Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Van gebroke ontkleedanseres tot geregistreerde berader: ‘God se genade is groter as jou verlede’

Verwerping, trauma en herhaalde verkeerde keuses het Michelle Uren laat glo dat God haar nooit kan liefhê nie. Sy het probeer oorleef deur ’n ontkleedanseres te word, en ’n duur prys daarvoor betaal. Later het sy geworstel met die vraag of iemand soos sy ooit werklik vergewe kan word. Totdat sy op ’n dag besef het haar verlede bepaal nie haar identiteit nie. Vandag, ná ’n lang genesingspad, het Michelle ’n boodskap vir elke vrou wat skaamte ken of verwerping moes deurmaak. Vir hulle sê sy: “God se genade is groter as jou verlede.”

“Alle ontkleedansers het verhoogname, en ek was ‘Samantha’. Ek sou nooit kon dink ek sou vandag hier sit nie. As ek moet terugdink aan die mens wat ek destyds was …”

Meer as 20 jaar gelede sou jy Michelle Uren van Robertson snags in ’n nagklub aantref, of by ’n huis in Pretoria waar sy ’n private vertoning aangebied het. Vandag is sy besig met ’n opname van ’n LiG Getuig-podsending. Haar boodskap? Hoop.

‘God skryf niemand af nie’

Michelle is deesdae ’n vrywillige berader, en sy sê haar getuienis is eenvoudig: “God skryf niemand af nie. Hy raak ’n lewe aan wat deur trauma, verwerping en verkeerde keuses gekenmerk is, en verander dit. Hy vervang skaamte met genade, verwerping met identiteit, en gebrokenheid met ’n doelwit.”

Dié vrou met die ysblou oë het trauma, verwerping en gebrokenheid geken. Reeds bitter vroeg in haar lewe is haar pa oorlede. Sy was maar ’n 18 maande oue baba, ’n enigste kind.

Sy was in graad 5 toe sy saam met haar ma uit hul bekende omgewing na ’n karavaanpark in Gordonsbaai getrek het. Finansieel het hulle gesukkel.

Dié karavaanpark was haar huis totdat sy haar skoolloopbaan voltooi het. Op skool is sy erg geboelie. Daarby het sy ’n donker geheim met haar saamgedra: Toe sy ’n jong kind was, is sy deur ’n familievriend gemolesteer.

“Ek het dikwels gewonder waar God in al my seerkry is,” vertel sy vandag. “Dit het vir my gevoel asof Hy anderpad gekyk het.”

Sy was 20 toe sy swanger geraak het. “My familie het my verwerp. Toe was ek sonder verblyf en sonder inkomste.”

Michelle het blyplek gekry in ’n Pretoriase tehuis vir ongetroude moeders. Haar babadogtertjie is op 34 weke gebore.

‘Danseresse benodig, geen ondervinding’

 “Uit pure desperaatheid het ek toe ’n keuse gemaak wat ek in my wildste drome nooit sou kon voorsien nie. Daar was ’n koerantadvertensie: ‘Danseresse benodig, geen ondervinding.’”

Sy het die nommer geskakel en kort daarna ’n vriendelike vrou ontmoet wat haar bemoedig en vertroos het, en R500 kontant in haar hand gestop het. Sy het Michelle oortuig om vir haar te werk.

“Die eerste aand het ek met meer as R1 000 weggestap,” vertel Michelle. “Eensklaps kon ek verblyf en kos bekostig. My grootste vrees was dat die welsyn my dogtertjie van my sou wegneem, en die wete dat ek voortaan vir haar sou kon sorg, het my gewete gesus.

“Ek was aanvanklik geskok deur alles wat ek gesien het, maar later het dit makliker geword en ek het dit eenvoudig uit my gedagtes gestoot. Die geld hou jou vasgevang in daardie donker wêreld – alkohol, dwelms, prostitusie. Mans wat vroue ná ’n optrede ‘bespreek’. Ek is selfs aan die swinger-leefstyl blootgestel.”

