Rob Payne het 74 jaar lank gereken dat geloof eenvoudig nie met logika en die wetenskap versoenbaar is nie. Hy sê hy het God nie verwerp nie; hy het bloot op bewyse gewag. Terwyl sy vrou jaarin en jaaruit vir hom gebid het, het Rob sy lewe sonder God geleef, daarvan oortuig dat hy Hom nie nodig het nie. Toe kom daar ’n gesprek oor sy pad, en twee boeke. Wat daarna gebeur het, het nie net sy siening oor God verander nie, maar ook sy hele lewe.
Volgens Rob Payne (nou 75) het sy praktiese denke, sy kennis van die wetenskap en sy liefde vir geologie en die buitenste ruim hom nie toegelaat om in God te glo nie. Hierdie (deesdae afgetrede) siviele ingenieur van Montagu in die Klein-Karoo wou bewyse hê voordat hy in God se bestaan sou glo.
Sy vrou Marilyn, met wie hy al 52 jaar getroud is, is ’n ou skoolliefde. En sy glo in God. Sy het hom probeer oortuig om ook te glo, maar dit was tevergeefs. Daarop het sy vir hom gebid, 50 jaar lank.
‘Ek wou bewyse hê …’
Rob het twee dogters, Vanessa en Joanne, en hy vertel hoe hy Marilyn en die dogters, asook talle vriende, se geloof gerespekteer het. “Ek het dit altyd baie duidelik aan ons dogters gestel dat my skeptisisme nie hul geloof in God moet beïnvloed nie.”

Geloof in God het eenvoudig nie ingepas by Rob se leefwyse en ook nie sin gemaak vir sy ingenieursbrein nie. Hy is ’n praktiese man en ’n buitelugmens. Daarom kon hy ook nie die opvatting kleinkry dat die skepping in ses dae plaasgevind het, dat die Rietsee voor Moses oopgegaan het en dat die Here met dié leier uit ’n brandende bos gepraat het nie.
Volgens Rob was hy nie hardkoppig of “aspris” nie. Hy het God bloot nie geken nie, en Hom in elk geval nie naby aan hom toegelaat nie. “Ek wou bewyse hê dat God ’n werklikheid is. Die evolusieleer het vir my veel meer sin gemaak. Vir my analitiese brein moes dinge op ’n sinvolle doel afstuur.”
LEES OOK: Man getuig: ‘Ek het God 60 jaar lank volgens hoorsê geken, maar toe het ek Hom werklik ontmoet’
Boonop het alles in Rob se lewe glad verloop. Hy vertel: “Ek was ’n goeie mens en het gereken dat ek God doodeenvoudig nie nodig het nie. Ek was daarvan oortuig dat my voorspoedige lewe die gevolg van my eie doen en late was.
“Al het ek, toe ek nog ’n kind was, kerk toe gegaan en die Sondagskool bygewoon, het dit my nie geraak nie. Vir my was die Bybel net ’n storie.”
En daarom het Rob, toe hy die geleentheid gekry het, sy rug vir God gedraai. Hy het sonder veel teëspoed deur sy studentejare geseil, en sy latere lewe as ingenieur het probleemloos verloop. Daar was geen leemte in sy lewe nie. “Daarom,” sê hy, “het ek my voorspoed nooit met dankbaarheid aanvaar nie. Daaroor voel ek tot vandag toe spyt.”
Die groot deurbraak
Rob het gereeld met Marilyn se pastoor, John Lansdell, gesels en hom vertel waaroor hy skepties was.
Toe, op 15 Februarie 2025, terwyl hy op hul stoep sit, het die groot deurbraak gekom toe dié pastoor-vriend weer daar kuier.
“Glo jy daar is ’n Skepper?” wou John by Rob weet.
“Nee,” was Rob se antwoord. “Die skepping was nog altyd daar, en ek is deel daarvan.”
Die pastoor gee toe vir Rob ’n boek, Is God Real? deur Lee Strobel. Rob sê hy het dié boek twee maal deurgelees. Hierin word die enormiteit van die buitenste ruim bespreek, asook die plek van die planeet Aarde. “Hierdie boek laat jou besef dat die Skepping nie ‘toeval’ is nie, en dat daar iemand agter dit alles is, as ’t ware ’n ontwerper. Die logiese deel van my brein het dit verstaan, want ek het ook allerlei dinge ontwerp. Toe besef ek: As daar ’n Skepper is, is daar ook ’n doel.”
Veel meer as ’n storie
Die tweede boek wat pastoor John hom gegee het, Andy Stanley se Irresistible, fokus op die Nuwe Testament. Rob vertel: “Ek het besef dat Jesus op hierdie aarde geleef het. Dat Hy ’n leermeester was, dat Hy gekruisig is, en dat Hy drie dae later uit die dood opgestaan het. Dit is dus nie bloot ’n storie nie …
“Terwyl ek gelees het dat God liefde is, het ek in trane uitgebars. Hoe kosbaar was sy genade daardie uur toe ek vir die eerste keer geglo het! Ek het net daar gekniel en tot Hom gebid. Ek het dankie gesê vir my lewe. En gesê dat ek meer oor Hom wou leer. Ek wou ook leer wat my doel op aarde is.
“Hoe kon ek Hom 74 jaar lank ignoreer? Hy het my regtig lief, het ek besef, ongeag my hardnekkige ongeloof deur al die jare. Die Bybelteks 1 Johannes 4:8 het my lewe verander. Dit lui só: ‘Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.’ Asook vers 16 in dieselfde hoofstuk: ‘En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.’
“Ek het na Marilyn toe gegaan en haar vertel dat ek my aan die Here oorgegee het. Ons albei was oorstelp van vreugde. Ek kan net dankie sê vir my vrou en dogters wat nooit moed opgegee het nie.
“Toe het die Heilige Gees my vervul. Dit was eenvoudig wonderlik! Ek het soveel ligter gevoel, ek was so tevrede.”
Ná 74 jaar ’n eerste Bybel, en ’n nuwe missie
“Ek wou dadelik vir God dankie sê vir alles wat ek so mildelik uit sy hand ontvang het. Ek het besef hoe lief Hy vir my is, en ek vir Hom. My grootste berou is dat ek dit nie vroeër in my lewe besef het nie.
“Maar toe die tyd reg was, het ek my arms oopgehou en God het Hom aan my geopenbaar. Dit was God se tyd. My uitkyk op die lewe het heeltemal verander. Ek het nou soveel meer vrede.”
Rob kon nie wag om kerk toe te gaan nie. Hy wou meer en meer van die Here leer, hy wou met Hom praat. Hy was 74 jaar oud toe hy vir die eerste keer ’n Bybel gekoop het.
Verlede jaar is Rob gedoop. Dit was vir hom ’n baie spesiale oomblik. “Ek was ekstaties,” vertel hy. “Op 16 April 2025 is ek in Jesus Christus nuut gebore.
“As ek terugkyk op die deel van my lewe wat ek sonder kennis van en liefde vir die Here deurgebring het, kan ek Hom net dank vir al die voorspoedige jare. Hy is inderdaad ’n God wat wonderwerke doen; Hy het my op 74 na Hom toe laat kom sodat ek Hom kan dien.
“Deesdae kyk ek na die wetenskap, na my geliefde geologie, vanuit ’n ander hoek: Ons Skepper is aan die stuur van sake.”
Rob se missie is om ongelowiges wat dink hulle het God nie nodig nie daarvan te oortuig dat hulle hul hart vir Hom moet oopmaak. “En daarom wil ek voortaan, in die tyd wat die Vader my gun, vir sy koninkryk leef.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















