde nie, en miskien hoef ek nie voor te gee dat ek dit het nie. Ek dink ons maak soms asof geloof beteken dat ons altyd verstaan. Dat ’n Christen altyd sterk moet wees. Dat ons moet sê “God het ’n plan” – en dan ons trane vinnig afvee.

Maar ek het geleer dat geloof ook kan lyk soos ’n gebroke vrou wat met trane in haar oë vir God sê: “Here, ek verstaan nie.”

Geloof beteken nie dat ons nie mag huil nie. Dit beteken nie dat ons nie mag kwaad wees nie. Dit beteken nie dat ons nie mag vra “hoekom?” nie. En dit beteken beslis nie dat ’n miskraam minder van ’n verlies is omdat die baba klein was, die swangerskap in ’n vroeë stadium was of omdat ander mense nie geweet het hoe groot jou liefde reeds was nie.

Vir my was dit werklik. Die liefde was werklik. Die hoop was werklik. Die baba wat ek in my hart begin dra het, was werklik. En daarom is die seer ook werklik.

Die God van die leë sakkie

Maar iewers tussen die twee strepies en die leë sakkie probeer ek steeds om my geloof bymekaar te hou. Nie omdat ek alles verstaan nie. Nie omdat ek nie meer seer het nie. Maar omdat ek stadig begin besef dat God nie net die God van wonderwerke is wanneer Hy ons gebede verhoor nie. Hy is ook die God van die leë sakkie.

Hy was daar toe ek na die twee strepies gekyk het. Hy was daar toe ek begin droom het. Hy was daar toe ek bang geword het. Hy was daar toe ek gevra het: “Hoekom?”

En ek glo Hy is steeds hier, juis nou, in die stilte wat ná die verlies gekom het.

Miskien is dit hier waar geloof vir my nou anders begin lyk. Dis nie ’n belofte dat jy nooit sal seerkry nie, maar ’n wete dat ons nie alleen hoef te wees wanneer ons seerkry nie.

Hier is my boodskap aan elke vrou wat na twee strepies gekyk het en daarna met leë arms, ’n leë bedjie en ’n leë plek in haar hart moes huis toe gaan: Jy hoef nie jou verlies kleiner te maak om ander mense gemaklik te laat voel nie. Jy mag rou. Jy mag huil. Jy mag vra. Jy mag selfs vir God sê dat jy kwaad is. En jy mag steeds glo. Want geloof en hartseer kán langs mekaar bestaan.

Van twee strepies tot die leë sakkie het ek geleer dat geloof nie beteken dat ons nooit breek nie. Soms beteken geloof bloot dat ons, met ons gebroke hart, steeds ons gesig na God toe mag draai en fluister: “Here, ek verstaan nie … maar ek is steeds hier.”

En miskien is dit waar hoop weer begin, nie omdat die seer skielik weg is nie, maar omdat ons ontdek dat God selfs in die leegste plekke steeds by ons is.

  • Carol du Toit is ’n rekenmeester in Bloemfontein. Sy is 38 jaar oud en sy en haar man Cornelius (39) het twee aangenome kinders, Olerato en Lily.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►