Vier jaar lank het Michelle snags op verskillende plekke gedans om haar brood te verdien, en bedags het sy haar baba versorg. Tot een verskriklike nag. “Daar was ’n private vertoning by ’n huis,” vertel sy. “Die groep mans het reg aan die begin vir ‘ekstra’ gevra. In ons wêreld beteken dit seks. Ek het baie duidelik nee gesê. Hulle het my ná my optrede weer gevra, en toe ek weer nee sê, het hulle my verkrag.

LEES OOK: Verkragtingslagoffer: ‘Ek moes aanvaar dat die Here my nie van die aanval gered het nie’

“Ek het besef ek kan nie langer in daardie soort wêreld leef nie; ek sou my lewe verloor. Ek het opgepak en teruggekeer Kaap toe.”

Seer, selfverwyt, skuldgevoelens

Michelle was van plan om nuut te begin, maar al die seer, selfverwyt en skuldgevoelens het haar bly teister.

Daar was weer eens ’n klomp verkeerde keuses, en ná twee mislukte huwelike was sy op ’n pad van selfvernietiging. “Ek het soos ’n nikswerd gevoel. Hoekom maak ek soveel foute?

“Ek het gehoor God is lief vir almal, maar bly wonder hoe Hy vir mý kan lief wees. Hy kan my dalk vergewe, maar dit was baie moeilik om te glo dat Hy vir my kan lief wees.”

Tog het sy weer begin kerk toe gaan. Op ’n dag het sy ’n ver ent gaan stap. Sy vertel: “Terwyl ek so geloop het, het ek God gesmeek om my te help. Ek het geen hoop meer gehad nie. Maar in daardie oomblikke het God my met sy genade aangeraak, en Hy het my diepste seer saggies aangespreek.

“Net daar het ek besef: My identiteit lê nie in die verkeerde keuses wat ek gemaak het nie, en ook nie in dit wat mense van my dink nie. My identiteit is slegs in Christus geleë.”

Stadig maar seker het Michelle die lang pad na genesing aangedurf. “Ek het vir berading gegaan en deur al my seer gewerk. God was elke tree saam met my.”

‘Om ’n verskil te maak’

Vandag straal vrede en vreugde uit hierdie vrou wat al soveel seer beleef het. Haar oë blink as sy van haar onderwyser-man praat, met wie sy al nege jaar lank getroud is.

Sy het nooit ander kinders gehad nie, en haar vroeggebore dogtertjie is vandag 33 jaar oud en self gelukkig getroud. “My dogter moes ook ’n helingsproses deurmaak vanweë haar ma se verlede. Vandag is ons baie na aan mekaar. Ek spot altyd en sê ons twee het saam grootgeword.”

Toe haar dogter in graad 12 was, het Michelle besluit om haar droom om ’n graad te verwerf te verwesenlik. Sy het in 2014 ’n graad in kriminologie by Unisa verwerf. Hierna het die Universiteit van Kaapstad haar ’n beurs aangebied waarmee sy in 2017 ’n honneursgraad in kliniese maatskaplike werk voltooi het. “My doel hiermee is om terug te gee. Om ’n verskil in ander se lewe te maak.”

God se genade

Michelle praat graag oor haar familie. “Dis vir my hartseer dat my oupa dood is voordat ons met mekaar versoen is. Hy was ’n lekeprediker, en dit was destyds sý opdrag dat ek verwerp moes word.

“Maar ek is so dankbaar dat ek en my dogter met my ma en ouma herenig is. My dogter het die kans gekry om hulle te leer ken. Ons beleef vergifnis van albei kante. Ek weet ons almal maak foute en ek veroordeel nie my familie vir wat hulle gedoen het nie. Ek het immers ook ’n verlede …”

Volgens Michelle is daar slegs een rede waarom sy vandag in hierdie ateljee kan sit – God se genade. “Ek is spyt oor die verkragting wat ek moes deurmaak, maar eintlik het dit my lewe gered.

“Ek het ’n boodskap van hoop vir elke vrou wat verwerp voel: Baie vroue wroeg oor verkeerde keuses wat hulle gemaak het toe hulle probeer oorleef het. Ek is hier om te sê dat God niemand afskryf nie. Hy is ’n God van genade.

“Ek wil vertel hoe groot Hy is. As Hy mý kon red, kan Hy dit vir enigiemand doen.”

*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►