Toe Marli Dreyer met ’n gebreekte been op ’n rotslysie gelê het, het sy deurentyd met God gesels. Kort-kort het vallende klippe by die krans afgerol gekom. Sy het opnuut haar broosheid besef, en dit het haar met dié diep vraag gekonfronteer: Het ek my lewe reg geleef?
Marli Dreyer, ’n sportwetenskaplike in die Bolandse dorp Wellington, dink vandag terug aan daardie traumatiese ervaring sowat vier jaar gelede. Sy en ’n groep vriende het op ’n staptog in die Banhoekvallei vertrek, daar teen die hange van die Hottentots-Holland-bergreeks. Haar beskrywing van die gebeure het al die kenmerke van ’n spanningsfliek.
Sy vertel hoe sy met erge beserings op ’n rotslysie in die Banhoek-bewaringsgebied gelê en wag het vir ’n helikopter om op te daag, en hoe een groot kwelvraag deur haar kop geflits het: Het ek reg geleef?
“As jy so hulpeloos daar lê, dan dink jy ver. Ek was op ’n punt dat ek die Here gevra het om my maar te kom haal. Dit was seer en my liggaam was in ’n skoktoestand. Ek het op my lewe teruggekyk en gewonder of ek ’n goeie dienaar was. Ek was bang ek was nie …
“Net daar het ek vir die Here gesê ek is jammer. Ek is jammer ek het U afgeskeep.”
‘Ek het gegil en geskree’
Aanvanklik het alles seepglad verloop. Die sewe bergklimmers is die vorige dag teen Duiwelskloof op en het die aand onder die sterre geslaap. Die volgende dag het hulle die pad na Volstruiskloof aangedurf. Daar het hulle in die kloof begin afbeweeg.
Marli het ongeveer 120 m teen die kranse af gevorder en op ’n rotslysie saam met vier ander klimmers beland. Skielik was daar ’n dringende uitroep: “Pasop!”

Enorme rotsblokke, sommige tot ’n vierkante meter groot, het van bo af begin neerstort. Sy vertel: “Ons was vasgekeer daar op die rotslysie, met geen manier om uit die vallende rotse se pad te kom nie.
“Toe ek my weer kom kry, was daar net stof om my. Ek het so half gesit-lê. Ek het probeer regop kom, en besef my been is gebreek. Die been het eenkant toe gestaan en die voet anderkant toe.
“Jy voel aanvanklik nie die pyn nie, maar die oomblik as jy die been sien, dan voel jy dit. Ek het gegil en geskree; ek dink die hele Stellenbosch kon my hoor!”
Bobbejane, en redding
Marli se verloofde, Wian Nieuwoudt, het van die rotslysie afgeval, maar was gelukkig ongedeerd en steeds vas aan sy ankertou. Hy kon terugklim na die beseerdes en noodhulp toepas. Nog twee klimmers het beenbreuke opgedoen, en een se hak het in die slag gebly.

Wat het die skielike rotsstorting veroorsaak? Marli vertel: “Ons het aanvanklik gedink dit was bloot klippe wat bo losgekom het. Maar toe ons ten einde laaste rustig word, het ons bobbejane se blafgeluide gehoor. En nie lank daarna nie het nog klippe afgestort. Daar was dalk babatjies naby wat deur die grotes beskerm is.
“Maar daardie blafgeluide wat in die kloof weergalm het, sal ek nooit vergeet nie. Wian het dit so mooi beskryf. Hy het gesê dit was die naaste aan oorlog wat ons nog ooit was: die bobbejane wat raas, die rotse wat op ons neerstort, en ons wat nêrens heen kon vlug nie.”
Die bobbejane se vreemde gedrag het ongeveer ’n uur of twee geduur. “Ons wou net oorleef,” vertel Marli. “Ons wou net die vallende klippe ontwyk.”
Deur die genade was een van hul medeklimmers ’n vrywilliger by die Mountain Club of SA – Search and Rescue, en hy het dadelik die regte mense in kennis gestel. Daar sou vir seker ’n helikopter nodig wees om al die beseerdes uit die kloof te kry.
Maar dit was mistig en hulle moes lank wag. En toe die helikopter uiteindelik opdaag, moes almal verbete aan die omringende rotse vasklou vanweë die wind wat die draaiende rotorlemme gemaak het. “Kompleet soos in die flieks,” glimlag Marli.

