Dis nou 17 jaar sedert daardie verskriklike dag toe Santi Britz van Potchefstroom verkrag is. Sy kan steeds nie daaroor praat nie. Sy vertel wel hoe die trauma haar geliefdes gefolter het en hoe dit alles ’n geloofstryd by haar ontketen het.
Santi Britz (nou 64) is op 21 Januarie 2009 wreed verkrag. Haar man was in ’n hospitaal se hoësorgeenheid toe ’n vreemdeling toegang tot hul huis in Potchefstroom verkry het.
Dis vir haar nou, ná 17 jaar, steeds te moeilik om daardie dag te herbesoek en daaroor te praat. Dit wat daarna gebeur het, sal haar ook vir ewig bybly. Sy onthou: “Die dae ná die verkragting was vol verdere pyn en vernedering. Ek is gedwing om die trauma oor en oor te beleef. Ek moes telkens nóg ’n verklaring aan die polisie oorhandig ten einde ’n arrestasie moontlik te maak. Daarby het die vernedering van die forensiese mediese ondersoek soos ’n sekondêre verkragting gevoel. Ek het ook newe-effekte van die antiretrovirale medikasie beleef, soos ook van die ander middels wat ek noodgedwonge moes gebruik om my teen seksueel oordraagbare siektes te beskerm.
“Wanneer ek nou daaroor nadink, besef ek dat dit nie slegs mý reis is nie, maar ook dié van ander slagoffers wat so ’n verskrikking moes deurmaak Dis ’n reis wat verwoes, dis vol ontkenning, skok, afgryse en pyn.
“In my geval het dit, ná maande se lyding en ’n lang dag in die hof, uitgeloop op ’n skuldigbevinding van die booswig en ’n vonnis van lewenslange tronkstraf.”
Die bitter hoë prys
Die prys was hóóg: Haar gesin en familie is erg getraumatiseer. Haar kinders was verpletter; hulle is aan dinge blootgestel wat geen kind ooit moet beleef nie. Hulle het nie die vermoë gehad om sin te maak uit dit wat met hul ma gebeur het nie. En dit het haar hart gebreek om hul pyn te sien.
“Almal wat my liefhet, is deur hierdie afskuwelike daad tot stilstand gedwing. My man was tydens die voorval in ’n hospitaal se hoësorgeenheid; hy is ses weke tevore met kanker gediagnoseer. Ons almal het ná dié diagnose reeds swaargekry, en toe tref die ondenkbare ons.”

Dit was vir Santi besonder moeilik om die nuus van die verkragting aan haar ouers oor te dra. Sy kon dit eenvoudig nie doen nie. “Ek het toe my seun gestuur om hulle daarvan te sê.
“Toe ek by my huis kom ná die vernederende mediese ondersoek, het ek hulle daar aangetref. Daar was ’n doodsheid in hul oë. ’n Ouer behoort nooit so iets te beleef nie. In daardie eerste oomblikke ná die weersiens het ons die pyn saam beleef. Dis tot vandag toe moeilik om die rou emosie van daardie dag in woorde vas te vang …”
’n Brug oor die donkerte
“Die verkragting het my familie kwesbaar gelaat, maar ons ook nader aan mekaar gebring. Saam moes ons leer om ’n brug oor hierdie donkerte te bou.”
LEES OOK: ‘Moenie jou pyn in stilte dra nie,’ sê verkragtingslagoffer wat 30 jaar lank geswyg het
Santi se man Pieter (nou 72) was in daardie eerste jaar ná die gruwelike ondervinding ’n rotsvaste anker in haar lewe. Ten spyte van sy eie uitdagings, liggaamlik en emosioneel, het hy haar gebrokenheid verstaan.
“Hy het my nooit probeer ‘reg maak’ nie,” vertel Santi. “Hy het nooit my pyn probeer wegpraat nie; hy het net by my gebly. In die moeilikste oomblikke, dié tye wanneer die herinneringe my oorweldig het, was hy daar. Deurentyd teenwoordig, geduldig en vol deernis.
