Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

“Ag, nee!” het nooit die laaste woord nie

DEUR MILANIE VOSLOO

“Ag, nee!”

Was dié twee woordjies ook die afgelope 18 maande meer as ooit ’n gereelde deel van jou woordeskat? Daardie kere toe jy en jou gesin weer eens slegte nuus gekry het?

Toe julle nóg ’n spesiale geleentheid moes kanselleer? Toe julle nie by die familie kon uitkom nie?

Toe jy weer ’n onpersoonlike, glimlag­lose masker-gesprek probeer voer het; toe jy van nog iemand gehoor het wat met verliese en pyn leef; toe daar nog ’n mat onder jou voete uitgepluk is?

LEES OOK: ‘Ons kry ’n tweede lewe’

Sommige mense het die vermoë om, ongeag die irriterende klippies in hul skoen, enige situasie ligvoets en positief te hanteer. Daar is ander vir wie dit moeiliker is om deur die winter te kom. Mense wat sukkel om vas te hou aan die belofte dat die lentebloeisels weer sal deurbreek.

As ons egter terugkyk op hierdie vreemde, ongekarteerde roete waarop ons ons bevind het, sal ons sien hoeveel onverwagse, onbeplande en onontdekte skatte daar wel op ons reis was. Daardie keer toe ons opnuut besef het wie en wat regtig saak maak. Daardie skielike raaksien van klein, onverwagse oomblikke vol seën. Die bewustelike raakleef van God se genade wat, ondanks alles, elke dag vir ’n korsie brood op ons tafel gesorg het. Soms was dit slegs krummels manna; ander kere was dit dikker snye brood van liefde wat ons op ’n nuwe manier aan Hom verbind het, en aan onsself en aan mekaar.

Ja, God was daar.

Toe ons sin in die vreemde gebeure gesoek het, het Hy aan ons ’n groter sin-gewer-hart gegee wat op ’n nuwe manier na mekaar uitreik.

LEES OOK: Die liefde wat jou oë laat blink

Toe verslaentheid en moedeloosheid ons onkant gevang het, het Hy op allerlei maniere boodskappe vol troos, bemoedi­ging en gerusstelling aan ons gestuur.

Toe ons wêreld telkens wou intuimel, het Hy ons regop gehou met sy soort genade-sement, hoe onverklaarbaar dit ook al vir ons was.

Kom ons kyk vandag terug en sien al die oomblikke raak waarin God duidelik teenwoordig was. Waarin Hy ons op sy tyd en sy manier aangeraak het. Waarin Hy uitkoms en antwoorde gegee het, en ons met sy liefde en trou verras het.

Onthou: God bly in beheer by elke “ag, nee!” Juis in sulke tye skep Hy eindelose “ja’s”. Só bevestig Hy dat Hy jou Rots bly wat nooit ophou om jou vastigheid te wees nie. Wat jou altyd en in alle omstandighede liefhet.

Die God wat altyd sorg.

Uit die Bybel

“Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is Een wat voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.” (Deut 31:8)

  • Milanie Vosloo is ’n topverkoper-skrywer van verskeie geestelike boeke. Sy is die stigter en besturende direkteur van Uppe Marketing. Haar passie is om mense te inspireer. Sy wil deur die krake van haar eie menswees iets van God se lig aangee. Sy hou baie van skryf, fietsry en die buitelewe. Sy onderneem gereeld fietstoere saam met haar man. Kontak haar by mv@uppe.co.za
  • Dié rubriek het oorspronklik in die winteruitgawe van die gedrukte LiG verskyn.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.