Terwyl die helikopter bo hulle gehang het, is ’n dokter en ’n paramedikus met toue afgestuur om die beseerdes te help. Dit sou ’n hele ruk duur en die helikopter het eers weer na ’n landingsplek teruggekeer. Nadat die beseerdes gemaklik gemaak is, is die helikopter weer ontbied. Almal kon met harnasse opgetrek word – behalwe Marli. Sy het intussen haar bewussyn verloor vanweë die sterk medikasie wat die dokter haar gegee het. Daarop is sy in ’n draagbaar vasgemaak en boontoe gehys.
’n Bitter pil
Marli sê sy was vaagweg bewus van haar omgewing toe sy uiteindelik by Stellenbosch Medi-Clinic aangekom het. Haar brein was eers weer helder toe sy die volgende oggend wakker word. Haar ouers, Johan en Paulette Dreyer, het deur die nag vanuit Namibië tot op Stellenbosch gery en was by hul dogter se bed toe sy wakker word.
LEES OOK: Matriekleerder loop weer ná groot bergfietsongeluk: ‘Ek het nou besef hoe groot God se krag is’
Aangesien Marli lank in ’n poel stilstaande water op die rotslysie gelê het, is haar been eers net skoongemaak. Daar was in ’n stadium selfs sprake van amputasie, maar toe haar infeksietelling daal, is daar bloot ’n pen in die been geplaas en plate en skroewe in haar enkel. Later het ’n veloorplanting gevolg.
“Dis net genade dat alles so uitgewerk het,” sê Marli vandag.

Toe moes die herstel- en rehabilitasieproses begin. Dit was nie maklik nie. Vir Marli, wat elke dag met mense werk wat beserings opgedoen het, was dit ’n bitter pil om te sluk. Nou was sy die afhanklike pasiënt. Boonop het die dokter haar daarop voorberei dat sy dalk nie weer sou kon hardloop of draf soos voorheen nie.
Drie maande lank moes haar been nie-gewigdraend gehou word. Daarna het ’n jaar lange fisioterapie-proses gevolg. Marli moes opnuut leer om haar been op die gewone manier te gebruik. “Dit het lank geduur voordat my selfvertroue teruggekeer het,” vertel sy.
Maar sy het nie opgegee nie. Tydens die opname van ’n LiG Getuig-podsending vertel sy dat sy en Wian reeds vier 21 km-wedlope voltooi het. Al het sy eers drie jaar ná die ongeluk weer begin draf.

Die emosionele impak wat die bergongeluk op haar gehad het, was ook groot. “Almal het my as hierdie sonskynmens beskou, die een wat altyd positief is, altyd lag. Ek het dit nou eers weer begin terugkry.”
‘Ek het geleer …’
“Ek het ná die ongeluk ’n ander deel van myself leer ken,” vertel Marli. “Ek was in ’n donker plek. Ek het perspektief verloor. Ek was depressief en het soveel vrae gehad. Vrae vir die Here, onder meer: ‘Hoekom ek?’
“Ek het ook baie geleer. As ek nou vir ’n pasiënt sê dinge sal beter word, weet ek daardie pasiënt wil dit nie noodwendig hoor of glo nie. Jy is dan nie eens lus om jou oefeninge te doen nie!
“Ek het ook vir lank geglo dat ek nie hulp met my emosies nodig gehad het nie. Ek wou nie ’n sielkundige spreek nie; ek het gedink ek sal oukei wees.”
Toe, iewers in 2025, volgens Marli haar moeilikste jaar, het sy eensklaps erge angs begin beleef. “Ek was paranoïes. Ek was bang om Checkers toe te ry, want ek was bang iets slegs gaan gebeur. Voorheen het ek nooit gedink aan dinge wat kan skeefloop nie; skielik was ek bang vir alles.
“Ek het toe ’n kundige gaan raadpleeg, en dit het my baie gehelp. Ek het ook besef dis oukei om te sê ek sukkel met angstigheid. Dit lyk dalk vir ander soos ’n klein dingetjie, maar vir my was dit iets groots.
“Ek het geleer jy moet jou tog nie bekommer oor wat ander mense dink nie. Dit was eintlik so ’n groot verligting om kwesbaar te kon wees. En die manier waarop Wian en my ouers my ondersteun het, sonder om oorbeskermend te wees, was vir my spesiaal. Hulle het my ook nie geoordeel nie. My ondersteuningsnetwerk was wonderlik.”
Wanneer Marli nou op alles terugkyk, is sy daarvan oortuig dat die ongeluk haar ten goede verander het. “Ek aanvaar niks meer as vanselfsprekend nie. Ek is oneindig dankbaar dat ek weer op my been kan trap en dit kan gebruik.
“Ek vra myself ook elke dag en in elke situasie dié vraag: ‘What would Jesus do?’ Toe ek daar in die kloof lê met die reuseberge om my, het ek opnuut besef daar is ’n Groter Een, en Hy is in beheer.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