“Hy het my die ruimte gebied om te rou, om kwaad te wees. Hy het verstaan dat ek bang is. Hy het my nooit aangespoor om gouer en vinniger te herstel as wat my hart my dit toegelaat het nie.
“Daar het dae gekom waarin ek skaars kon funksioneer. Soms kon ek net eenvoudig nie voortgaan nie. In sulke dae, te midde van aaklige terugflitse, het hy my gedra, my altyd van sy teenwoordigheid verseker.
“En dit alles te midde van sy eie probleme. Dit het ons destydse beloftes aan mekaar keer op keer bevestig.”
’n Geloofstryd
Dit was ’n paadjie wat sy ook nie sonder die Here kon gestap het nie. “My verhouding met die Here is ’n baie belangrike deel van my lewe.
“Dit was wel nie so dat ek ná die verkragting eensklaps nader aan die Here was nie. Inteendeel, ek was teleurgesteld in Hom. Die hele ding het my verbyster en ek kon eenvoudig nie verstaan waarom die Here, vir wie ek so bitter lief is, my nie gered het nie.
“Tydens die verkragting het ek gegil en geskreeu, ek het die Here gesmeek om my te kom help. Hy het nie opgedaag nie.
“Dit het ’n diep geloofstryd in my ontketen. Al was ek nie kwaad vir Hom nie, het ek ’n gevoel van totale godverlatenheid beleef. Dit was ’n moeilike tyd.
“Maar ek het Hom toe weer gevind, in die natuur. Ek het gesien watter wonderwerke Hy doen.”
’n Baken van hoop
Na afloop van die traumatiese hofsaak het Santi besluit om iets te probeer doen aan ander verkragtingslagoffers se lyding. Sy vertel: “Ek het ’n nie-winsgewende organisasie, onder God se leiding, op die been gebring. En sedertdien kon ons duisende verkragtingslagoffers bystaan.”
The Initiative for Dedicated Upliftment and Care (IDUC) het ontstaan toe haar dogter se au pair, Debbie van Wyk, vir Santi ’n plastiek-eendjie as troos gegee het. Sy sê sy het in daardie stadium nooit besef watter uitwerking hierdie eendjie op haar en ander se lewe sou hê nie. Dié eenvoudige speelding sou niks minder nie as ’n baken van hoop word.
“Ek wou graag ander slagoffers bystaan wat nie die soort ondersteuning gehad het wat ek gehad het nie.
“Een so ’n slagoffer was ’n pragtige vyfjarige dogtertjie wat moes toekyk hoe haar ma brutaal in hul huis verkrag is. Dié trauma het tot gevolg gehad dat die kind ophou praat het. Childline het my gekontak en gevra of ek ’n pad saam met die mamma en die dogtertjie sou stap.
“Ek het dit gedoen, en 18 maande later is ek weer gekontak nadat die polisie die verkragter vasgetrek het. Die kind het steeds nie gepraat nie. Die owerhede het haar getuienis broodnodig gehad.
“Ek is gevra om tyd saam met die kind deur te bring, en ek het besluit om die eendjie in te span om haar te help ontspan. Ek het haar vertel dat ek dieselfde pad as haar ma moes loop. Ek het die eendjie op haar skoot neergesit – en toe het sy die hele verhaal aan die eendjie vertel.
“Twee weke later het sy in camera getuig, met die eendjie in haar arms. Die verkragter is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.”
‘’n Ander ek’
Voor die verkragting, sê Santi, het sy aan haarself gedink as ’n dinamiese, lewenslustige vrou, ’n sterk ma, vol planne, en met die vermoë om ander mense op te hef.
“Ná die verkragting het my wêreld onherkenbaar verander. Veiligheid is omskep in ’n wêreld vol onsekerheid en kwesbaarheid. ’n Skielike oorverdowende stilte waar daar eens lig was. Versigtigheid het vrymoedigheid vervang.
“Onskuld is deur wysheid vervang. Sekerheid het plek gemaak vir nuwe moed. Ék het nie verander nie; ek het net ontwikkel tot ’n nuwe ek.
“Ek is nie minder as voorheen nie; tog is ek nou anders. En in daardie anders wees lê nuwe lewenskrag.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















