Sy is steeds die ma van twee seuns, maar ná ’n tien uur lange operasie kan Izani van der Wal nie meer altyd die ma wees wat sy voorheen was nie. ’n Breingewas het haar lewe onherroeplik verander. Maar te midde van alles het sy een waarheid ontdek waaraan sy vashou: God se genade is genoeg, selfs wanneer die lewe nie meer is soos dit eens was nie.
Die aand voor die operasie het Izani van der Wal (35) haar man Zane (33) gegroet asof dit die laaste keer sou wees. Hulle het saam gaan eet, maar die gedagte aan die volgende dag het soos ’n donker wolk oor hulle gehang. “Ek was baie emosioneel,” vertel sy, “en ek het vir hom gesê dat ek hom baie liefhet en dat hy dit altyd moet onthou.”
Eens het Izani se lewe heel anders gelyk. Sy was ’n mens wat graag allerlei dinge aangepak het, voluit geleef het. “My werk in ons familieonderneming, reis, musiek en sang het my lewe vol gemaak.”
Vroeg in Junie 2025 het ’n dokter Izani meegedeel dat daar ’n meningioom op die frontale lob van haar brein is, vyf sentimeter groot. Hy het verdere skanderings aangevra. “Ek was geskok,” sê Izani, “ek het nie woorde gehad nie.”
Alhoewel die gewas nie kwaadaardig was nie, moes dit verwyder word. Sou dit nie verwyder word nie, sou Izani haar balans en beheer oor haar liggaam verloor. Haar reuksintuig het, as gevolg van die gewas, toe reeds in die slag gebly.
Die oorweldigende ISE
Izani moes ’n groot operasie ondergaan, en daar het ’n onbekende toekoms op haar gewag. Voordat sy teater toe is, het haar ma Susan, wat ’n pastoor is, ’n doekie met olie gesalf en vir haar gegee. Izani het haar lewe én haar dood aan die Here toevertrou.
LEES OOK: Vrou veg reeds 12 jaar lank teen breinkanker: ‘Asemhaal is ’n voorreg’
Sy moes haar hare afskeer, en dit was vir haar erg. Die operasie het ongeveer tien ure geduur. Izani vertel: “Ná die operasie was ek twee dae lank onder verdowing. Toe ek uiteindelik wakker gemaak is, was my liggaam in ’n skoktoestand en ek moes noodgedwonge weer verdoof word.
“Ek het wakker geword met etlike drupstelsels in my lyf, insluitend een in my nek, asook ’n pyp in my keel. Ek het die intensiewesorg (ISE)-omgewing as oorweldigend beleef.”

Sy het ’n week in die ISE deurgebring, en toe nog ’n week in ’n gewone saal. Uiteindelik kon sy huis toe gaan.
Die operasie was egter bloot die begin van ’n baie moeilike pad. Izani moes leer om haar daaglikse lewe aan te pas by ’n liggaam en ’n emosionele wêreld wat anders funksioneer as waaraan sy en haar geliefdes gewoond was.
‘Wat het ek dan verkeerd gedoen?’
Tuis moes sy leer saamleef met die langtermyngevolge van die operasie, en met die gevolge van frontale lob-sindroom. Sy is klanksensitief en beleef epileptiese aanvalle. En haar geduld is baie minder as voorheen. Sy vertel dat sy tot dusver tien sulke aanvalle gehad het, en sy gebruik elke dag 23 verskillende soorte medikasie.
Sy het met haar man oor haar emosies gepraat en volgehou om te bid, ook wanneer sy nie verstaan het waarom dit alles met haar gebeur nie. “Daar was tye waarin ek deur depressie, angs en vrees moes beweeg. Soms het dit gevoel asof die Here my verlaat het. Ek het dikwels gevra hoekom ek al hierdie dinge moes deurmaak. Wat het ek dan verkeerd gedoen?”
Daar was geen eenvoudige antwoord op haar worstelvrae nie. Met verloop van tyd het talle boodskappe, preke en gesprekke haar egter na dieselfde woord gelei – genade. Die Bybelse beeld van die ou profeet Jeremia, wie se depressie hom as ’t ware in ’n gat laat beland het, het by haar vasgesteek.
“Genade beteken vir my so baie,” sê Izani vandag. Sy het begin verstaan dat genade nie noodwendig beteken dat die pyn verdwyn of dat al die antwoorde hulle eensklaps by jou kom aanmeld nie.
‘’n Nuwe normaal’
Die boodskap wat sy uit Jeremia se verhaal ontvang het, was dat genade haar tot op daardie plek gebring het, en dat sy voortaan moes probeer om “’n nuwe normaal” te aanvaar en na die beste van haar vermoë daarvolgens te leef. Ander mense se getuienis het haar ook gehelp om genade op ’n nuwe manier te verstaan.
Die genade waaraan sy so vasgeklou het, het nie beteken dat alles skielik maklik sou word nie, maar eerder dat sy nie die pyn alleen hoef te trotseer nie.
Sy beskryf haar lewe deesdae as iets wat dag vir dag aangepak moet word. “Ek lewe definitief dag vir dag in genade, want ek het geleer dat vrae en geloof langs mekaar kan bestaan. En dat ’n mens kan aanhou leef sonder om voor te gee dat alles reg is.”
‘Die nuwe weergawe van my’
Izani se toestand en die gevolge van die operasie het soms spanning tussen haar en haar seuns veroorsaak. “My oudste, Jodrico (16), het reeds ’n geruime tyd gelede besluit om by sy ouma te gaan woon. My jongste, Zayden (12), bly steeds by my, maar hy sukkel soms om die ‘nuwe weergawe van my’ te aanvaar. Dit bly maar moeilik, vir ons almal.”
Sy het begin besef dat haar optrede, en sekere woorde wat sy gebruik, haar seuns seergemaak het. Dit was pynlik om dit te erken, vertel sy, maar ’n deel van die pad vorentoe is om nie net te oorleef nie, maar ook om ’n beter ma te probeer wees binne die werklikheid waarin sy haar tans bevind.
“Deesdae lyk my lewe heel anders as voorheen. Daar is, onder meer, gereelde medikasie, kos, rus en allerlei persoonlike take. Ek kan nie meer voortgaan soos vroeër nie. Om nie meer te kan werk soos voorheen nie was vir my die moeilikste deel van hierdie hele storie.”
‘Ek is nog hier’
Izani wil hê haar ervaring moet vir ander mense lig bring. “Dalk is daar iemand wat vandag in die bed lê en nie die krag het om op te staan nie. As my getuienis selfs net een mens kan help om nie moed op te gee nie, sal dit vir my betekenis hê.”
Het sy ’n boodskap vir iemand wat pas ’n slegte diagnose ontvang het?
“Daar is nie maklike antwoorde nie. Ek weet hoe dit voel om te vra ‘waarom ek?’ Ek weet hoe dit voel wanneer God skynbaar stil is. Maar ek weet ook dat ’n mens steeds kan bid, steeds met iemand kan praat, en die volgende dag weer kan probeer.
“Ek weet steeds nie hoe my pad vorentoe lyk nie. Maar ek kan terugkyk en sê: Ek is nog hier. Ek het geleer dat genade nie beteken dat die pyn verdwyn of dat jy altyd al die antwoorde het nie. Vir my beteken genade dat ek nie alleen hierdie pad hoef te stap nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















